Tafelberg Gemeente Reeks oor die Modelgebed: Deel 1
'n Christen is iemand wat God ken as “hemelse Vader”
Skrif: Matteus 6: 9-13, Lukas 15: 17-24
Normaalweg, wanneer ‘n mens verneem dat daar oor die “Onse Vader” gepreek word, verwag jy dat daar oor GEBED gepraat sal word. Die “Onse Vader” is immers die modelgebed wat Jesus aan Sy dissipels gegee het in antwoord op hulle versoek: “Here, leer ons bid.” (Luk 11:1).
Tóg is daar ook ‘n ander manier om na die Onse Vader te kyk – waarop ons wil fokus in die volgende 6 preke. En dit is: in die inhoud van die Onse Vader-gebed, sien ‘n mens ses dinge wat ‘n Christen-gelowige se lewe kenmerk – iets van die identiteit van ‘n kind van die Here. Byna soos ‘n ID-dokument: Wie/wat is ‘n Christen ten diepste. Só wil ons die Onse Vader-gebed gedurende die volgende 6 geleenthede lees – soos ‘n ID-boekie. Maak jy die boekie oop, sien jy onmiddelik 6 aspekte wat ‘n Christen se identiteit stempel, waarvan die eerste is dat hy/sy God leer ken het as “hemelse Vader.” Dit is die eerste element van ‘n ware Christen se identiteit. Dit is immers die manier waarop ons Here Jesus die gebed laat begin: “Ons Vader wat in die hemel is.”
Die groot teken dat iemand werklik ‘n kind van God geword het, is dat só ‘n persoon God (nie Jesus) as “Vader” begin aanspreek, aanbid en dien. Dis nogal eienaardig, want dit is tog Jésus wat jou op die kruis gered het. Wanneer ‘n mens vir die eerste keer tot geloof kom, is alle fokus tog op Jésus. Dis Jésus op Wie se verdienste jy jou vertroue plaas. Maar, dan gebeur die onverklaarbare: Jou nuutgevonde geloof in Jésus, verplaas/verskuif jou fokus na God die Vader en wanneer jy bid, fokus jy primêr op die Vader – Hý wie jou met Homself versoen het/uitverkies het DEUR/IN Jesus.
Kyk maar WIE leer die dissipels bid: Dis Jésus. Maar, snaaks genoeg leer Hy hulle níé om die gebed te begin met “Here Jesus” of “liewe Jesus” nie (dus nie op Homself nie), maar leer Hy hulle om te fokus op God die Vader AS VADER. Dit beteken nie dat dit verkeerd is om tot Jesus te bid nie! Dink maar aan Stefanus se woorde toe hy met klippe doodgegooi word: “Here Jesus, ontvang my gees.” (Hand 7:59). Wat dit wél beteken is dat ‘n geestelik-volwasse gelowige begin om te leer dat sy/haar verhouding ten diepste met God die Vader AS VADER is. Dit is tewens ‘n sekere teken dat iemand werklik tot geloof en bekering gekom het: skielik ken en noem hy/sy vir God “Vader” – deur die geloof in Jesus se kruisverdienste. Voorheen was daar net sprake van “die Here” of die “Oubaas” of die “hoër hand” of die “Allerhoogste” of die “Man daarbo” – maar nóú – deur die wonder van die wedergeboorte – leer jy Hom meteens ken as Vader. ‘n Mens dink aan Bilquis Sheikh se boek “I dared to call Him Father”. Bilquis was eens ‘n moslemvrou wat – deur die genade van God – vir Jesus Christus as Verlosser leer ken het. Vir ‘n Moslem – en vir enige ander godsdiens – is dit totaal vreemd & onvanpas om God as “Vader” te ken. Dit is absoluut uniek aan die Christelike Geloof. Daarom sê sy: “I DARED to call Him Father”. Vir haar was dít die groot verrassende ontdekking van die Christelike Geloof: Ek mag God as Vader ken!
