Lees die GETUINIS van wat God aan 'n jong dronkard kan doen
JACO MARAIS se GETUINIS
As iemand my sou vra, “wat was die kosbaarste oomblik in my lewe sover?” sal ek verseker kan terug dink en sê, die aand van die 21ste Junie 1997.
Ek kan dit nog baie goed onthou. Die aand toe ek die Koning van die konings ontmoet het.
Daar is so baie dinge wat ek voor diè aand gedoen het waaroor ek so baie spyt is. Goed wat ek nooit sal kan regmaak al het ek die wereld se geld.
Maar een ding weet ek, dat die HERE JESUS al my sondes in die diepste van die see gegooi het en nooit weer daaraan dink nie.
My kinderjare is tye wat ek eerder wil vergeet, maar uit dit weet ek bring die HERE selfs iets mooi navore. Dis wat die Here Jesus so uniek maak.
Ek wens so ek kon vroeër met die HERE JESUS ‘n ontmoeting gehad het sodat ek al die vermorste tyd eenkant toe kon gooi. Maar die HERE JESUS het SY tyd met elke individu. Hy weet wat moet Hy doen en toelaat in ons lewe om ons aandag te kry.
In my jare op skool het ek ‘n groot behoefte gehad na iets, alhoewel ek nie mooi geweet het wat dit was waarna ek soek nie. Elke mens het ‘n plekkie in sy hart wat met iets gevul moet word. Sonder dit is daar nie vervulling in die lewe nie. Soos talle jong mense het ek dit in die vekeerde dinge gaan soek. Maar gelukkig het die HERE JESUS al voor die grondlegging van die wêreld al ‘n plan met my gehad. HY het geweet dat daar ook ‘n aand in my lewe moes aanbreek soos wat ek nog nooit so duidelik ‘n Stem kon hoor wat vir my sê dat ek verlore is nie. Dit was een aand baie laat nadat ek en twee van my vriende van ‘n nagklub afgekom het. Ek sê dit met groot skaamte dat ek dronk was en my vriende my moes dra. Een aan my linkerkant en een aan my regterkant. Terwyl ons stap kom daar ‘n man met sy vrou na ons toe en vra die vraag wat enige ongeredde persoon sal wil laat vlug.
“As julle vanaand sou sterf, waarna toe sou julle gaan? Hemel of hel toe?” Die vraag het my soos ‘n vuishou teen die bors geslaan en dit was asof alles rondom my verdwyn het en net ek alleen die vraag hoor. Ek het uitgeroep,”hemel toe!” Maar diep in my binneste was daar ‘n Stem wat vir my gesê het ek gaan reguit hel toe as ek vanaand sou sterf. Die getroude paartjie het gesien dat hulle nie veel uitgerig kry met ons dronk mense nie en het maar aanbeweeg. Hierdie aand was die begin van groot dinge en ‘n aand wat ek nooit sal vergeet nie.
Terselfde tyd was daar ‘n meisie wat saam met my studeer het wat getrou elke aand saam met haar ma gebid het vir my verlore siel en die HERE gesmeek he tom my te red.
So het die HERE ‘n paar goed in my lewe laat gebeur om my aandag te kry, maar ek het nooit ag gegee nie. Die Here het van Israel gesê: “EK wil haar lok na die die woestyn toe, en daar sal EK met haar spreuk!”
Dis was in die HERE se plan om my bewus te maak van die werklikheid.
So het daar omtrent drie na vier weke verby gegaan en het ek een aand by die meisie wat ek saam studeer het gekuier. Ek kon sien dat daar iets in hulle was wat ek nog nooit gesien het in ‘n persoon nie en wat ek begeer het met alles wat ek het. Met verloop van twee weke het ek haar ma gevra en gesê ek wil graag die HERE in my hart hê. Toe glimlag sy vir my en sê dis goed. Sy het toe stil gebly en voort gegaan met wat sy besig was. Ek kon dit nie glo dat sy alles tot daar gelaat het nie. Die aand toe ek daar wegry het n gevrees vir die dood. Wat sou ek maak as ek vaanaand sou sterf? Iets het my gejaag. Ek was baie deurmekaar en moeg vir al my sondes en het ‘n diepe berou gehad. So het ek nie meer kans gesien vir my leë lewe nie. Na verloop van ‘n week het die meisie se ma my geroep en gevra of ek nog ernstig was oor wat ek gesê het. Ek het met my hele wese uitgeroep en ja gesê. Toe sê sy,:”volg my.” Ek het haar gevolg na ‘n klein kamertjie agter in die huis. Sy het die deur agter my toe gemaak en vir my vertel van dinge wat ek nog nooit op so manier gehoor het nie. Sy het my vertel van JESUS wat gesterf het terwille van my ongeregtighede en hoe HY gelei het en gespot was tot op die einde toe. Dis was asof ek daardie aand ‘n klein kykie kon sien hoe seer ek die HERE se hart moes maak.
