TAFELBERG GEMEENTE Skrifgedeelte: Openbaring 2: 1-7, 2: 12-29, 3: 1-6, 3: 14-22

Die Here Jesus lewe. En ons weet dit, want Hy praat steeds. Só het Johannes Hom gesien in hemelse glorie in hfst 1 – hoe Hy Sy gemeentes liefhet en tussen hulle staan. En nou praat Hy met 7 van hierdie gemeentes en hulle verteenwoordig die kerk van alle eeue – daarom SEWE, die volkome getal. Nie een woord in hierdie 7 briewe is Johannes se woorde nie. Dit is die opgestane Christus se Woorde. En Hy rig Hom tot gelowiges in Klein-Asië wat in gemeentes georganiseer is – in om en by die jaar 95. Maar, hierdie mense het baie gely t.w.v. hulle verbondenheid aan die evangelie en daarom wil die Here hê hulle moet wéét hoe intens Hy Hom met hulle identifiseer. Soos ‘n refrein hoor ‘n mens Hom elke keer sê “EK WEET..” M.a.w: “Ek sit nie ver weg iewers op ‘n troon nie. Ek is nie afwesig nie. Daarom kom gee Ek julle die wenresep om met geduld te kan volhard in julle moeilike omstandighede. Die wenresep is: LUISTER na My Beloftewoorde.” Indien ons mooi na hierdie 7 briewe kyk, sien ons hoe haarfyn dit gestruktureer is. Dit is aanmekaargestik deur Jesus se woorde: “Luister” en “Ek belowe”. Aan die eerste 3 gemeentes: “Luister” en “Ek belowe”. Aan die laaste 4 gemeentes: “Ek belowe” en “Luister.” En dan hoor ons 7 maal: “Aan hom wat oorwin.” M.a.w. ‘n gelowige volhard/oorwin deur te LUISTER. Die geheim van ‘n suksesvolle Christelike lewe is om jou ore oop te hou. So maklik en eenvoudig! Die mens wie se Bybel se bladsye aanmekaar vassit, sal neerlaag op neerlaag ervaar. Geen wonder dat Psalm 95 sê ons aanbid God deur ons ore vir Sy Woord oop te maak. Nie oop vir misterieuse stemme in jou gedagtes nie, maar vir Sy geskrewe Woord. Hierdie 7 gemeentes het die lewende Jesus se Woorde op skrif ontvang, uit Johannes se pen. Hulle moes luister en lees. Dit is die Godgegewe pad na volharding en oorwinning. Geen wonder dat gereformeerde kerkgeboue só ingerig is dat alles op LUISTER afstem nie!

Die 7 briewe is egter ook iets soos ‘n rolprent wat vir ons wys hoe die kerk gedurende die hele tydperk tussen Jesus se eerste koms en Sy wederkoms lyk. Tydlose beginsels dus, wat nét so van toepassing is op die Here se kerk in Kaapstad in 2007 as op Sy kerk in Klein-Asië in 95 – al lewe ons in totaal ander omstandighede. Die beginsels bly dieselfde. Tewens, die hele boek Openbaring (vanaf hfste 2-22) bestaan uit 7 sulke rolprente wat 7 maal ná mekaar die tydperk tussen Jesus se eerste en tweede komste belig – elke keer vanuit ‘n ander hoek – en só wil Hy Sy kerk moed en hoop gee om te weet dat Hý reeds oorwin het, sodat die gelowiges van alle tye kan raaksien wat (geestelik) agter die skerms aan die gang is en wat invloed uitoefen op dít wat sigbaar in die wêreld gebeur. Hierdie 7 briewe is dus die eerste van 7 rolprente.

