Tafelberg Gemeente Reeks oor die Modelgebed no 5
'n Christen is iemand wat aardse dinge geestelik benader
Skrif: Matteus 6: 11, Prediker 2:24-25

Vanoggend kom ons by die 5de kenmerk van ‘n gelowige-in-Christus, naamlik dat ‘n gelowige óók fisiese/stoflike dinge geestelik (d.i. uit die geloof) benader. Ons vind dit in hierdie woorde: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” “Brood” word natuurlik baie wyd bedoel: die totale materiële lewe & fisiese behoeftes van elke dag. (Sien die Josefverhaal – Gen 47). “Brood” is die eindproduk van ‘n hele proses: klimaat, landbou, ekonomie ens. Gaan nie net oor ‘n toebroodjie wat ons mag eet nie.

Daar is ook maar baie verkeerde idees oor hierdie saak. Sommige mense dink ons kan nie die Here lastigval met fisiese/stoflike behoeftes nie. Dis benede Hóm. Hulle dink hierdie “brood” word as iets geesteliks bedoel – soos bv. dat Christus self die brood is. Ander mense ag hierdie bede oorbodig want hulle het dalk ‘n goeie inkomste en koop self wat hulle wil hê. “Jy bid nie vir sulke dinge nie – jy sorg net dat jou inkomste groot genoeg is. Jy doen iets. Indien jy alles het, waarom vir brood bíd? Pleks van bid, dóén liewer iets!” So redeneer mense.

Beide hierdie sieninge is verkeerd. Eerstens verdeel die Bybel nie ons lewens in twee kompartemente nie – so asof daar ‘n fisiese/stoflike én ‘n geestelike kompartement is en dat die Here in laasgenoemde kompartement spesialiseer nie. Totaal onbybels. Die Woord leer dat Hy HERE is van ons hele lewe as ‘n eenheid. Die tweede siening is egter ook verkeerd, want die Here leer ons dat álle gelowiges vir brood bid – nieteenstaande inkomste en of hulle genoeg aan die stoflike dinge het of nie – wánt (en dit is die krux): ‘n gelowige moet leer om die fisiese lewe geestelik te benader. Want, doen jy dit nie, dink jy so maklik dat jy ‘n REG het wat jy kan uitoefen. Die bede klink baie soos ‘n soort reg wat ons kan uitoefen : “Here, ek wil eet, ek mag eet, géé my wat ek nodig het.” Die waarheid is net die omgekeerde. Kyk ons na hoe die res van die Skrifte oor ons brood praat, moet ons byna vra: mág ons enigsins nog eet? Dit kanselleer eenvoudig enige moontlike reg wat ons op die LEWE as sulks het.

Salomo (wat Prediker geskrywe het) het ook gedink dat hy so baie reg op alles gehad het. Presies soos die moderne mens. Salomo was immers ‘n skatryk koning. Hy het geen gunsies van enige iemand nodig gehad nie. Tog was hy ‘n soekende mens. Hy het alles in lewe beproef om vas te stel wat nou eintlik die sin van die lewe is. Alles wat hy wou gehad het kon hy eenvoudig koop. Geen probleem nie. In die boek Prediker vertel hy vir ons wat hy alles gaan beproef het. Wat (volgens hom) ware geluk in die lewe sou gee. Hoofstukke 1-2: Wysheid, kennis, studies, wyn, drank, eiendomme (huise gebou, wingerde geplant), geweldig baie vee, silwer en goud, vrouens in menigte. Hfst 2:10: “ALLES WAT DIE Oë BEGEER, het ek myself nie ontsê nie”. Slotkonklusie: Alles ‘n gejaag na wind. U sien: Salomo het gedink dat daar iets in homself kleef wat maak dat hy ‘n reg het op die lewe. GEVOLG? Depressie en frustrasie en ontnugtering.

Tog is daar een ding wat ons nie mag miskyk nie. Dwarsdeur Salomo se worstelinge was die Here die heeltyd by hom om sy oë oop te maak – om rus in sy siel te bring. Uit pure genade. Indien ‘n mens 2: 24-25 lees, is dit byna asof dit iemand anders is wat dit geskryf het (nie dieselfde Salomo nie). Dit klink totaal anders as die vorige 2 hoofstukke. Dit praat ‘n ander taal. “Dis nie ‘n goed wat in my as mens kleef wat maak dat ek kan eet en drink nie – goeie kan geniet – dit kom uit hand van God”. VERDER: “Wie kan eet en drink sonder HOM?”. ‘n Totaal ander sienswyse kom in Salomo se hart. Geen reg op daaglikse brood. Daar is nie ‘n goed wat in die mens kleef nie. Die mens het geen reg op brood nie. Hy moet steeds daarom bid. Moet leer om CHRISTUS in die brood te sien. Hy moet leer dat Jesus se verlossing op Golgota nie net iets met ons “siel” te make het nie, maar ook die kanaal is waardeur ons ons stoflike behoeftes ontvang. Hy moet leer dat álles waarin Christus nie die sentrale rol speel nie, vervloek is. Alles wat nie uit geloof is nie, is vervloek. Alles waarin “koning mens” sentraal staan, is vervloek. ‘n Mens kan sien hoedat daar by Salomo ‘n stuk bekering gekom het. Onder die werking van die Gees, het hy ‘n totaal ander uitkyk op sy daaglikse brood begin ontwikkel en besef dat dit iets is waarvoor GEBID (geestelik benader) moet word.

