Tafelberg GemeenteSkriflesing: Filippense 2: 5-11
Tema: Kersfees in die lig van lydenstyd
Met min dinge loop ‘n mens jou so maklik vas soos met die Kerstyd. Omdat die sekulêre wêreld die Kerstyd totaal oorgeneem het en gaan vul met ‘n eie inhoud wat totaal bots met dít waaroor Kersfees werklik gaan. Gelowiges-in-Christus is totaal omring met die boodskap vd wêreld. Jy kan eenvoudig nie daarvan loskom nie. Die wêreld se idee van Kersfees is iets van ‘n oppervlakkige vreugde, liggies & versierings, geskenke en geld-uitgee. Volgens die wêreld is Kerstyd kamma die tyd om om te gee vir iemand anders. Alles is ingestel op sentiment en geldmaak & winsbejag. So maklik kan gelowiges ook so oor Kersfees begin dink. Natuurlik gaan dit inderdaad oor ‘n saak van blydskap. Maar, dit is ‘n blydskap wat ‘n mens nederig maak. Veral as jy begin verstaan waaroor Kersfees regtig gaan. Ons DINK baie keer ons verstaan waaroor dit regtig gaan. Ons het mos grootgeword met die Bybelse feite. Dit gaan mos oor die Seun v God wat mens geword het. NATUURLIK!! Wie weet nou nie dit nie? Dit beteken egter nog nie dat ‘n mens werklik verstaan nie!! ‘n Mens kan nie die diepte van die Kersgebeure verstaan, alvorens jy nie raaksien dat die LYDING van ons Here Jesus reeds hier begin het nie. Dit is presies hoe Filippense 2 die koms van die Here na hierdie aarde vir ons oopmaak. Wanneer Hy na die aarde kom, kom Hy in die gestalte van ‘n slaaf, nie van ‘n Koning nie!!
TEMA: Kersfees in die lig van Lydenstyd
1. Die vernedering van Jesus in die Kersgebeure
2. Die betekenis wat Jesus se vernedering in die Kersgebeure vir ons het
1. Die vernedering van Jesus in die Kersgebeure >> Ons Skrifgedeelte beskryf die allergrootste verrassing waarmee die Here Sy volk & wêreld kom verras het. ‘n Absolute onverhoedse verrassing. Alhoewel die volk Israel baie goed geweet het vd Messias se koms. Hulle het immers die Skrifte gehad. Tog het hulle die Skrifte verkeerd verstaan. Hulle het ‘n Messias verwag wat slegs ‘n blote mens sou wees. ‘n Manjifieke leier. Hulle het gedink hy sal koning word in Jerusalem soos Dawid was. Hulle het gedink hy sal hulle Jode bevry vd Romeinse oorheersing.
Toe kom die grootste verrassing denkbaar. Eerstens was dit God self wat aarde toe gekom het. Jesus is immers die Seun van God. Dit het niemand ooit verwag nie. Tweedens het Hy hoegenaamd nie soos ‘n Koning gelyk nie, maar soos ‘n slaaf. Hy het wel soos ‘n Koning gepraat, maar Hy het soos ‘n slaaf gelyk. Dit was ‘n verrassing wat die Jode glad nie kon verwerk nie.
Dit is – van die os op die jas – ook een van die sterkste bewyse van die absolute Goddelike inspirasie van die Skrif, naamlik dat die Bybel wel deur mense geskryf is, maar dat die inhoud hoegenaamd nie ooreenstem met die mens se manier van dink nie. Watter mens sou ooit kon droom dat die Verlosser vd wêreld soos ‘n slaaf sou lyk en die pad van vernedering sou loop?? Watter mens sou Filip 2: 5-11 kon uitdink?? Watter mens sou Kersfees in verband kon bring met die lyding van ons Here Jesus?? Wie sou kon dink dat die lewende God vd hemel Homself sou kom verneder in Jesus Xp?? Die lewende God: Homself verneder?? Ons menslike logika draai dwars wanneer dit by hierdie tipe sake kom…
Maar, wanneer jy iets hiervan verstaan, val die hele Kersverhaal vir jou oop. Dan sien jy al die bekende dinge vd Kersverhaal in ‘n nuwe lig. Dinge soos byvoorbeeld waarom Jesus in ‘n arm familie gebore moes word. Waarom Hy in ‘n krip moes lê – die voerplek van diere. Waarom daar oënskynlik nie eens ‘n vroedvrou was om te help met die geboorte nie. Waarom Hy in die gehuggie Betlehem gebore is en in die veragte Nasaret grootgeword het. Waarom nie die Paleis-elite van Herodes die geboorteberig vd engele gehoor het nie, maar vuil skaapwagters. Waarom daar ‘n spesiale ster verskyn het, maar Sy eie volk volg dit nie. Die enigste mense wie dit volg is heidense sterrekykers. DUS: Die status van ‘n bediende, ‘n kneg…
Wat ‘n geweldige vernedering moes dit wees vir die Seun van God. Hy was in die gestalte van God, maar Hy het dit nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie. Hy het dit vrywillig prysgegee. Hy het Homself uit vrye wil prysgegee.
Onwillekeurig kom die vraag by ons op: WAAROM dan dit alles? Waarom sulke vernedering?
2. Die betekenis wat Jesus se vernedering in die Kersgebeure vir ons het >> Ons Here Jesus moes slawewerk kom doen op aarde. Daarom het Hy die gestalte van ‘n bediende aangeneem. Hy het letterlik vuil-werk kom doen. Hy moes Homself kom besoedel. Om ons PUIN kant en klaar op te ruim. Wanneer ons só na ons Here Jesus in Sy vernedering kyk, dan sien ons meteens ook iets van onsself. Sien hoe geweldig ons eie verdorwenheid regtig is. Baie dieper as wat ons ooit sal wil erken. Maar, kyk na Jesus in die gestalte van ‘n slaaf, en jy sien die naakte FEITE – oor jouself!
