TAFELBERG GEMEENTE Reeks oor gelykenisse nr 8
Tema: Aan die feestafel van die glimlaggende God
Skrif: Lukas 14: 14-24

’n Sekere skryfster met die naam van Erna Bombeck vertel van die keer toe haar gemoed in kerk volgeskiet het – maar nie van blydskap nie. Die erediens was aan die gang en ’n klein seuntjie het omgedraai en vir almal geglimlag. Nie ’n geluidjie gemaak, nie stout, nie voetjies gestamp, nie liedboekie stukkend geskeur nie, nie in ma se handsak rondgevroetel nie – niks van die aard. Toe pluk sy mamma hom om en sê hoorbaar: “Hou op lag, jy’s in die kerk”. Toe gee sy hom ’n raps en toe die trane loop, sê sy: “So ja, dis beter”. Erna Bombeck sê sy was skielik kwaad & hartseer. “Ek wou die kindjie vasdruk en hom vertel van mý God, die vrolike glimlaggende God – die God van blydskap, humor en feesvreugde, want as daardie kindjie nie in die érediens kan glimlag nie, wáár in die harde wêreld dan?”

Gemeente, die eerste & laaste woord wat oor die Koninkryk gesê kan word is sekerlik die woord vreugde. Die vreugde wat Hy in ons het, vanaf ons doop reeds. En, die vreugde wat ons in Hom mag hê. Die gelese gelykenis getuig 1000 maal daarvan. Wat die Here vir ons in die oog het, is feesvreugde. Só getuig die gelykenis in alle tale. Luister net na die uitnodiging: “Kom tog na die fees! Kom sit tog aan by die banket van die glimlaggende God”. Dit is God se groot doelwit met Sy uitverkorenes: feesvreugde sonder einde: sáám met en bý Hóm! So was dit aan die begin gewees: Gen. 2. So sal dit wees aan die einde: Open 22. Dit is die hoogste doel & sin van die mens se bestaan op aarde. Volgens die Westminster Konfessie is dít doel van die lewe: “Om God te ken en Hom tot in ewigheid te geniet”. Dit is die groot geheim van die Blye Evangelie van die Bybel. Dit is die boodskap wat gereformeerde gelowiges so vertroetel. Die Blye Boodskap van ’n God wat nie in die kerk inkom en mense reg of weg klap nie. Maar, veel eerder, vanuit Sy onverklaarbare genade, Sy feesarms om ‘n bankrotsondaar kom sit en saam met jou glimlag! Ons kan so maklik gewoond raak aan dit alles, dat ons dít uit die oog verloor. Ons kan so maklik gewoond raak aan die Gasheer. Dan word jou godsdiens ’n dooie stuk formalisme. ’n Geploeter. ’n Vervelige iets wat jy maklik verruil vir TV of Internet of iets meer opwindend. Dan word gebed en Bybellees vervelig & droog. Wat kan erger wees as dit? ’n Geploeter!

Skynbaar word die Here se vreugde (in die gelykenis) van die begin af bedreig. Nie omdat die Gasheer te min moeite gedoen het nie. Inteendeel: Hy doen alles en veel meer (soos dit die gebruik was in daardie tyd). Dubbele uitnodiging: a) Lank voor die tyd: Laat weet: “Op daardie datum is daar ’n fees, kry jouself gereed en skryf die datum in jou dagboek..” b) Net voor die fees: ’n Dringender oproep: “Kom nou! Dis nou tyd! Die fees begin binnekort! Maak gou, anders kan jy die vreugde van alles misloop!” Dis mos presies hoe die Here met Sy verbondsvolk Israel gemaak het. 1) Eerste uitnodiging was die profete wat tydig en ontydig gepreek het: “Die grootste maaltyd is aan die kom in die beloofde Messias! Kry julle gereed vir die Verlosser”. 2) Dringender: Jesus self preek, Hy wat die Gasheer is: “Dis nóú die tyd. EK is die fees (Open 3:20).

Aan die een kant : Alles is reg vir die fees. Tafels is gedek, liggies flikker, die vleis sis op die kole, die aroma vul die atmosfeer, die musiekmakers is ingeoefen, die spanning loop hoog. AAN DIE ANDER KANT: Al die genooides maak verskoning. Dit staan soos ’n seer vinger uit in gelykenis. En dit is goeie verskonings! Dit gaan alles oor dinge wat die Here gegee het: huwelik, besigheid, boerdery. Alledaagse ordentlike dinge. Maar, dis net hier waar die grootste struikelblokke lê in die pad van God se fees. Slagysters wat ’n mens gou-gou vasvang in ’n ek-gesentreerde wêreldjie. Oogklappe wat jou blindmaak vir ’n heerliker wêreld. Die Duitse teoloog Helmut Thielicke het gesê: “Die weg na die ewige verderf is uitgeplavei met skurkestreke, maar ook met onskuldige dingetjies en alledaagse ordentlikheid!!” Kyk net hoe ordentlik maak almal verskoning – wat bewys dat hulle die hele feesmaal misverstaan het.

