TAFELBERG GEMEENTE

Skrifgedeelte: Openbaring 1

Net nadat die sondeval plaasgevind het, het God byna onmiddelik ‘n belofte gemaak (Gen. 3:15). Hy het beloof dat daar ‘n manlike persoon uit Eva se geslag sal kom wat die slang se kop sal vermorsel, alhoewel die slang Hom in die hakskeen sal byt. Dáár is die uiteindelike uitslag van die geskiedenis reeds vasgelê. Alhoewel die slang ‘n verwoede stryd voer en byte in alle rigtings gee, ís sy kop reeds vermorsel deur die Here Jesus Christus. Só sal die huidige geskiedenis van die mensdom uiteindelik ook eindig: ‘n vermorselde slang en God se beloofde Man wat heers. En álmal wat aan hierdie Jesus behoort is in die wenspan saam met Hom. Dit is die boodskap van Openbaringboek, soos reeds in ‘n neutedop in Gen. 3:15 gegee.

Kyk net mooi: Dis ‘n openbaring van wie/wat JESUS is (v.1). Die boek (eintlik ‘n brief) kom van Jesus, ja, maar dit openbaar ook Wie Hy is. Dit ‘n getuienis van Wie Hy is (v.2) en daarby is dit God se Woord én dis ‘n profesie (v.3). Sien u watse soort ding is ‘n profesie? Dit is die getuienis van Jesus! Dit het niks te make met toekomsvoorspelling nie! Geen fortuinvertellery nie! Geen ware profeet was nog ooit ‘n toekomsvoorspeller nie. Die OT profete was verkondigers van die Christus wat sou kom! Net so vandag: God se ware profete is Christusverkondigers. Elke keer wanneer enige gelowige die suiwere boodskap van die Here Jesus met mense deel, is dit profesie. Daarom is Openbaring ook nie ‘n boek wat toekoms voorspel en misterieuse geheime openbaar nie. Dis nie ‘n bangmaakboek nie. Dis ook nie ‘n boek waarmee ons berekenings kan maak van wanneer die wederkoms sal plaasvind nie. Openbaring handel ook nie oor die tydjie net voor die wederkoms nie. Ja, dit gaan oor die eindtyd, maar onthou: Die eindtyd het reeds met Jesus se éérste koms begin! Die eindtyd is die héle tydperk tussen Jesus se eerste koms en Sy wederkoms. Onthou net wánneer het die gelowiges – aan wie Johannes hierdie boek in die eerste plek geskryf het – gelewe! Ja, 95 nC. Net 50 jaar ná Jesus se hemelvaart. Wat sou die brief vir húlle beteken het indien dit eintlik sou handel oor die tydjie net voor die wederkoms?! Nee, Openbaring is net so aktueel vir hulle wat in 95 geleef het as vir ons in 2007, want dit openbaar aan ons hoe die hele wêreldgeskiedenis sentreer rondom ons Here Jesus Christus en dat die uitslag van die wêreldgeskiedenis reeds vasstaan. Gelowiges is nie op pad na ondergang nie, want alhoewel die slang byt, ís sy kop vermorsel. God sal weer by Sy mense woon.

Nou kan ons verstaan waarom Openbaring begin op die manier waarop hy begin in hoofstuk 1 – met ‘n sterk fokus op die majesteit van die Here Jesus Christus. Die Heilige Gees laat ons in hoofstuk 1 sien hóé groot die Here Jesus in werklikheid is. Want dít bring die hele lewe in die regte perspektief. Wanneer jy Christus reg sien, ontvang jy ‘n ongekende blydskap wat standhou deur dik en dun (v.3). Jy besef/ontdek ook die sin van jou lewe. Jy kom agter wat die doel is waarvoor jy eintlik leef. Jou lewe is nie die produk van blinde toevallighede nie. Jy weet presies waarheen alles op pad is. Die skepping dryf nie maar sommer net blindelings rond en is uitgelewer aan klimaatsveranderinge nie, maar is doelgerig oppad iewers heen. Daarom is jou eie persoonlike stryd nie totale chaos nie, want die lewe beweeg nie self nie. Dit wórd beweeg, deur Iemand wat ‘n doelgerigte plan het waarheen Hy alles stuur. Geen wonder dat vers 9 sê dat, terwýl ons ly & stry, ons deel het aan die koninkryk nie! Die twee gaan hand aan hand. Lyding en koninkryk! Daarom kan ons te alle tye geduldig bly en uithou en aanhou (v 9c).

Wanneer en hoe gaan al hierdie dinge vir ‘n mens oop? Wanneer jou oë oopgegaan het vir hóé groot die Here Jesus in werklikheid is. Johannes het soos ‘n dooie neergeval toe hy dit ontdek (v.17). Daarom begin hoofstuk 1 juis dáár. Kom ons kyk daarna soos die Gees dit aan ons deur Sy Woord oopmaak.

