TAFELBERG GEMEENTE Tema 4: Die derde rolprent
Skrifgedeelte: Openbaring 8 - 11

Die blaas van 7 trompette, lei ‘n nuwe “rolprent” in. U sal onthou dat die vorige een afgesluit het met Jesus se wederkoms en ‘n beskrywing van wie dán staande sal bly. Soos in die vorige 2 rolprente, word die hele tyd tussen Jesus se eerste en tweede komste weer eens belig – nou weer vanuit ‘n ander hoek en ander perspektief. Christus se heerskappy in die wêreld word vanuit ‘n ander hoek bekyk. Hfste 8-11 (3de rolprent) wys vir ons dat die tyd tussen Jesus se 2 komste ‘n tyd is van hemselse waarskuwings en van volhardende Woordverkondiging. Ons moenie Openbaring lees asof dit ‘n beskrywing is van ‘n klomp rare goed wat net voor die wederkoms gaan plaasvind nie. Die dinge wat beskryf word, vind gedurende die héle tyd tussen Jesus se twee komste plaas en loop uit op die wederkoms. Kom ons kyk aandagtig daarna:

Eerste trompet: Hael & vuur gemeng met bloed verteer ‘n derde van die aarde en plantegroei. Tweede trompet: ‘n Reuse brandende berg verteer ‘n derde van die see en seehandel. Derde trompet: ‘n Groot ster val en verander ‘n derde van alle vars water in gif. Vierde trompet: ‘n Derde van die hemelruim word verduister.

Wat op dees aarde beteken dit? Dit is nie ‘n letterlike beskrywing van werklike dinge waarvan ons hedendaagse voorbeelde moet soek nie – bv atoomontploffings. Dit is beelde/simbole wat beskryf hoedat die skepping besig is om kranksinnig te raak. Beelde van hoe die skepping homself vernietig. Kyk maar na die progressie: eers aarde & plantegroei, dan die see, dan drinkwater, dan die lig. Dit is asof die 4 trompette die skeppingsorde en patrone van Genesis 1 onderstebo draai sodat alles weer chaos word soos dit was voor die skepping. En tog is dit glad nie so vergesog nie, want die TV en media wys vir ons hierdie dinge. Dink maar net mooi watter tekens op land, see en ruimte daar voortdurend voorkom. Erge dinge – en die momentum daarvan neem toe. Geboortepyne noem Jesus dit in Matteus 24:8. Dis asof die Gees in Openb 8 wil sê: Maak net jou oë oop en begin verstaan wat regtig in die wêreld aangaan. Die Here is voortdurend besig om waarskuwingseine uit te stuur. Trompetgeskal. Voeg daarby nog die vreeslike inhoud van die 5de trompet, waar in simboliese taal beskryf word watter massiewe invloed en effek die satan en bose geeste (demone) op mense het. Goed soos springkane kom uit die onderaardse diepte – met Apollion as aanvoerder – en pynig die ongelowiges vir 5 maande lank. Apollion beteken “vernietiger.” Dis die satan self. Dit is ‘n simboliese beskrywing van die skade wat demoniese magte aan mense aanrig d.m.v. misleiding, verdrukking en pyn. Ons mag nooit die realiteit van die bose en bose geeste geringag of minag nie. Ons mag dit nooit afmaak as “nonsense” nie. Biljoene mense word deur demoniese magte mislei en beïnvloed en die meeste besef dit nie eens nie. Ook dít is ‘n waarskuwingstrompet van God.

Wanneer die 6de trompet blaas, is dit ‘n oorlog-scenario wat voor ons ontvou. 200 Miljoen troepe dood ‘n derde van die mensdom. ‘n Berede mag met perde wat se koppe soos díé van leeus lyk met vuur wat uit hul bekke kom. Duidelike simboliese taal wat dui op die manier waarop die Here oorloë as ‘n trompet gebruik om die mensdom te waarsku. Hierdie beskrywing dui nie op ‘n oorlog iewers in die toekoms nie, maar op oorlog as sulks. En ‘n mens moet dit sien in eenheid met die vorige 5 trompette. Kyk na die geheelprentjie, dan sien jy wat dit beteken: Die Here skree letterlik met ‘n megafoon in die mensdom se ore: “Kry tog die boodskap! Iets het verskriklik verkeerd gegaan in die wêreld! En Ék gebruik dit as waarskuwingstrompette! Besef tog dat julle tot Mý moet terugkeer.” Ja, Hý hanteer die verwoesting van die skepping & demoniese aktiwiteite en oorloë soos ‘n harde stem oor ‘n megafoon. Dat dit die korrekte interpretasie van die trompette is, blyk uit 9:20 – die mense hou hulle doof en bekeer hulle nie en gaan vóórt met afgodery, moord, immoraliteit, diefstal en toordery. En dit terwyl die Here die heeltyd Sy waarskuwende oordele inperk in Sy genade. Let op: Slegs ‘n DERDE van dit-en-dat word telkens verwoes. Die bose geeste pynig die mense net vir 5 maande. U sien? Geen letterlike “derdes en 5 maande” nie, maar simboliese taal om te wys hoedat God Sy oordeel inperk en beperk in Sy groot barmhartigheid.