Maar dit is nie énige mens wat Hom “Vader” mag noem en Hom as “Vader” mag ken nie. Verkeerdelik dink sommige mense dat – omdat Hy álle mense se Skepper is – Hy daarom ook per sé almal se Vader is. Verkeerd!! In Joh 8:44 sê Jesus vir sommige vrome Fariseërs: “julle het die duiwel as vader.” En Paulus sê in Efes 2:3 dat ons – voordat ons Christene geword het – van nature “kinders van die toorn” was. Nee, jy mag/kan nie vir God as Vader ken/aanspreek net omdat Hy jou Skepper is nie. Die geheim lê in Joh 8:42 opgesluit: Diegene wie vir Jesus liefhet, het die reg om God “Vader” te noem. Over geset synde: Eksklusief slégs diégene wat op die plek in hul lewe uitgekom het om hul vertroue (volle gewig) te plaas op die Here Jesus Christus se kruisdood & opstanding – dat slégs dít hulle met God versoen het – slegs húlle kan God as “Vader” ken & aanroep. Hierdie vertroue op Jesus se kruisdood & opstanding – as die énigste grond van jou redding – verander die hele koers & fokus van jou lewe radikaal. Jy word inderdaad ‘n nuwe mens. En jy begin God ken – nie langer as die “oubaas” of die “man daarbo” nie, maar as “Vader wat in die hemel is.”
Waarom “wat in die hemel is”? Waarom is dit so belangrik? Wel, omdat Hy die gans andere is. Ons mag nie van Hom “aards” dink nie. Hy is in ‘n klas van Sy eie. Hy is nie “my goeie pêl” nie. Hy is verhewe in majesteit & heerlikheid en ek mag voor Hom leef in eerbied en vrees (“reverence”). Wat ‘n groot verskil maak dit in ons lewens wanneer ons leer om in EERBIED voor Hom te lewe! Want Hy bewoon die derde hemel en ons die aarde! Dit is so anders as die soort Christelike geloof wat deesdae in baie kerke aan mense opgedis word, waar die eerbied verlore geraak het. Miskien moet ons dit weer baie meer begin beklemtoon dat Hy in die hemel is – dan sal ons baie beter ons eie plek ken.
En tóg is Hy ook baie soos ons aardse vaders: Net so min as wat ‘n aardse pa goeie/betekenisvolle dinge aan sy kind sal ontsê, nog minder sal God die Vader dit doen. Hy sal nie ‘n slang gee as sy kind vis vra OF ‘n klip as kind brood vra nie. So leer die Onse Vader-gebed ons: Die hart van die lewende God is ten diepste ‘n Vaderhart.
Dit is wat heel voor in die ID boekie staan: ‘n Christen-gelowige is iemand wat al hoe meer leer en besef wat die Vaderhart van God persoonlik in die daaglikse lewe beteken. Jou hele lewe van elke dag word ten diepste bepaal deur HOE jy oor God dink. Nou is dit nie so maklik om net te gaan sê : Hy is ‘n VADER nie. WANT: Vir baie mense is ‘n “vader / pa” ‘n heel negatiewe ding. Dit hang af hoe jy grootgeword het. Met watter “prentjie” van ‘n “vader” het jy grootgeword. Daardie prentjie gaan dra jy oor op God. Daarom is dit so belangrik dat ons ons prentjie van God as Vader uit die Woord moet kry. Onthou: Die Bybel is God se selfopenbaring van Homself aan ons. As Hy nie Homself vir ons kom wys het nie, sou ons absoluut niks geweet het nie. In die Bybel kom trek Hy die gordyn bietjie weg en wys vir ons iets van Sy hartklop vir ons. Sy Vaderlike hartklop.
En hoe lyk daardie Vaderhart? ‘n Vader wat intiem betrokke wil wees in die detail goedjies van Sy kind se alledaagse lewe. ONTHOU: Elke liewe mens het vanaf babatjiedag af DRIE BASIESE BEHOEFTES: Wil voel jy het waarde, Wil aanvaar word, Wil liefgehê word. Die Vaderhart van God bied presiese vervulling. Hy aanvaar jou, Hy verstaan jou en Hy het jou onvoorwaardelik lief. Dit geld nie vir alle mense nie. Wel vir hulle wat skape van Sy kudde is – wat in Christus is.
