Tafelberg Gemeente Reeks oor die Modelgebed no 4
'n Christen is iemand wat dors na God se wil
Skrif: Matteus 6:10, 16:21-28, 26:35-48
In hierdie preekreeks is ons besig om na die ONSE VADERGEBED vanuit ‘n ander hoek te kyk, naamlik nie as ‘n gebed nie, maar as ‘n soort geloofs-ID-dokument. Dit mag dalk vreemd klink, maar kyk mooi en u sal sien hoedat ‘n mens in hierdie gebed 6 kenmerke van ‘n gelowige sien – wie/wat ‘n Christen is – identiteit dus. Byvoorbeeld: Iemand wat uit die Gees gebore is, het God die Vader ás Vader leer ken en hy/sy begeer dat God Homself sal heilig in sy/haar lewe en verder is daar ‘n verlange dat die koninkryk van God moet kom. Dit is die eerste 3 kenmerke van ‘n verloste mens – wat ‘n mens raaksien in die eerste 3 bedes van die ONSE VADER!
Nou kom ons by die 4de kenmerk – waarvan ons die diepte wil peil deur te luister hoe die Woord dit vir ons oopmaak: ‘n Gelowige is iemand wat dors na die wil van God. Sonder twyfel die “moeilikste” bede in die ONSE VADERGEBED. Baie moeilik vir ons gevalle Adamnatuur. Ál wat ons Adamnatuur wil bid is: “Laat mý wil geskied.” En almal van ons weet uit ondervinding: die resultaat dáárvan is frustrasie, onvrede, ongelukkigheid, verwoesting. Slegs God-drieënig se wil bring hemel op aarde. In die hemel is dit tewens juis hemel omdat Gód se wil daar geskied. Dáár voer ons Here Jesus steeds die Vader se wil uit, die engele voer Sy wil uit (Ps 103) en die gelowiges wat reeds gesterf het voer Sy wil uit (Openb 5). Na die mate waarin hierdie wonderlike wil van die Vader ons lewens beset én ons sondige wil vervang, na daardie mate beleef ons ook nou reeds iets van die hemel in ons lewens.
Dit alles weet ons goed. Maar: Dis glad nie so ‘n maklike saak nie. Iewers binne-in ons sit daar ‘n monster wat stry en baklei teen die wil van die Here. Kyk hoe swaar het selfs ons Here Jesus dit gehad. In Sý binneste was daar tog geen sonde-monster nie (Hebr 4:15). Geen Adamnatuur nie (uit maagd gebore!). En tóg het Hy bloed gesweet in Getsémane – om uiteindelik die Vader se wil te laat geskied. Vir Hom het dit beteken: ‘n moeilike pad : ‘n pad van die kruis. Die uiteinde van alles, was egter die beste van alles. Almal wat die Vader aan Hom gegee het, is met die Vader versoen deur Sy bloed. Die wil van die Vader was ‘n moeilike pad, maar dit het uiteindelik hemel gebring vir baie.
Maar nou die praktiese vraag: Wat beteken dit alles vir ons vandag? Wat presies word bedoel met hierdie “wil van God”? Wat is hierdie wil van die Vader? Hoe kan ek te wete kom wat hierdie WIL in mý lewe is? Hoe kan ek weet dat die Here my volgens Sy wil lei in die alledaagse lewe & keuses? Beteken dit dat ek maar net alles wat in my lewe gebeur passief moet aanvaar as God se wil? Berus in alles? Beteken dit dat ek net moet sorgdra dat ek nie opstandig word nie? Dat ek net altyd moet sorgdra dat ek altyd kan bid: “Laat U wil geskied”. Is dit wat dit beteken? Alles wat oor my lewenspad kom is van Bo só beskik en daarby berus ek?
Hoor een ding goed uit die Woord : Om daarna te dors dat die Here se wil moet geskied beteken nie dat ons passief word nie. Dit maak my as kind van die Here juis AKTIEF. Ek berus nie maar net nie. Ek aanvaar nie maar dat alles die Here se wil is nie. Onthou: Christenwees beteken dat die Here met my in ‘n LEWENDE VERHOUDING staan en ek met Hom. Ek sit nie agteroor in ‘n gemakstoel nie!!
Weer eens: Kyk na Christus self in Getsémane : Hy worstel met die wil van Sy Vader. Hy kom nie so maklik by die punt om Hom oor te gee aan Sy Vader se wil nie. Hy wíl Sy Vader se wil doen, maar die lydensbeker word te erg. Nogtans bid Hy : “Nogtans nie My wil nie, maar U wil”. Dis ‘n stoeigeveg.