Maar te midde van die trompetwaarskuwings het die gelowiges/gemeente ‘n Godgegewe taak om uit te voer, want die waarskuwings alleen bring nie mense tot hul sinne nie. Iets meer is nodig. Mense moet ‘n boodskap hoor. Dit is waaroor hfste 10&11 gaan. Te midde van die trompette, moet die Woord verkondig word. Johannes moes die boekrol wat die engel in sy hand het, opeet en dit gaan verkondig aan alle nasies en tale, want wanneer die 7de trompet blaas, sal God se bedoeling met alles vervul word, sê die engel in 10:7. Met die blaas van die 7de trompet sal die toppunt van die geskiedenis aanbreek. Dan sal daar nie meer uitstel wees nie. Nie dat ons ooit bekwaam sal wees om te weet wát al die faktore is wat die toekoms bepaal nie. Dit is waarom die 7 donderslae se woorde nie deur Johannes opgeteken mag word nie. Daar is dinge wat nie vir ons beskore is om te weet nie en daarom mag ons nie toekomsvoorspellings maak nie. Wat ons wél moet weet, is dat die 7de trompet sal blaas en dat die voleinding sal aanbreek. Wat ons intussentyd moet doen, is om die Woord te verkondig – tydig en ontydig. Dit is wat Johannes simbolies moes doen met die eet van die boekrol wat soet is in sy mond – ‘n heerlike boodskap – die evangelie, maar suur in sy maag! Dit beteken: die resultaat van getuieniswerk is dikwels pyn en lyding! Dit herinner sterk aan Esegiël 2, waar Esegiël dieselfde simboliese daad moes uitvoer. Ook in Esegiël se geval is die boekie wat hy moes eet, God se Woorde wat hy moes gaan verkondig.

Hoofstuk 11 borduur nou hierop voort. Die tydperk van Woordverkondiging en sendingwerk word gestel as 1260 dae/ 42 maande/ 3,5 jaar. Dit is die tydperk waarin die 6 trompette blaas en God die mensdom waarsku. Dit is die hele tyd vanaf Jesus se eerste koms tot by Sy tweede koms. In hierdie tyd sal die kerk die Woord bedien onder felle teenstand. Skielik word die kerk nou weer uitgebeeld deur 2 getuies wat droogtes gebied, water in bloed verander en plae stuur. Ons herken hulle as Moses en Elia, nie waar nie. Nie die werklike Moses en Elia nie, maar simbolies van die kerk – ontleen uit die OT. Die 2 getuies word ook die 2 Olyfbome en 2 kandelaars genoem. Weer eens kom dit uit Sagaria 4. Sien u die duidelike simboliek? Eers is dit Johannes wat ‘n boekrol eet en gaan preek. Dan, skielik, is dit 2 getuies wat dieselfde werk doen. Getuies wat aan Moses & Elia herinner en die 2 Olyfbome van Sagaria 4. Alles simbole van die Here se kerk.

Maar, voordat die 2 getuies begin werk, moes die ware gelowiges eers verseker word dat hulle bewaar en beveilig sal word. Net soos in die vorige rolprent met die verseëling van die 144000. Nou moes Johannes die tempel meet, maar slegs die heiligdom terwyl die buitehof uitgesluit word. Die heidene (ongelowiges) sal die buitehof vertrap vir 42 maande, maar die heiligdom word uitgesonder & afgesonder. Dit is nie die werklike tempel in Jerusalem nie, want díé was alreeds verwoes toe Johannes geskryf het. In die NT is “tempel” ‘n beeld van die ware gelowiges, die ware kerk van die Here. In Esegiël 42:20 sien Esegiël ook ‘n man wat die tempel meet om “die heiligdom af te skei van die buitehof.” Die metery het dus daarmee te make dat die ware gelowiges uitgesonder word en afgesonder word. Hulle sal bewaar word. Diegene wat buite is, is die huigelaars en ongelowiges en valse kerklidmate.

