TAFELBERG GEMEENTETema: Sy koms is vreugde (Nagmaal)
Skrifgedeelte: Jesaja 25: 6-9, Openbaring 21: 1-8; 22: 20-21
Eenmaal kom die groot ontmoeting. Dán sal die mense sê: “Kyk daar, dit is ons God.” Dalk het ú ook al uitgesien om iemand vir die eerste keer te ontmoet, iemand van wie u al baie gehoor het, maar nog nooit in lewende lywe gesien het nie. Wanneer jy hom/haar dan vir die eerste keer sien, sê jy: “Kyk, dis nou hý/sý”. Iets daarvan sit in die vreugde van Jesaja 25. Behalwe natuurlik dat hierdie ontmoeting onmeetbaar groter is as enige aardse ontmoetings wat ons ken – al sou dit hoe opwindend wees. Hier gaan dit oor die lewende God. Ná afloop van Sý koms, sal daar niks meer oor wees om voor te wag of om na uit te sien nie. Want: die dood sal heeltemal weg wees – en die trane afgevee wees. Alle smaad sal vir altyd vernietig wees. Dan is daar niks verder meer nodig om te verwag nie.
‘n Mens kan eintlik die hele boodskap van die Bybel saamvat met díé woorde: Die koms van die Here – wat heil bring. Die Ou Testament is die BELOFTE van Sy koms. En die Nuwe Testament is die getuienis van die vervulling van die belofte. Maar, die NT wys vir ons hoedat die belofte van die EEN koms in die OT, in werklikheid uiteenval in TWEE komste: Die eerste: Sy vleeswording in Betlehem. Die tweede: Sy finale koms. Tussen-in vind nog die koms van die Heilige Gees plaas. Hy wat ons vasbind aan Jesus se verlossing en wat in ons harte die verlange skep na Jesus se tweede koms en ons swakheid te hulp kom. In hierdie tussen-fase het die gebrokenheid van die lewe nog nie verdwyn nie. Die nasleep van die sondeval is nog oral sigbaar & voelbaar – alhoewel die sonde volkome vergewe is kragtens Jesus se eerste koms en Sy dood & opstanding. Jesaja 25 sê dit aangrypend, 800 jaar vóór Christus: “Op hierdie berg sal die doek vernietig word – die doek wat oor die nasies gelê het”. Watter doek? Die dood en trane en smaad (v 8). Dít is die doek wat oor alle nasies lê en wat almal toemaak & mense verstik (v 7). God vernietig dit eiehandig. En kyk mooi wáár Hy die doek vernietig: Dit is OP DIE BERG vernietig (v 7). Die berg Golgota. Dáár het alles gebeur. Dít is waar die feesmaal begin het – die fees met net die beste kos en geurigste wyn (v 6).
En dan kom Openbaring 21 om vir ons te wys wat gaan gebeur by Jesus se finale koms. God se permanente woonplek sal by die mense wees. Hy kom om vir altyd te bly. HIER sal alles finaal tot rus kom – AL die honderde beloftes. Dink byvoorbeeld aan die tabernakel en tempel uit die OT-tyd, hoedat dit uitgebeeld was dat God deur die offerbloed by Sy mense woon. En só was daar letterlik 100de beloftes. Álles sal finaal tot vervulling en rus kom wanneer Jesus finaal verskyn. Wanneer die drie-enige God bý ons woon, is niks verder meer nodig nie.
Hier kom ook al ons vrae finaal tot rus. Ons worstelinge met die Here. Ons swaarkry en vrae. Vrae soos: “Waarom Here? Ons verstaan nie Here. Waarom laat U dit toe?” Vrae wat ons tot in ons fondamente geskud het. Vrae en stryde wat ons soms verbitterd en opstandig gemaak het – tot naby wanhoop. ALLES sal dán finaal tot rus kom en finaal stil word. Al die geroep en gehuil word finaal stil. Die geroep vanuit die dieptes word finaal stil. Die klagtes uit die Psalms. Die trane in die nag gestort – soms in stilte. Die seer in ons lewe. Die seer in ons kinders se lewens. Al die gehuil sal dan finaal ophou. Want, die Here kom en vee sélf die trane af. Daarom sê Jesaja: Hierdie ontmoeting, hierdie koms, IS pure VREUGDE. “Kyk!! Dáár, dit is ons God. Dit is die Here. Laat ons bly wees en juig.”
Verstaan u nou waarom Jesus se heel laaste woorde in die Bybel begin met die woord JA!? “Ja! Ek kom gou”. Sy heel laaste woorde in Sy geskrewe Woord, Sy Woorde net voordat Hy kom met Sy vreugdekoms, is: JA! Die hele evangelie lê daarin opgesluit. Hý is die JA van God. Die JA op al die beloftes, herinner Paulus ons.
O, daar is soveel keer vir Hóm NEE gesê tydens Sy eerste koms na die aarde. Reeds vanaf die krip, toe Josef en Maria moes hoor: “Jammer, daar is geen plek vir julle hier nie.” Tot by die kruis, toe Hy moes hoor hoe die goeie kerklidmate skreeu: “Weg met Hom, laat liewer vir Barabbas los.”
Tóg begin Hy Sy laaste woorde aan ons met JA. Hy draai nie Sy rug nie. Hy laat nie in die steek nie. Hy bevestig dát Hy kom. Dis ‘n JA vir u & my, al loop ons in ons lewe soveel NEE’s op die lyf – van alle kante. Al voel ons soms verwerp. Al sê óns dikwels NEE. Al sê ons soms NEE vir onsself.
Opvallend: Jesus sê nie: “Ek SAL kom” nie. Hy sê: “Ek kom”. Die teenwoordige tydsvorm. Hy sê dus eintlik: “Ek kom alreeds.” Soos die mamma vir haar kind sê – wanneer die kind in die middel van die nag benoud roep – “Ek kom”. Met ander woorde: “Ek is op pad.” En onmiddelik is kind weer rustig. Daar kom bedaring.
Dit is absoluut waar dat daar ‘n klomp dinge is wat ons benoud maak en ons kele laat toetrek vir die toekoms. Dit is waar dat daar maar baie onsekerheid is.
Maar, dan kom daar ‘n rykdom ons tegemoet uit Jesus se heel laaste woorde: Hoor Hom: “Toemaar, Ek kom. Alles sal goed afloop.” Hoor u die rykdom? Hy sê JA en nie NEE nie.
En dit is presies hierdie “JA” wat Hy sigbaar & tasbaar kom versterk met die tekens van die Nagmaal. Onthou: Die sakramente is goddelike waarborge. En ‘n waarborg verseker ‘n mens van iets. Met die brood & wyn kom Hy ons kleingeloof tot hulp en sê: Net so séker as wat jy met jou mond eet & drink – net so seker sal My vreugdekoms ‘n finale einde bring aan dood & trane. Wees verseker dat Ek kom – al is dit nog ‘n kwessie van tyd. Sien jy hierdie brood & wyn? Dit is uitroeptekens agter my groot JA-woord. Jy mág dit glo.
Dr. Chris Saayman
NG Kerk Tafelberg, Buitenkantstraat 39, Kaapstad
Tel 0215516704
Sel 0832321817
Epos saay@isales.co.za