Daar is nog talle ander voorbeelde in die Bybel: HISKIA, ABRAHAM (en Sodom), PAULUS. En, toe hulle so stry met die Here, luister Hy aandagtig na hulle. Hiskia verkry 15 jaar by sy lewe. Abraham vind by die Here ‘n uiters geduldige oor wat na hom luister. Paulus word nie verlos van die doring in sy vlees nie, maar hy kry ‘n definitiewe antwoord van die Here. In al hierdie gevalle het die Vader se wil geskied. Dit bring rus en vrede, selfs al is die omstandighede soms nie so rooskleurig nie. Maar: die gelowiges het nie maar sommer net alles passief aanvaar wat gebeur nie. Hulle het in ‘n lewende verhouding met Here gestaan. Hulle het gestoei met die Here – totdat hulle doodseker was wát die Here se wil was. Dit kom nie altyd maklik nie.
ONTHOU: Wanneer ons bid dat die Here se wil moet geskied, gee ons terselftertyd ons eie wil prys. Dis immers ‘n pad van selfverloëning. Selfverloëning beteken: “ek ken jou nie”. Dis geen grappie nie. Jy bid hierdie bede TEEN jou eie grein in.
Dink as voorbeeld aan die stryde wat gelowiges dikwels moet stry op allerlei gebiede van die daaglikse lewe. Die versoeking knaag om sekere TV programmetjies te gaan bekyk. Of om op internet sekere webwerwe te gaan besoek. Of die versoeking knaag om sommer by ‘n man/ vrou te gaan intrek. Lekker saamwoon: almal doen dit tog in elk geval en hulle sê hulle is Christene. Of die versoeking om skelm te wees om meer geld in jou sak te wil hê. Wel, ál wat jy dán bid is: “Laat MY wil geskied”. Jy kom egter ook agter : Jóú wil bring geen ware geluk en vrede nie. Net onrus / skuldgevoelens. Jy weet presies wat die Here se wil is. Dit staan helder in Sy Woord geskrywe. Jy weet dít sal hemel op aarde bring. Maar: Daar is ‘n monster in jou binneste wat stry teen die Here se wil.
HOE NOU GEMAAK? Daar is slegs een pad van oorwinning: duidelike keuse: selfverloëning. Soos Petrus in Mat 16: Hy kon glad nie verstaan waarom Jesus moes gaan sterf nie. Hy wou met alle mag verhinder dat dit gebeur. Maar dit was al die tyd sy eie wil. Toe sê Jesus: As jy agter My aan wil kom, moet jy jouself verloën – jou eie wil kruisig. Want, wat help dit jou dat jy die hele wêreld wen, maar aan jou siel skade ly?? Wat help dit jou dat jy jóú sin kry, maar jy verloor die Seun van God? Dan het jy niks. Wat help dit jy het ‘n fees van ‘n tyd, maar jou lewe met die Here gaan tot niet? Soos Esau: hy wou net genot vir die oomblik hê. Sy onmiddelike honger moes gestil word. Daarom was hy bereid om sy siel vir ‘n bordjie sop te verkoop .
Kan u iets begryp van wat dit beteken om na die Here se wil te dors. Ons erken daarmee dat Sy wil die heel beste is. Ons smeek ook daarmee: “Here, help my om van harte gehoorsaam te wees”. Ons smeek ook daarmee: “Here help my om vir my eie wil (die monster hier binne-in my) te sê: EK KEN JOU NIE. Dit is die goue weg van daaglikse bekering. Daaglikse verloëning van die eie wil. Dit alleen bring ongekende blydskap en vrede in die hart. Dit bring die hemel tot in ons hart. En, dit is alles die werk van God in ons lewens.
Maar hoe kom ons die wil van die Here te wete wat betref ons alledaagse besluite?
T-aansluitings, vurk in die pad? Moet jy wag vir ‘n hoorbare stem wat jou lei of sekere gevoelens of dalk ‘n droom of twee? Wel, ‘n baie goeie beginsel om te onthou is dat die Here ons meesal lei in die gewone gang van ons menswees/lewe. ‘n Sleutelvers om te onthou is 1 Petrus 4: 11 – “so moet julle God dan verheerlik deur Jesus Christus.” God se wil sentreer altyd rondom Sý verheerliking en die mens wat die beste te wete kom hoe God se hart klop in verskillende situasies is die mens wat daagliks omgaan met die Woord/Bybel en gebed. Soos wat ‘n vlieënier in die nag die liggies weerskante van die aanloopbaan dophou om te sien of hy in lyn is met die aanloopbaan, so hou ‘n gelowige ook ‘n klompie liggies (navigasieliggies) dop om te sien of hulle “in lyn lê”. Die liggies is: Die Woord, die gebed, die omstandighede, ander betroubare gelowiges se mening, eie persoonlikheid/talente/gawes. Al 5 liggies flikker wanneer dit werklik gaan oor die verheerliking van God wanneer ons lewenskeuses moet maak. Maar wanneer ons skeefloop of dit gaan oor selfsug en eiebelang, sal sommige liggies nie skyn nie. Só weet ‘n mens dat jy nie in lyn is met die aanloopbaan nie.
Mag die Here hierdie Woordverkondiging én die gebruik van die nagmaal gebruik om die dors na Sý wil in ons lewens aan te wakker.