Maar waarom word die ware kerk afgesonder? Sodat hulle hul taak kan uitvoer – uitgebeeld deur die 2 getuies se sendingwerk. Groot dinge gebeur wanneer hulle verkondig en getuig. Die Here werk kragdadiglik. Die Here seën dit. Hulle is ‘n pyn en aanstoot vir die goddeloses. U sien: die boekrol is tegelyk soet én bitter. Aan die een kant mag ons soos Elia bid en mag ons groot dinge van die Here verwag. Aan die ander kant kom die dier uit die afgrond (ons sal hom volledig ontmoet in die volgende rolrpent) en kry hy dit reg om die 2 getuies se monde tydelik stil te maak. Dan juig die goddeloses en stuur vir mekaar geskenke uit blydskap dat die kerk se mond gesnoer is. Maar die oorwinning duur net 3 dae. Let op die kort tydjie, want dwarsdeur Openbaring speel hierdie verhouding tussen LANG TYD en KORT TYDJIE ‘n groot rol. Vir ‘n LANG TYD (42 maande) het die kerk die geleentheid om met vrug te arbei. Vir ‘n KORT TYDJIE (3 dae) word die kerk oënskynlik deur die Antichris oorwin. En dán volg die finale einde. Ons sal dit in latere rolprente weer sien. Hierdie kort tydjie, waar die satan oënskynlik oorwin, vind net voor die wederkoms van Jesus plaas. Dan triomfeer die dier uit die afgrond oënskynlik. Hy dink hy het die kerk se mond gesnoer. Dit is asof dit klaarpraat is met die Here se kerk. Maar dit duur net 3 (simboliese) dae. Dan rig God weer Sy 2 getuies op, neem hulle lewend by Hom in die hemel op en dan volg ‘n groot aardbewing en die 7de trompet blaas en God se hemelse tempel gaan oop te midde van hael en weerlig en aardskuddings – die bekende tekens wat God se finale gerig inlei soos Jesus self daaroor praat in Matteus 24. Baie duidelik lei die 7de trompet die wederkoms in en so sluit die 3de rolprent weer eens af met die wederkoms, die finale vervulling van God se beloftes. Dit is die oomblik van oordeel oor die dooies en beloning van die gelowiges (11:18). Dit is die oomblik van God se finale en ewige wêreldheerskappy (11:15). Maar kan u die duidelike patroon sien? Vir ‘n LANG TYD (42 maande) sal God die mensdom op allerlei maniere waarsku deur byna te skree uit die hemel met allerlei tekens. Gedurende hierdie tyd, sal die ware gelowiges deur Hom afgesonder word en bewaar word ten spyte van baie teenstand en lyding. Hulle sal die Woord verkondig en die Here sal dit ryklik seën. Maar dan kom die KORT TYDJIE van satan, waar hy – met die hulp van die dier uit die afgrond (antichristelike magte) – oënskynlik die kerk se stem sal stilmaak, maar presies dan kom die voleinding. Indien ‘n mens se oë goed oop is, kan jy die heeltyd die vervulling van die moederbelofte (Gen 3:15) as agtergrondsmusiek hoor: ‘n Manlike Persoon kom uit Eva se geslag en Hy sal die slang se kop vermorsel alhoewel die slang Hom in die hakskeen sal byt.

‘n Mens is baie slim en wys om nie die goed wat in die wêreld gebeur – verwoesting van die skepping, oorloë & konflik, demoniese oppressie as toevallighede te sien nie, maar te hoor hoe die Here in Sy barmhartigheid die mensdom waarsku. Dit is trompetgeklank! Maar die belangrikste: Die trompet van die WOORD moet tydig en ontydig weerklink. En dit is ONS taak. Ons is daarvoor toegerus & afgesonder soos Moses en Elia was en soos die Here se 2 getuies was. Onthou: Die tempel is gemeet! Die heiligdom is afgesonder van die res! God sê so. Laat ons dan met die vastigheid wat Sy Woord ons bied, ons taak deurvoer! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00