TAFELBERG GEMEENTE Tema 4: Die tweede rolprent
Skrifgedeelte: Openbaring 4 - 8:5

Die tweede prente(rol)beeld van die tydperk tussen Jesus se eerste & tweede koms, kom in hierdie gedeelte aan die orde. Die éíntlike werklikheid word hier belig. Alles begin by wie God werklik is. ‘n Skerp fokus op die kontrolekamer van die heelal. Dit plaas die mens op sy/haar regte plek. Dit stroop ons van alle arrogansie, maar dit verlig ook die innerlike pyn & sug na verlossing van aardse stryd. Dit laat ons ook laag buig. In die mens is daar mos die instink om te wil eerbied betoon wanneer ‘n mens in die teenwoordigheid kom van iemand wat werklik groot is. Dit is wat in hfste 4-5 gebeur: Die fokus is voluit op die glorie van God en hoe die mens daarop reageer. In hfst 4 gaan dit oor die glorie van God as Skepper.

Opvallend dat Johannes vaag & ontwykend praat oor Wie hy op die troon sien sit. Net: “Iemand”. Die gans Andere. Onmoontlik om te sê WIE of om Sy gesig te beskryf. Onmoontlik om Hom óóit te kategoriseer of om “pellie-pellie” met Hom om te gaan. Al wat Johannes kan sê is dat Hy soos “dit-dat” is: Soos kosbare stene, helder sonlig ens. Tóg is dit wonderlik dat dit ‘n PERSOON is wat in die sentrum van ons bestaan is. Dit is “Iemand”. Nie IETS nie. Nie blinde magte, toeval, noodlot, chaos, beginsels nie. Dit beteken ook dat óns is nie per toeval hier nie. Ons is persone, want die Argitek van ons bestaan is ‘n Persoon. Ons is nie as toevallige mislukkings uit die chaos van onpersoonlike kragte & magte van die heelal gebore nie. Wat ‘n opwindende troos!

En rondom die troon is daar ‘n massiewe vergadering van skepsels wat sing – met alle oë vasgenael op die troon. Die inhoud van die lied wat hulle sing gee vir ons die betekenis van al die vreemde simbole en beelde. Die liedere verwoord die boodskap van hfste 4-5. Die beelde & simbole gee ‘n boodskap in prentjiesvorm, maar die liedere sê wat dit beteken. Die vier lewende wesens is ‘n simbool van die hele skepping. En wat sing die skepping? “Heilig, heilig, heilig is die Here God Almagtig wat was en is en kom.” God se reinheid, verbysterende glorie & heiligheid. Ook dat Hy ewig is en dat Hy regeer. Hy regeer ook oor die tyd. Hy was vóór alles daar en Hy sal uiteindelik alles voleindig. Dit is wat die helder lig en edelstene en reënboog wil sê. God is nie soos óns nie. Hy is nie na óns beeld geskep nie. Oor só ‘n god sou ons nie kon sing nie. Só ‘n god is nie in staat om jou knieë te laat buig in eerbied en jou mond te laat oopval in verwondering nie. Maar Openb 4 wys Iemand anders…. En dan sing die 24 ouderlinge saam. Hulle is ‘n simbool van die ganse kerk van alle eeue – die OT kerk (12 stamvaders) en NT kerk (12 apostels). Hulle lied belig ‘n ander fasset van God se grootheid: “U is waardig om alle eer en krag te ontvang, want U het alles geskep en deur U krag hou alles stand.” Dit is die wonder van God: Dat Hy enigsins gekies het om te skep! Dit was nie vir Hom nodig nie. Hy is en was nog altyd volkome tevrede in Homself en met Homself. Binne die drie-eenheid is daar volmaakte gemeenskap. Hy is nie alleen nie. Hy het ons nie nodig nie. Hy hoef ons nie te geskep het nie. Maar Hy het. Met ‘n enkele woord. Hoe dikwels vra ons: “Waarom maak God nie alles reg nie? Waarom het Hy nie verhinder dat dit/dat gebeur nie? Waarom gee Hy my nie die soort lewe wat ek wil hê nie? Waarom moet ek so ly?” Dis die verkeerde vraag. Wat ons veronderstel is om te vra is: “Waarom het Hy my énigsins geskep? Waarom delg Hy my nie nóú uit vir die manier waarop ek Hom nog al die jare behandel nie. Waarom gee Hy my nog asem sodat ek in my sondige selfsug en rebellie kan voortgaan?” Dít is die groot misterie wat ons nie verstaan nie. God is heilig en ek haal asem omdat Hý dit gee. En tóg maak ek elke dag droog, maar Hy wis my nie uit nie, Hy duld my. Dís die misterie!