Wat beteken hierdie BID vir die daaglikse brood dan nou? Beteken dit om elke keer ‘n tafelgebed te bid? Of beteken dit dat ‘n mens niks mag besit nie – jy moet elke dag bid en die kraaie moet vleis aandra? Manna moet uit hemel val? Hoe bid ‘n mens vir brood indien jy genoeg geld het en self koop wat jy wil hê? Gemaakte sakeman : hoe bid hy vir daaglikse brood? Hy gaan koop tog eenvoudig wat hy wil hê. Hoe kan jy afhanklik van die Here bly, terwyl jyself alle vermoë het? Wat beteken hierdie gebed dan?

Prediker 2: 24-25 ( Salomo se ontdekking) sê vir ons presies wat dit beteken om te BID vir daaglikse brood. Dit beteken: Ek moet my al hoe meer bekeer om al hoe meer te leer om die alledaagse lewe geestelik te benader. Uit die geloof. Dit beteken: Om CHRISTUS werklik in alles sentraal te stel. In my brood, moet Christus Jesus sentraal wees. Nie MY REGTE nie. Nie koning mens met al sy vermoëns nie. Ek moet leer, dat ek selfs nie eens iets kan eet of iets drink, omdat daar ‘n goedheid in mý kleef nie. Ook my eet en drink het alles te make met die Heres e verhouding met my – met die genade van Golgota waaruit ek prinsipieël leef. Niks is vanselfsprekend nie. Ek het geen reg om te mag eet nie. Ek het geen reg op die lewe as sulks nie. Ek eet om Christus ontwil. Sien u die pragtige geloofsuitkyk op die lewe?

So ‘n geloofsuitkyk op die alledaagse lewe, veroorsaak natuurlik dat my denke oor stoflike goed totaal anders is as wat die wêreld s’n is. En dit bring konflik. Ek voel eintlik heel uit by wêreldse mense. Brood en botter staan nie meer voorop nie, maar Christus. Ek BID mos vir my brood. Ek eet mos nou uit genade. Daarom roem ek nie meer in mý vindingrykheid, krag, geld, fantastiese tegnieke nie. My sekuriteit lê nie meer in my bankbalans en eiendomme nie. Dus doen ek my saketransaksies op ‘n ander manier as wêreldse mens. Ek kies my loopbaan op ‘n ander manier. Ek doen nou besigheid sonder om Christus te verloën. Bereken belasting sonder om Christus te verloën. Ek is ook nou in staat om baie meer eenvoudig te leef en meer geld beskikbaar te stel vir koninkryk. Ek kan nou ‘n lofoffer bring vir die mees eenvoudige kos op tafel. Dankbaar vir die eenvoudigste kos. Nie meer ontevrede omdat ek nie kan bekostig wat ander het nie. Ek word nie meer gedryf deur gierigheid en hebsug na die lotto en geluksgod nie. Ek weet nou: My Vader kan ‘n tafel dek in die woestyn. Ek BID vir my daaglikse brood, al het ek oorvloed. Al kan ek self koop wat ek benodig. Ek BID steeds, want ek leef uit geloof. Christus staan sentraal en nie die brood nie.

Ten slotte net ‘n opmerking oor die woordjies “daagliks” en “vandag”. Moenie dink dit staan toevallig daar nie. “Gee ons VANDAG ons DAAGLIKSE brood”. In die Grieks beteken “daagliks” letterlik: “dit wat ek vandag nodig het”. Dit beteken dus: “Dit wat werklik nodig is.” U sien dit sê ‘n mondvol, want die Here wys vir ons hier dat ‘n kenmerk van ‘n gelowige is dat hy/sy tevredenheid & nederigheid (ootmoed) leer ken het. Ja, ons weet die Here gee dikwels ver bó dit wat ons nodig het. Dink aan die verlore seun wie se pa aan hom ‘n partytjie, ‘n ring, nuwe skoene en drukkies en soene gee. Dink aan die Here se verskyning aan Salomo waar die Here sê: “Ek sal jou ook gee dit wat jy níé gevra het nie.” Tog – indien God wél surplusse gee, is dit Sý voorkeur (prerogatief), maar ons lewe nie vir die surplusse nie, maar ons leer tevredenheid met dít wat ons wél ontvang, want ons het geleer dat die lewe nie bestaan uit wat ons HET nie (Luk 12:5). Dit is wat bedoel word met “daagliks” – dit wat werklik nodig is – en net die Here alleen weet wát dit werklik is. Paulus (byvoorbeeld) het gedink dis noodsaaklik dat die doring in sy vlees moet wyk, maar die Here het ánders gedink.

Ten slotte: Die woordjie “vandag”. Waarom verwag ons nie ‘n jaar se voorraad van die Here nie? Soos die verlore seun wat sy hele erfenis onmiddelik wou hê. Waarom werk die Here vandag nog met ons soos Hy toentertyd met die Israeliete gewerk het toe hulle elke dag se voorraad manna (net die dag s’n) in die oggend moes optel?

Die antwoord is absoluut wonderlik: Die Here tref maatreëls om ons op ‘n daaglikse basis aan Homself vas te bind – sodat ons nie aan Sy gawes vasgebind sal word nie. Byna soos ‘n ma wat vir haar kind slegs ‘n toebroodjie insit skooltoe – sodat die kind elke keer weer na háár toe moet terugkom vir nog kos. Dit is die betekenis van die woordjie “vandag”. Dit wys vir ons wát die gelowige se lewe kenmerk, naamlik die vasgebind wees – níé aan die Here se gawes nie, maar aan die Here sélf – en dit op ‘n daaglikse basis.

Mag die Here aan ons elkeen diepe insig gee om te verstaan wat dit beteken om stoflike & materiële dinge geestelik te benader – want dit is die 5de kenmerk van ‘n ware Christen, soos die ONSE VADERGEBED dit vir ons openbaar. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00