Johannes sien Jesus – Kleed tot op die grond/goue band om bors/hare wit soos sneeu/oë soos vuur/voete soos brons wat in ‘n oond gloei/stem soos die gedruis van baie waters/gesig wat soos son skyn/swaard wat uit Sy mond gaan (vv 13-16). Dit beteken nie dat dit is hoe Jesus regtig fisies lyk nie. Dit is beelde wat die Gees gebruik om Jesus se hemelse glorie te beskryf. Indien ons mooi na Daniël 7 & 10 gaan kyk sal ons sien dat dit presies is hoe Daniël vir God die Vader (7) én vir Jesus-voordat-Hy-mens-geword-het, gesien het (10). Ja, as jy vir Jesus sien, sien jy vir God self. Dis asof jy direk in die son kyk. Johannes sien Sy hemelse glorie en majesteit. Sy oë wat alles deurgrond. Sy Woord waarmee Hy alles regeer en wat bó alle ander stemme uitgaan. En tog… is hierdie Jesus só teer en innig. Toe Johannes soos ‘n dooie neerval, kom raak Hy hom met Sy regterhand aan sê: “Moenie bang wees nie.” (v. 17). En daar is ‘n goeie rede waarom Johannes nie hoef te vrees nie. Jesus sê: “Want Ek is die eerste en die laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek lewe tot in ewigheid.” (v. 18). Jesus is die enigste unieke Persoon in die heelal wat kan sê: “Ek wás dood en kyk: Ek lewe.” En dit is nie nodig om te twyfel óf Hy lewe nie, want Hy PRAAT dan! Hy praat met Johannes. Hy praat met die 7 gemeentes d.m.v. die briewe. Hy praat deur Sy Woord en Gees. ‘n Dooie kan nie praat nie! Indien iemand praat, beteken dit hy/sy lewe! Dis die grootste bewys dat Hy lewe : Hy praat nog steeds. En Hy praat lewende Woorde.

Daarby is dit Jesus wat die sleutels van die dood en doderyk hou (v.18). Niemand kan oopsluit waar Hy toegesluit het nie. Of toesluit waar Hy oopgesluit het nie. En Hy alleen hou hierdie sleutels omdat Hy die Alfa & Omega is (v. 8). Dit beteken die eerste en laaste, want “alfa” is die eerste letter van die Griekse alfabet en “omega” die laaste letter. En waarom is Hy dit? Omdat Hy die Skepper én die Regter is. Hy begin met ons en Hy eindig met ons. Dit is waarom Hy oor ons mág & sál oordeel, want Hy het ons gemaak. Hy het met ons begin! Maar tússen die begin en einde, doen Hy nóg iets met ons. Hy sê Hy het ons lief en het ons van ons sondes bevry met Sy eie bloed (v.5). Hy is die Alfa – Hy het met ons begin. Hy is die Omega – die Regter. Maar tussen in het (let op verlede tyd) Hy ons bevry van ons sondes en het Hy ons waarlik lief. Hy “wil” ons nie bevry nie. Hy HET. Daarom is dit nie nodig om ongered/verlore te wees nie. Dit is nie nodig om in sondes/ bindinge/ bande/ kettings te leef & te sterf nie. Gló tog net ten ene male wat Christus sê! Want wie nie Sy Woorde aanneem nie, gaan onverhoeds betrap word wanneer Hy weer verskyn (v.7). En Hy gáán weer verskyn. Op so ‘n wyse dat alle mense Hom sien (v.7). Dan sal die verloregaande mensdom oor Hom rou bedryf. Hulle kla en sanik in selfverwyt. Dink hoe verskriklik moet die skok wees wanneer Jesus verskyn en biljoene mense ontdek dat hulle al die tyd mislei was met leuens. Ook hulle wat Hom deurboor het (v.7). En dit terwyl Hy hulle met Sy bloed verlos het, maar hulle dit verwerp het. Hoe kan ‘n mens dan twyfel in iemand se integriteit & waarheid indien Hy jou met Sy eie lewensbloed verlos het? Indien Hy die Getroue Getuie, die Eersteling uit die dood, die Heerser oor alle heersers is (v.5)? Getroue Getuie beteken dat Hy die eerste Martelaar was. Hy het Sy lewe afgelê. Nie soos die selfmoordbomaanvallers nie. Húlle gee hulle lewens om ander mense se lewens te neem. Jesus het Sy lewe gegee om ander se lewens te red. Wat ‘n verskil! Daarom het God HOM tot só ‘n posisie verhoog dat Hy oor alle aardse politieke stelsels en heersers en konings heers (v.5). Ook oor Robert Mugabe. Ook oor China en Amerika en al die magtiges. Moenie u vir een oomblik laat bluf om te dink dat aardse heersers die hef in die hand het nie. Jesus is nie die skadelose mannetjie met die wit kleedjie en sandaaltjies soos die kinderbybels Hom teken nie. Hy het ALLE mag! (vgl Mat 28:18). Daarom wil ons ook nie graag van Hom praat as “liewe Jesus” nie (onskriftuurlik), maar eerder soos die Skrif Hom noem: die HERE Jesus. HERE beteken: Hoogste in rang.

En laastens: Hy staan tussen/midde-in Sy gemeentes (die 7 kandelaars) (v.13). Die rede waarom die Here net 7 gemeentes uitkies om voor te skryf is omdat 7 – in die Bybel – die volkome getal is. Dit dui op volkomenheid. Die 7 kandelaars/gemeentes verteenwoordig dus die ganse kerk van Christus oor alle eeue. Tafelberg Gemeente is ook ingesluit. En die Here Jesus is intens tussen Sy gemeentes. En Hy hou die leraars (sterre) in Sy regterhand vas. O, as ons maar net daarvan kan wegkom om aan die gemeente te dink as net ‘n menslike organisasie en ons oë kan oopgaan om die dinamiese bonatuurlike element van kerkwees raak te sien. En dat ons sal begin om ons daaroor te verwonder dat óns énigsins deel van Sy gemeente mag wees – dat ons dáár mag wees waar Hy deur Sy Woord en Gees vir Hom ‘n kerk vergader – wat Sy liggaam op aarde is.

Hoor u die goeie nuus in Openbaring 1? Hoor u die dringende oproep? Hoor u die Gees wat aan u ‘n nuwe perspektief op die lewe kom gee? Omdat Hy die Here Jesus Christus in Sy majesteit aan u kom openbaar. Hý is die regte perspektief op die lewe en Hy is die sin van ons aardse bestaan. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00