Hfst 5 fokus op God as Herskepper/verlosser, want u sien daar is nou ‘n probleem voor God se troon: In Sy hand is ‘n boek met 7 seëls verseël wat niemand kan oopmaak nie. Dit is ‘n simbool van God se plan van Sy heerskappy in die geskiedenis. Maar sal Sy regering dalk misluk, want niemand kan die seëls oopmaak nie? Daarom huil Johannes. Maar toe kom Iemand na vore wat wél bekwaam is. Nét Hy alleen. Die Leeu uit Juda. En toe Johannes kyk wie díé Leeu is, sien hy ‘n Lam – wat lyk of Hy geslag is. Hý kom staan in die sentrum van die troon. Die Leeu oorwin sodat God se koninkryksplan kan voortgaan omdat Hy soos ‘n Lam geslag is. Daarom neem Hy die boekie. En die 4 wesens en 24 ouderlinge sing weer. Weer eens sê hulle lied wat die hele visioen beteken: “Ú is waardig om die boek te neem en die seëls oop te maak want U is geslag en het met U bloed mense uit alle nasies losgekoop”. God se boekie kan oopgaan en Sy koninkryksplan kan ontvou, want dit skarnier aan Golgota. Omdat Jesus geslag is, SAL God se heerskappy nie gestop kan word nie. Nie nou nie en nooit nie! Al bars die hele hel oop – God se plan SAL enduit deurgevoer word. Geen wonder dat biljoene engele – soos ‘n vloedgolf – begin saamsing nie! “Waardig is die Lam wat geslag was!” Wat ‘n erediens! Wat ‘n aanbidding! Die ganse skepping vibreer letterlik.

En dan begin Jesus die seëls oopmaak. U sien: Hý bring die koninkryk aan. Nou sal daar seker asemrowende dinge gebeur. Maar o weë: wát gebeur wanneer die eerste 4 seëls oopgemaak word? Die bose gee antwoord! Ménslike heerskappy wat God van die troon wil afstoot (wit perd), oorloë (rooi perd), hongersnood (vaal perd) en pessiektes en dood (swart perd). Wat gebeur hier? Elke keer roep die skepping: KOM! En dan kom daar ‘n perd. Maar, die skepping roep nie na die perde om te kom nie. Hulle roep dat die Here Jesus sélf moet kom. Nes die martelare – later in die hfst – roep en soos Joh self in hfst 22 roep en soos die skepping in Romeine 8:22 roep. Hulle roep dat Jesus die koninkryk moet laat kom. En elke keer is daar ‘n reaksie op die uitroep. Maar wie reageer? Die bose. Soos sodium doen in kontak met water – onthou u nog die wetenskapeksperiment op skool? – die sodium ontvlam en bzzzzz oor die water. Wanneer die heerskappy van Christus in die wêreld – in die konteks van menslike selfverafgoding en rebellie – losgelaat word, is daar groot reaksie! Die vonke spat en lewe is nie maklik nie. Sien Joh 16:33 & Hand 14:22. Dit is die realiteit. Die mense aan wie Joh geskryf het, het gedink hulle swaarkry sou gou-gou eindig, want Jesus het mos opgestaan, daarom kan dit nie so aangaan nie. Maar hulle moes ontdek: Jesus se regering laat die wit/rooi/vaal/swart perde hardloop! En gelowiges word geroep om te midde daarvan, te volhard en te lééf. Niks van ‘n “liewe Jesus wat jou lewetjie lekker maak” nie! En tog lees ons elke keer: “dit is aan elke perderuiter gegee om te…” Ja, selfs elke stukkie van bose reaksies op Sy heerskappy, val steeds onder God se heerskappy! Niemand of niks kan roer as God nie gee nie.