Dit is waarom Jesus ‘n MENS geword het. Die vernedering was NIE om ‘n MENS te word nie. Daar is niks slegs aan om MENS te wees nie. Wat was die vernedering dan? Om ‘n mens te word in die gestalte van ‘n slaaf. ‘n Bediende. Een wat vuil-werk kom doen. Die KONING wat lyk soos ‘n slaaf.
Daar was geen ander manier om ONS te bevry van ons verlorenheid nie. Hy moes tot op ons vlak kom. Hy moes MENS word presies soos wat ons is. Hy red ons deur ‘n dienskneg te word wat die skuld vir alles kry EN al onreg verduur. Hy red ons deur Homself te verneder. Hy red ons deurdat Hy self ‘n hele paar tree terug gee.
Stel uself dit voor: ‘n KONING wat TERUGSTAAN….. En daarby nie net ‘n Koning nie, maar DIE HEMELSE Koning. ‘n Mens sien iets hiervan in die OT in 1 Samuel 8 waar die volk Israel die Here as Koning verwerp en ‘n aardse koning wil hê, soos al die ander volke het. Dan lees ons dat die Here hulle hul sin gee. Die Here staan terug vir ‘n ander koning. Hy offer op. Hy buig agteroor. Sodat SAUL kon koning word.
Dit is wat in Betlehem gebeur het. Die Koning wat bereid is om terug te staan. Hy is nie ‘n gevoellose Robot wat soos ‘n stootskraper oor mense loop nie. Hy is oneindig jammerhartig. Dit is dikwels ONS wat soos stootskrapers oor HOM loop, ja. Maar, in Betlehem sien ons hoe die hart van die lewende God klop. Hy red ons/ Hy ruim ons puin op/ Hy maak ons skoon – deur Sy eie vernedering.
Het die besef al regtig tot u siel deurgedring dat God die Vader vir ú persoonlik in/met Jesus se vernedering werklik skoongemaak het?? Dit wat op Kersdag gebeur het was nie maar net ‘n mooi gebaar van liefde na ons kant toe nie. En nou moet ons onsself tot in die hemel opdompkrag kry deur ons kant te bring nie!! O nee!!! DAAR (op Kersdag) het die slawebediende REEDS u lewe se puin opgeruim. U redding is DAAR volmaak voltrek. Indien ons nog met PUIN in ons lewens worstel is dit omdat ons nie GLO dat ons in Betlehem/ Golgota/ Paassondag verlos is nie. Ongeloof sê mos vir die Here: “Dit is nie waar dat U my verlos het nie”. Ongeloof gee God se geskenk aan Hom terug. En wat gebeur dan? Dan BELEEF jy nooit die verlossing nie! Maar, wie van ons sal so vreeslik dom wees?? Kan dit wees dat enigeen hier teenwoordig só onbeskryflik dom sal wees?
Kersfees is ‘n tyd van baie liggies, kleure en vrolikheid. Dit is nie verkeerd dat ons bly is oor Kersfees nie. Veral as ons verstaan dat die lewende God met Kersfees Sy uitverkorenes kom red het en die hel kwytgeskeld het. As ons dit verstaan, is die liggies vd wêreld eintlik nog hopeloos te min!
Maar, terwyl ons feesvier, mag ons nooit vergeet dat Jesus se menswording die begin van Sy lyding was nie. En, dat dit as gevolg van ONS sondepuin was, wat Hy vuil-werk moes kom doen. Daarom is Kersfees ‘n nederige dankfees.
‘n Nederige Dankfees, waar ons bid: “Here, ons is so jammer dat ons sondepuin U vernedering gekos het. Maar dankie dat U nie teruggedeins het nie. Dankie dat U gekom het om ons met God se genade te verras. Laat ons ook teenoor mekaar ‘n tree terug gee. Agteroorbuig met dieselfde gesindheid as wat daar in U hart is.”
GEBED
Here, juis dit is ons gebed vanoggend. Dankie dat U nie teruggedeins het nie. Volgens Filip 2 het U doelbewus Uself laat kom na die aarde toe. Daardeur het U agteroorgebuig om ons te red. En, U HET ons ook volmaak gered. Deur U vernedering, in die gestalte van ‘n slaaf, HET U ons tot U kinders gemaak. U het ons sonde-puin opgeruim. Die hele wêreld se Kersfeesliggies is te min om ons vreugde te verwoord oor dit wat U gedoen het. Ons is dankbaar bly. Ons is ootmoedig en nederig vol vreugde. Wanneer ons raaksien hoedat U agteroor gebuig het ter wille van ons, wat U vyande was, dan besef ons watter gesindheid ook in ons moet wees – en KAN wees. Dieselfde gesindheid as wat in U was/is. Die gesindheid van prys te gee. Ja, selfs ons belangrike regte prys te gee. Werk in ons deur U Gees. Werk diep in ons. Ons staan diep beskaamd oor onsself, wanneer ons onsself spieël in U gesindheid. Ons wil ons lewens opreg weer aan U oorgee. Ons wil ons harte aan U oorgee. Omdat U ons harte oorwin reeds oorwin het, toe U Uself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. Wil U gee dat ons in hierdie week heel bewustelik met U sal lewe. Uit dankbaarheid. Gee dat ons hierdie Kersgety sal vier, nie soos die wêreld voorskryf nie, maar vanuit die lig wat ons van U Woord ontvang het. Amen.