Ons sien dit so meesterlik geteken in Lukas 15. Waaroor gaan Lukas 15? Oor die verlore seun? Nee! Dit gaan oor die VADER. Dit skuif die gordyn weg sodat ons kan inkyk tot binne-in die Vaderhart van God. Wát, dink u, het die verlore seun laat besluit om op te staan uit die ellende waarin hy was? Wat het hom vermurwe, hom gebroke genoeg gemaak om terug te gaan? Wat was dit? Grote besef van sy skuld? Sy eie vrye wil? Die gedagte aan ‘n pa wat briesend by huis wag? Straf? Moeg vir varkekos eet? NEE. Weet u wat het die seun beweeg? Hy het geweet hoe sy vader se gesindheid was. Hy het die Vaderhart geken. Sy pa se vaderhart het hom getrek.
Kyk hoe teken ons Here Jesus hierdie Vader in Lukas 15. Kyk hoe klop die Vaderhart. Kyk na die tederheid. Die onvoorwaardelike liefde. Die seun hoef nie aan ‘n lys voorwaardes te voldoen nie. Hy hoef nie homself eers te bewys nie. Hy hoef nie die egtheid van sy berou te bewys nie. Hy hoef nie ‘n proeftydperk uit te dien nie. Vóórdat hy so-iets kon doen, reël die pa reeds die fees! Selfs sy goedvoorbereide bekeringsgebedjie word kortgeknip. Hy hoef nie lang stories te bid nie. Dit was hierdie gesindheid van die Vaderhart wat hierdie seun gewen het en getrek het. Dit beteken nie ‘n sentimentele soort liefde van “Hy is so lief en goed en dierbaar dat Hy maar altyd verstaan hoe sondig ek is en altyd weer sal vergewe” nie. Nie ‘n Vaderhart waarmee ons maar kan mors nie. Dit het immers die Vaderhart van God die dood van Sy Seun gekos om ons Vader te mag wees. Nie ‘n goedkoop sakie nie. Maar, ‘n Vaderhart wat vol is van voorsienigheid (Mat 7:11) en dol is daaroor om aan Sy kind op alle vlakke te voorsien: fisies, emosioneel, geestelik ens. ‘n Hart vol vriendskap wat daarbenewens die groot raadgewer is (Jer.3:4, Jes 9:6, Ps 73:24). ‘n Hart vol ware egte vriendskap en vol verlossing (Ps 103:8, 12-13). Hy smag daarna om ons foute en tekortkominge te omskep in iets positief. Hy poog altyd om ons terug te bring vanuit ons natuurlike verdorwenheid na Sy volheid. Is dit nie heerlik nie? Daarby maak Psalm 91 dit vir ons oop hoe Hy altyd beskermend optree. Hy is dol daaroor om soos ‘n sekuriteitsmuur te wees.
Die verskillende Hebreeuse name van die Vader openbaar ook Sy hart. In die ou tyd was iemand se naam ‘n aanduiding van sy persoonseienskappe. Kyk na hierdie pragtige openbaring van God se wese vanuit Sy verskillende Hebreeuse Name:
“Adonai” – Gen 18:3,27. Beteken: Heerser, Baas, Heer, Hoogste in bevel.
“Elohim” – Gen 1:2,4. Beteken: Skepper, Soewerwein, Heerlikheid.
“El-Olam” – Gen 21:33. Beteken: Die ewige. Geen begin of einde.
“El-Elyon”- Gen 14:19. Beteken: Die Hoogste een.
“El-Shaddai”- Gen 15:8. Beteken: die Algenoegsame. Hy is genoeg.
“Yahweh”- Die God van die verbond. Die God van verhoudinge.
“Yahweh-Yireh”- Gen 22:14. Die Here wat voorsien.
“Yahweh-Rofe”- Eks 15:26. Die Here wat genees.
“Yahweh-Nissi”- Eks 17:15. Die Here is my Banier.
“Yahweh-Shalom”- Eseg 38:35. Die Here is Vrede.
“Yahweh-Rohi”- Ps 23. Die Here is ‘n Herder.
“Yahweh-Shammah”- Eseg 48:35. Die Here is hier.