Sy het vir my ook gesê dat ek sal moet ophou met die manier hoe ek nou leef en dat dit net die HERE is wat my waarlik kan verlos. Maar ek moet my bekeer van my verkeerde weë. So het sy die aand in eenvoud vir my net die vinger na die LAM van GOD gewys. Toe sê sy vir my, “praat met die HERE”. Ek het nie geweet hoe om reg te bid nie. Maar wat ek gesê het, het ek opreg bedoel. Dit was asof die HERE JESUS my ‘n laaste kans gee. Dit was soos ‘n vaste wete dat as ek nie vanaand reg kies nie, daar nooit weer in my lewe ‘n kans sou wees nie en dit verewig te laat sal wees. Terwyl ek bid het ek uitgebars in trane en die HERE gevra om in my hart te kom en my te vergewe van al my sondes. Toe ek opstaan het ek iets ervaar wat mens vir geen mens met woorde kan oordra nie. Die vrede van die HERE JESUS wat alle verstant te bowe gaan. Ek het nie gewonder nie maar geweet die HERE het my gehoor.
Ek was so opgewonde. Hoe sal ek ooit hierdie dag kon vergeet waar ek JESUS ontmoet het. Ek het dit nie verdien nie. Genade op genade.Die HERE het my wederbaar. Net daar en dan in ‘n oogwink het die HERE JESUS my van alles verlos.
Ek het die aand weer kans gesien vir die lewe. By die huis het ek my ouma vertel van die goeie nuus en my ouers geskakel om die goeie nuus aan hulle te gee.
Binnekort kon al my ou vriende sien dat daar ‘n hemels breë verskil in my lewe is as die vorige dag. Ek moes toe hulle vertel wat gebeur het. Ek was die gewildste tussen al die studente en nou die minder gewildste. My ou vriende het my na dieselfde partykies genooi. Toe vertel ek hulle dat ek nie meer daardie dinge kan doen nie. So het hulle aangehou totdat hulle sien dat ek was ernstig oor wat ek gesê het en het hulle my met rus gelaat.
So het ek begin groei in die die HERE en werklik besef hoe ek regtig lyk voor die HERE Jesus.
Daarom kan ek die HERE JESUS so dankbaar wees dat HY my deur Sy HEILIGE GEES oortuig het van sonde, geregtigheid en die oordeel.
En ek weet ek verdien absoluut niks nie. Ek verdien om vir my eie sondes te sterf!
Dit laat my sidder as ek dink aan die HERE se woord wat sê dat dit weer sal word soos in die dae van Noag. En in daardie selfde tyd is dit wat die HERE gesê het HY het berou dat HY die mens gemaak het weens die sonde. Genisis 6:6 Die rebellie en opstand teen GOD en dat ons dink ons weet beter as HY. Ons is soos die soldate wat die HERE JESUS in die gesig spoeg en deur ons ongehoorsaamheid het ons deel aan die wat JESUS kruisig. Ons wil nog eers paar goedjies in ons lewe uitsorteer en ons lewe geniet voor ons die HERE JESUS se pad wil kies. Net nie nou nie. Wat as dit te laat is?? Ek dink nie ons kan besef dit wat die HERE JESUS moes deurgaan in die tuin van Getsemane nie. Die gebed dat Jesus wel gevra het dat die beker verby moes gaan, maar nogtans nie soos HY wil nie, soos SY VADER wil. Daar was die volmaakte plan en al manier hoe daar vir ons verlossing kon kom. As Jesus as die Paas LAM geslag sou word.
HY het alles volbring. Dis is baie groot woorde die. HY het alles volbring!!
So verlang die HERE JESUS vandag nog na verlore siele wat opad is na die ewige poel van vuur waar die wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie, om hulle te bekeer sodat HY hulle kan red van die verderf. Weg van die aangesig van GOD. Ek dink die HERE ween oor ons harkoppigheid. Hoe verlang HY nie na ‘n verhouding nie. Nie “religion” nie maar ‘n “relationship”. Dis twee verskillende woorde met verskillend betekenisse. Vandag is ons land vol van “religion”. Die Moslems volg hulle hoof, die Boeduste volg hulle hoof en die godsdienstigges volg hulle hoof. Maar daar is ‘n klein handjie vol mense wat die HERE JESUS as hulle Hoof het en opkyk na HOM en waarlik ‘n lewende verhouding met HOM het. Hulle wat gewas is in die bloed van die LAM.
Talle mens is vandag oppad hel toe, net soos ek was. Baie besef dit nie of redineer dit dood.
Paulus skryf dit so duidelik uit in Romeine 6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van GOD is die ewige lewe in CHRISTUS JESUS onse HERE.”
Romeine 3:23 wys ons vir wie is hierdie vers vantoepassing. “want almal gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van GOD,…”
Net die bloed van die HERE JESUS kan ons skoon was as ons HOM toelaat.
Dis ons wat die lewe vir ons self moeilik en ingewikkeld maak.
Die HERE nooi ons uit om HOM te soek in die wel aangename tyd. Jesaja 55:6 “Soek die HERE terwyl HY nog te vinde is; roep HOM aan terwyl HY naby is.”
Niemand sal eendag ‘n verskoning kan hê dat hy nie ‘n kans gekry het nie. Titus 2:11 “ Want die reddened genade van GOD het aan alle mense verskyn,..”
As die HERE JESUS Paulus kon red, ‘n man wat die Christine vervolg het dan kan HY enige mens red ongeag hoe groot jou sondes is en ongeag hoe siek en sleg jou lewe is. Die HERE JESUS vra en wag dat elke siel HOM sal antwoord.
Ek prys die HERE JESUS dat HY my gered het en my Wederbaar het en ek vandag weet as ek vanaand sou sterf ek reg is om my KONING te ontmoet!
Is jy??
Jaco Marais