Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

SWART BART.

 

Hy was ’n dief. Sy naam het vrees by mense gebring. Hy het die koets-roete vir dertien jaar geterroriseer. Die mans wat die roete en die koetse moes bewaak het hom gevrees. Sy naam het sinoniem geword met vrees op die roete.

 

Hy het tussen 1875 tot 1883 die sakke van nie minder as nege-en-twintig koetse gesteel. Hy het dit elke keer gedoen sonder om een skoot te skiet.

 

Sy wapen was sy reputasie en sy ammunisie was sy intimidasie.

 

Nooit het enige van die mense hom gesien nie. Die gereg kon hom nie opspoor nie en niemand kon ’n skets van hom maak nie. Nooit het hy geskiet of ‘n gyselaar geneem nie.

 

Swart Bart was gewapen met die dodelike wapen – VREES.

 

Die gereg het Swart Bart wel opgespoor na dertien jaar. Ja, daar was ook niks om voor te vrees nie, want die dief was toe nooit ’n bloeddorstige man nie. Hulle het ’n gemiddelde man gevind wat ’n apteker was van die dorpie Decatur.

 

Die man wat vir die mense geskilder is in die koerante as ’n wilde man op ’n perd wat oor die vlaktes jaag was eintlik BAIE BEVREES vir perde. Hy het nooit op ’n perd gery nie en het altyd net in ’n perdekar gery.

 

Swart Bart was Charles E. Boles , die man wat nooit ’n skoot geskiet en nooit sy geweer gelaai het nie.

 

VREES het gemaak dat baie kinders van die Here hul vreugde in Christus verloor. Vrees vir die dood, vrees vir mislukking, vrees vir God, vrees vir more, – en so gaan die lys aan en aan. Vrees se doelwit is om ’n lafhartige vreugdelose mens te kweek. Vrees wil graag jou oë van die Here neem!

 

JOH. 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

 

JAK. 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

 

2 TIM. 1:7  Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

 

GEBED

 

Dankie Here, dat U die vrees uit my lewe neem. Al my vrees gee ek aan u en rus in U. AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00