Die eerste beginsel wat ons in die 7 briewe moet raaksien is dat die Here se kerk – oor die algemeen – baie te kort skiet en onvolmaak is. Slégs 2 uit die 7 gemeentes ontvang geen vermaning van die Here nie. {Volgende week sal ons na hulle kyk (Smirna en Filadelfia) en sien hoe lyk die ideale model kerk.} Vyf uit die 7 gemeentes ontvang vermanings en twee van die vyf loop selfs die gevaar om te verdwyn – om tot niet te gaan. Dink net daaraan: Slegs 60 jaar ná Jesus se hemelvaart, en die kerk lyk reeds só. Vyf uit sewe gemeentes benodig vermanings uit die Here se mond. Dit wys vir ons dat ons nooit té idealisties/perfeksionisties oor die kerk mag dink nie. Natuurlik beteken dit nie dat verandering en bekering nie moontlik is nie. Die gemeentes moes juis hulle probleme as uitdagings sien en besef dat die Waarheid oor Wie Jesus is (soos in hfst 1 gesien), hulle sal genees en herstel – as hulle dit maar net kon snap. Dit is juis waarom die Here tússen die kandelaars staan en waarom Hy Sy Woord soos ‘n swaard uit Sy mond na hulle stuur. Hy wil hê hulle moet die waarheid oor hulleself sien en erken, maar dan moet hulle ook die Waarheid oor HOM snap en dít bring die herstel/genesing. Die eerste rolprent wys dus vir ons dat – gedurende die hele tydperk tussen Jesus se eerste en tweede koms – die kerk die heeltyd hervorming/reformasie/herstel nodig het.

EFESE & LAODISEA: Die 2 gemeentes wat gevaar geloop het om te verdwyn. Efese was die gemeente wat ‘n passie gehad het vir die Waarheid van die Woord, maar wie se liefde vir ménse verkoel het. ‘n Ortodokse Bybelgelowige gemeente, maar hul eerste liefde het verkoel. Indien hulle net weer die grootsheid van Christus kon snap, sou dit weer die liefde laat opvlam. Dis opvallend dat die Here hulle prys vir hulle harde werk en deursettingsvermoë en dat hulle nie moeg geword het nie. Hy prys hulle veral vir die feit dat hulle onverdraagsaam was teenoor mense wat hulself as apostels voorgedoen het. Maar die gemeente het díé mense op die proef gestel en hulle vals bevind. M.a.w. die ware & suiwere leer (die waarheid) was vir hulle belangrik. Die regte leerstellinge was vir hulle belangrik. Dit is die tipe gemeentes wat ons ook vandag in die NG Kerk nodig het – wat nie sonder meer sal saamloop met die gees van matelose toleransie wat vandag heers nie – waar almal en alles maar goed is. Verdraagsaamheid teenoor enige denkbare soort prediking en teologie en vreemde leer. Wie dit waag om dit teen te gaan word as fundamentalisties gebrandmerk. Het ons nie weer gemeentes nodig wat lynreg stroomop sal gaan nie? Omdat die waarheid saakmaak.