Die oopmaak van die 5de seël wys aan ons die siele van die martelare voor God se troon. Ja, die 4 perderuiters laat die gelowiges se bloed vloei. En dit laat dit lyk asof Jesus nie regeer nie. Want waarom sterf Sy kinders as martelare? Maar, die martelare voor die troon wéét dát Jesus regeer en daarom roep hulle: “Hoe lank nog voordat U ons bloed gaan wreek?” Maar die Here se antwoord is: “Wag nog eers. Nie nou al nie. My tydsberekening is 100% reg.” U sien, die tyd tussen Jesus se eerste & tweede koms is ‘n tyd van WAG. Dis ‘n tyd waar gelowiges nie swaarkry ontvlug nie, maar daarin moet volhard. Totdat…. totdat….. totdat…..

…… die 6de seël oopgemaak word en die finale einde beskryf word. Dán word die uitroepe van die gelowiges finaal beantwoord. Kyk hoe stem die beskrywing van die wederkoms ooreen met Jesus se woorde in Matteus 24,25. Die aardbewing en hemelbewing! Nou is dit nie die martelare wat uitroep nie, maar die ongelowiges. En hulle roep nie dat Jesus moet kom nie, maar dat die berge op hulle moet val! “Laat die berge eerder op ons val as wat ons die oë moet sien van Hom op die troon.” Ontsettend dat arrogante ongelowige mense skielik in berge en grotte invlug. Skielik is daar geen statusverskille nie. Vanaf die generaals tot die bediendes vlug. Want, WIE sal kan staande bly in die dag van God se wraak??

En dan gee hfst 7 die antwoord WIE staande SAL bly. Die verseëldes sal!! Hfst 7 gee ‘n beeld van biljoene gelowiges in die hemel voor die troon. Johannes sien 2 visioene van dieselfde groep mense: Eerstens die kerk vanuit OT perspektief en dan vanuit NT perspektief. Watter probleme jy ookal het – tydens die dag van die Lam se wraak, wanneer mense sal roep dat die berge op hulle moet val, sál sommige mense veilig wees. Wie? Diegene wat God se seël gehad het. Dis ‘n simbool wat sê jy behoort aan Hom. ‘n Seël was ‘n teken van eienaarskap. Soos ‘n adres op ‘n brief: Niemand anders mag dit oopmaak nie. Maar, dit is nie regtig net Jode nie, al word daar gepraat van 144000 Israeliete. Dit is ook nie letterlik 144000 nie. 12 maal 12000 dui op volkomenheid. Dit is die gelowiges in hul volle getal. Dit is ook nie die werklike 12 stamme van Israel nie, want dit is nie die korrekte volgorde van stamme wat hier gegee word nie en sommige name is weggelaat en ander bygevoeg. Dit is die Here se kerk uit die OT tyd. En hulle vorm ‘n eenheid met die mense wat Joh vanaf vers 9 sien: uit alle nasies en tale – die NT kerk. Sien u: Eers die OT kerk. Dan die NT kerk uit alle nasies. En hulle begin nou ook saamsing met diégene wat in hfst 4&5 gesing het. Hulle voeg hul stem bý die 4 wesens, 24 ouderlinge & die biljoene engele. Almal is nou voltallig. En wat sing hulle? Vers 10 – wat genoem kan word die sentrale teksvers van die hele Bybel – “die redding kom net van ons God wat op die troon sit. Dís die wit klere wat ons aan het! As ons dit self moes wit maak, sou ons saam met die ander roep ‘berge val op ons’, maar dis Hý wat ons gewas het. Daarom kan ons Hom nou dag en nag dien en ons vergaap aan Sy glorie & skoonheid.”

Sien u die inhoud van die 2de rolprent? Die Gees sê: “dít is die ware werklikheid wat die geskiedenis beheers”. En die 3de rolprent sal voortkom uit die oopmaak van 7de seël: Hfst 8: 1-5. Dis asof die 7de seël ‘n tussenspel is met ‘n yslik-belangrike boodskap. Dit kan die einde van die 2de rolprent wees óf die inleiding tot die 3de rolprent: Tussen die verskillende tonele, wil die Gees vir ons wys hoe belangrik GEBED in alles is. Kyk net hoe styg miljoene gebede voor God op soos wierrook. Géén gebed is waardeloos nie. Jesus se bloed waarborg dit. En, dis asof die Here op ‘n misterieuse wyse ons gebed inkorporeer by die ontplooing van Sy raadsplan in die wêreld.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00