KERKBYWONING.
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
KERKBYWONING.
Die predikant kry die vrou in die onderdorp voor stok omdat sy nie meer die kerkdienste bywoon nie.
“Ek sien nie meer jou gesig in die huis van die Here nie, suster. Dit verontrus my, suster , en dit is daarom dat ek vandag hier is. As daar ’n probleem is, moet ons dit hier en nou uit die weg ruim.”
“ Dit is nie oor die preke nie, Dominee. Di boodskappe is mooi. En Dominee het my ook g’n kwaad aangedoen nie.”
“Nou wat is dit dan , suster?”
“Dominee weet mos ek lewe maar net van my goewermentstoelagie. Ek moet die pennies baiekeer goed omdraai, Dominee.”
Wat het dit met die kerkbywoning te doen , suster?”
“Ek het nie ’n ordentlike hoed om vir Sondag te gebruik nie, Dominee.”
“Dis nie die uiterlike wat tel nie, suster. Dis die innerlike wat belangrik is.”
“Juis , Dominee, die voering is ook flenters .” Uit:- O Gaats Dominee – Japie Coetzee
Dit is toe ek hierdie stukkie gelees het en heerlik daaroor gelag het dat ek die vraag gevra het:- “ Hoeveel mense is van binne stukkend soos daardie hoed se voering dat hulle van buite ook nie meer mooi voorkom nie en daarom sien mens hulle nie meer in die kerk nie.
Hulle is so stukkend en nou nog boonop kwaad vir die Here. Omdat hulle seer gekry het en die skuld op God pak en daarom wil hulle met die Here niks te doen hê nie!
Is jy so ’n mens? Loop jy al jaar in en jaar uit met die stukkende voering en lelike hoed? Is dit jy wat hierdie saak so in jou gemoed vertroetel dat jy nou moet besef:- al die jare mis jy die seën, vreugde en boodskap van die Here?
Komaan – jy weet jy kannie so aangaan nie! Kom in die regte verhouding met die Here? Maak hierdie saak met God uit?
JESAJA 1:18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
:19 As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
:20 Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.
GEBED
Here, ek bring hierdie saak vandag na U! Vergewe my en reinig my sodat ek weer U vreugde kan ervaar? AMEN