Maar, Efese het ‘n probleem gehad – en so ook Laodisea: Hulle liefde het verkoel. In Laodisea se geval was dit as gevolg van rykdom: ‘n Lekker gemaklike lewenstyl van kompromieë. Louheid is ‘n lewe van kompromie, want dan word ‘n mens mos ook nie vervolg t.w.v. jou geloof nie. En ons almal weet hoe sleg smaak lou water. In Efese se geval het hulle harte nie meer gebrand vir verlore mense nie – vir evangelisasie en sending. Hulle passie vir gebroke harte en lewens het verkoel omdat hulle harte teenoor die Here self verkoel het. Hulle het louwarm geword. Daarom het hulle gevaar geloop dat hulle kerkgebou met ‘n woonstelblok vervang kon word. Dit is áltyd die gevaar wanneer ‘n gemeente net na binne leef en nie ook sigbare liefde betoon na búíte nie – ja, selfs tot by die uithoeke van die wêreld. Indien ‘n mens net inasem en nie ook uitasem nie, sterf jy! Jy word uitgespoeg! Lou water wórd uitgespoeg! Dit beteken nie dat die mense weer verlore sal gaan nie, maar dit beteken dat die gemeentes tot niet sal gaan – die kandelare sal uit hul plek verwyder word. Jesus sê vir Efese: “Julle gee méér om vir Waarheid as vir ménse! En dit kan op net een manier reggestel word: Luister na My Woorde (v 7) en kýk na Mý! Kyk Wie Ek is (v 1). Vestig julle oë op mý en sien hoe mý hart klop. Dit sal julle liefde weer laat opvlam.” Laodicea hoor dat hulle by Hom oogsalf moet koop sodat hulle oë weer siende kan word. Ja, Hy hamer met Sy liefdeswoorde op die deur van die gemeente totdat hulle oorwin word deur Sy genade. Dít is hoe Hy klop. Dit beteken nie dat Hy hulle toestemming vra om te mag inkom nie. So asof die méns die hef in die hand het nie. Maar dit beteken dat Hy klop met Sy Woorde van heil totdat Hy oorwin met Sy klop. En dan gaan hulle oë oop vir Wie Hy regtig is. En dít maak van louwarm mense kookwater radikale dissipels. Dit is die terapie wat Efese en Laodisea nodig het: Om te LUISTER na die geklop van die woorde van die Gees deur die Skrif. Om Jesus se grootheid te snap. Om te snap hoe kookwater Hy is. Om te sien hoe lief Hy hulle het en dat Hy hulle juis dáárom tug en dissiplineer. Om te sien dat Hy die getroue getuie is. U sien, ‘n mens moet Openb 1 as ‘n eenheid met Openb 2&3 lees: Die visie wat Johannes van Jesus se grootheid gekry het, is die medikasie wat vir Efese, Laodisea, Pergamum, Tiatira en Sardus voorgeskryf word. Snap net wie Jesus is, en jy word kookwater en jou depressie verdwyn.

PERGAMUM & TIATIRA: Weer eens ‘n gemengde toestand van ernstige toewyding én afvalligheid/tekortkominge. Maar, kyk mooi, dis net mooi die omgekeerde van Efese & Laodisea: In die geval van Pergamum en Tiatira, is die liefde daar, maar nie ‘n erns om die Waarheid te beskerm nie. Beide gemeentes laat dwaalleraars toe om te preek. En beide gemeentes maak hul skuldig aan onsedelikheid. Dit aan die een kant. Aan die ander kant is daar geloof, liefde, diensvaardigheid en volharding (Tiatira). Tiatira het selfs méér begin doen as te vore.

So het Pergamum weer volhard as gelowiges, al het hulle gewoon in ‘n area waar dit swaar was om ‘n volgeling van Christus te wees. Pergamum was die plek waar ‘n tempel was waar die Romeinse Keiser aanbid is – genoem “troon van Satan”. U sien, die staat & kultuur het absolute eise aan mense gestel. Jy moes gedurig kompromieë maak om byvoorbeeld jou werk te behou, jou besigheid te laat floreer ens. Een van die gemeente se leiers, Antipas, het hier as ‘n martelaar gesterf. Dit was taai om in Pergamum as Christen te volhard. En tog het hulle vasgestaan. Maar, tog het hulle dwaalleer in hul midde toegelaat. Hulle was verdraagsaam teenoor al die stemme wat gepraat het. Die liefde was vir hulle belangrik. Hulle wou niemand aanstoot gee nie. Hulle wou net die vrede bewaar. Maar nie die Waarheid nie. Net andersom as in die geval van Efese. Pergamum het nie gewaak oor hulle kansel nie. T.w.v. vrede & liefde het hulle die leer van die Nikolaïete & die leer van Bileam toegelaat op die kansel. Tiatira het weer ‘n valse profetes, Isebel, laat begaan om te preek. Blykbaar het sy beweer dat sy spesiale openbaringe van die Here ontvang het.

