HANDE OF BIDDENDE HANDE?

In die vyftiende eeu in ’n klein dorpie naby Nuremburg , het ’n familie met agttien kinders gewoon. Die vader van die kinders was ’n grofsmit en het tot agttien ure per dag gewerk om kos op die tafel te sit.

Ten spyte van die haglike situasie het twee van die kinders dieselfde droom gehad. Hulle wou altwee hulle talent in die kunste ontwikkel maar hulle het geweet dat hul vader nooit die koste kan dra van hulle studies nie.

Hierdie saak is deeglik van alle kante bespreek en die twee broers het toe besluit dat hulle sal ’n muntstuk in die lug opskiet. Die een wat wen, sal na die akademie vir kunste in Nuremburg gaan terwyl die ander broer in die myn sal gaan werk. Die broer in die myn sal dan die studies van die andereen betaal en sodra hy dit voltooi het, sal die ander broer weer wat klaar studeer het die broer wat in die myn gewerk het se studies betaal. Hulle het die munt op geskiet en Albrecht het gewen en is na die akademie vir kunste om sy studies te begin. Albert het in die myn gaan werk om die studies van Albrecht te betaal. Albrecht se kunswerk was vanaf die begin ’n sensasie by die akademie. Teen die tyd dat Albrecht sy studies voltooi het, het hy goeie betaling vir sy werk gekry.

Albrecht is terug na die dorpie waar hy groot geword het en die familie het vir hom ’n groot ete gereel. Tydens die ete het hy aangekondig dat dit nou sy broer se beurt is en dat hy hom sal voorsien van die geld vir sy studies. “Nee , Albrecht, ek kannie gaan nie, dit is te laat vir my. Elke been in my hande was gebreek tydens die vier jaar in die myn. Ek kannie meer skilder nie!” Het Albert gesê.

Dit is nou jare later en Albrecht Durer se skilderye hang in die museums van die wêreld. Die meeste mense is bewus van een van sy skilderye en moontlik hang ‘n reproduksie ook in jou huis.

Albrecht wou aan sy broer Albert eer bewys en het sy hande geskilder – palms teen mekaar en vingers wat boontoe wys. Albrecht het sy skildery “HANDE” genoem , maar die wêreld het dit vernoem na “BIDDENDE HANDE”.

JOH. 15:13  Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

JOH. 15:14  Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.

GEBED

Here, dankie dat U my vriend is! Dankie dat U vir my mens geword het EN gesterf het sodat ek kan lewe. AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00