GOD GEEN VIR JOU OM!
LUKAS 12:28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
Dit is ‘n wonderlike gedagte om te besef dat God vir sy kinders omgee! Graag wil ek net ‘n paar voorbeelde uit die lewe van Petrus met u deel.
In Markus 1:29-31 neem Petrus die Here na sy skoonma sodat die Here haar kan genees. Verseker was Petrus lief vir sy skoonma dat hy tot die Here gaan vir genesing. Die Here Jesus gee om en genees Petrus se skoonma.
Hoe wonderlik om te besef dat die Here ook vir jou omgee? Hy is die Geneesheer en jy kan met jou siekte na Hom toe gaan.
Verder lees ons in Lukas 5:1-11 hoe die Here vir Petrus gehelp het , deur vir hom te sê waar en hoe om vis te vang. Petrus die ervare visserman het die hele nag probeer maar toe die Here vir hom sê waar toe kom die visse in.
Hoe baie probeer jy nie om dinge op jou eie te doen nie? Selfs deur die nag werk jy maar niks gebeur nie! Is dit nie tyd dat jy by die Here hoor wat om te doen nie? God gee vir jou om!
In Matt. 17:24-27 lees ons dat Petrus moet die tempel belasting betaal maar dat hy geen geld het nie. Jesus sê vir hom om ‘n vis te vang en dat die stater – geld – in die vis se bek sal wees om te kan betaal.
Wat is jou nood? Vra vir die Here wat om te doen en Hy sal verseker raad gee. Hy gee immers om vir jou!
In Lukas 22:50-51 lees ons dat die Here ,toe hy in die tuin was en die skare gekom het om Hom te vang, toe het Petrus Malgus se oor af gekap. Dit is die Here wat Malgus se oor herstel.
Dit gebeur een of ander tyd dat ons ander beseer – hetsy woorde , dade , optrede , wat ookal. Dit is die Here wat ook daardie mense herstel wanneer ons Hom vra om dit te doen. Hy gee om!
Dus is dit belangrik om vandag te besef dat die Here vir jou omgee. Jy en God weet in watter toestand jy is en in watter sake jy hulp benodig. Hou op om self te probeer. Buig voor die Here en gee al die sake vir Hom en wag dat Hy dit op Sy manier en tyd hanteer.
GEBED
Here, baie dankie dat U vir my omgee! Dankie dat ek dit nou deur die geloof kan ervaar ten spyte van al die laste wat op my skouers druk. Ek weet nie waar die uitkoms vandaan sal kom nie , maar my oë is op U. AMEN