Ons weet nie presies wie & wat hierdie dwaalleraars was nie, maar hulle het blykbaar geleer dat ‘n mens maar in sonde kan lewe, omdat God se genade groter is. Verder het die dwaalleer aanleiding gegee tot sondes van ‘n seksuele aard: “onsedelikheid” noem die NAV dit. Altyd opvallend hoedat valse leer aanleiding gee tot ‘n soort liberalistiese losbandigheid van die een of ander aard EN OOK tot die maak van kompromieë met ander nie-Christelike godsdienste. Dit is die afgodery waarna hier verwys word. Jy bely die Here Jesus MAAR DAARMEE SAAM maak jy óók ruimte vir die leuen. Jy sit op 2 stoele tegelyk. Ons moet duidelik raaksien hóé ernstig die Here Jesus hier is téén afgodiese kompromieë asook téén onsedelikheid en seksuele sondes van watter aard ookal. Hy neem dit baie, baie ernstig. Wanneer ons dit eers eenmaal gesien het, sal ons nie so vatbaar wees vir die misleidende leuens van die media en die tydsgees waarin ons leef nie. Ons sal nie so maklik saam met die stroom gaan nie. Tewens, gelówiges mág nie saam met die stroom gaan nie. Nooit nie! En daar is net een manier om oorwinning oor hierdie versoekings en sondes te kry en dit is om iets beter in die plek daarvan te sit. Jy moet Iemand ontdek wat méér wonderlik is as die versoeking. Jou oë moet gevul word met die hemelse glorie van Jesus Christus wat jou liefhet en jou sondes versoen het. Dán kan jy wegkyk van die TV program of die internetwebblad wat jou wil pootjie. Die geheim is: KYK en VLUG. Kyk na Jesus en vlug weg van die versoeking en sonde. Kýk na die manna en wit steentjie wat Hy belowe. Dit is Sy tere versorging te midde van moeites asook Sy vryspraak en vergifnis. Die manna was mos God se bonatuurlike voorsiening aan Sy volk in die woestyn. En die wit klippie is in oud-Griekeland gebruik om in die hof te stem vír iemand se vryspraak terwyl ‘n swart klippie gebruik is vir veroordeling. Nou sê Jesus: “Kyk na wat Ek belowe en jy sal in oorwinning lewe.”

SARDUS: Die gemeente wat geestelik hoogmoedig was op hulle vordering, maar nie besef het dat hierdie hoogmoed hulle eintlik doodmaak nie. U sien, doodsheid kom baie keer uit selftevrede hoogmoed. Dit gaan eintlik so goed met ons en ons kry nie eintlik baie swaar nie en die groot sondes ry ons nie bloots nie en ons is toegewyd en getrou aan die Here. En dan kom die doodslaap. Die doodsheid van Sardis is eintlik ‘n slaap-toestand (3:2). En tog was daar enkele gelowiges in Sardus wat NIE soos die res was nie (3:4). Ja, in elke gemeente is daar altyd die handjievol wat volhardend voortgaan om die Here te dien. Die vraag is wat ‘n gemeente uit sy slaap wakker maak. Is dit dalk meer aktiwiteite of programme? Moet daar dalk ‘n prediker kom wat almal kan wakkerskud? Nee, Sardis moes net begin om te luister (3:6) na Hóm wat die Heilige Gees gee (3:1). Indien hulle weer sou begin luister, sou die Here Sy Gees opnuut in hulle midde gee. Ja, dit is die Géés se werk wat die doodslaap verdryf! En die Gees werk regtig wanneer ‘n gemeente begin LUISTER na die Woord. Dit is en bly die Godgegewe medikasie vir ‘n siek gemeente/gelowige.

Hoor u die oproep van die Gees in die gelese Skrifgedeelte? Dit is ‘n oproep tot ‘n radikale, passievolle, vreugdevolle, liefdevolle, geduldige, volhardende, heilige, suiwere, Bybelse lewenstyl. (Herhaal). Dit is net moontlik deurdat ‘n mens jou ore oopmaak en weer met die Woord erns maak. Dán sal jy die hemelse glorie van die Here Jesus sien en jou hart sal brandende word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00