’n Mens se keel trek toe wanneer jy hierdie gelykenis lees. Want, gaan dit beteken dat “koning mens” die Hére se fees uiteindelik heeltemal sal boikot? Is die fees nou tot niet? Maak die méns in sy sonde die wonderlike bedoeling van die Gasheer tot niet? Was die kruis die einde van alles? Sal die fees ooit plaasvind? Of gaan alles in ’n fiasko eindig? WAT SAL DIE STERKSTE WEES: Die genooides se vreugdelose, domme weiering en simpel verskonings? OF die Gasheer se geesdrif en borrelende entoesiasme? Wat gaan die sterkste wees? Wat gaan die uiteinde van alles wees?

En dan kom die verrassing: Die Gasheer sê: “Gaan gou weer uit. My feessaal móét vol word. Gaan na die strate en gangetjies. Gaan haal die kreupeles, armes & blindes. Húlle wat nooit verskoning sal maak nie, maar wat maar té dankbaar sal wees. My feessaal móét vol word. Gaan gou uit! Bring hulle in! My doelwit met die mensdom sál vervul word, kom wat wil. En my doelwit is: mense wat God tot in ewigheid geniet.”

Deur die eeue klink hierdie woorde: “Gaan gou uit”. Ook vanoggend waar hierdie preek in ons ore weerklink. Want kyk, een ding sal nooit gebeur nie: Sy feestafels sal nie leeg wees nie. As die genooides dan nie wil kom nie, verydel dit nie die gloed in die Gasheer se hart nie. Nooit nie! Hy gaan haal eenvoudig dan diegene in die strate en lanings, wat haastig sal kom. Die feesvreugde sal nooit gedemp word nie. Al val die wêreld totaal uitmekaar. Al voel dit asof alles in duie stort. Hier is die Blye Boodskap: niks van wat die ongelowige mensdom aanvang, kan God se bedoeling stop nie! Die Here se feesvreugde & entoesiasme is 10 000 maal groter & sterker as die genooides se verskonings en hulle weiering! Ja, dit is ook groter as Sy eie toorn!! Juis dít is die dieptepunt van die Bybel se boodskap.

Die teoloog & skrywer Philip Yancey vertel die ware verhaal van iets wat ’n klompie jaar gelede in Boston VSA gebeur het. ’n Verloofde paartjie gaan na ’n eksklusiewe hotel om reëlings te tref vir hulle troudag. Albei het duur smaak gehad en die fees moes net die beste wees. Voortreflike spyskaart. Indrukwekkende silwerware. Mooiste blomme. Rekening: 13000 dollar. Betaal 50% deposito. Gaan kies toe troukaartjies uit.

Op die dag wat die troukaartjies uitgestuur moet word, trek die bruidegom kop uit. Wil nie meer trou nie. Bruid was kwaad en verneder en hartseer. Toe sy die onthaal wil kanselleer, hoor sy tot haar ontsteltenis dat sy nie die volle deposito terugkry nie. Twee opsies: Gaan voort met onthaal OF verloor baie geld. Dit is toe wat sy die roekelose idee kry om voort te gaan met die fees. Nie as huweliksbanket nie, maar as reuse fees vir minderbevoorregtes. Net 10jr tevore was sy self ’n inwoner van ’n nagskuiling. Intussen het sy haar voete gevind en baie geld verdien. Toe besluit sy om die dakloses van Boston te trakteer met ’n fees wat hulle nooit sal vergeet nie. Formele uitnodigings na al die omliggende nagskuilings. Junie 1990: Vreemdste fees wat personeel van daardie 5 ster hotel nog ooit gesien het! Van heinde en verre het mense gestroom: Vertoiingde mense met flenterklere. Hongeriges en siekes. Sommige met krukke en ander met loopringe. Boemelaars wat onder kartonne slaap. Mense, wie se aardse besittings in ’n supermarktrollie kan inpas. Verslaafdes. Hulle stroom in en gaan sit aan by tafels met kraakwit linne, glinsterende silwerware – Bedien deur ellegante kelners in aandpakke. Smullende aan 5-gang maaltyd.

Kyk, ’n meer skreiender kontras bestaan daar seker nie. ’n Meer skreiender kontras tussen AAN DIE EEN KANT: Onverdienstelike mense EN AAN DIE ANDER KANT ’n weelderige 5-ster fees, het Boston en hele VSA en wêreld nog nooit gesien nie…………. BEHALWE………… in die Blye Boodskap vd Bybel!! Kyk mooi …. Tussen die tafels loop die Gasheer ………. Dis Christus Jesus! ……. Kyk na Sy glimlag! Spreek dit nie boekdele nie??

Hierdie preek is grootliks ontleen aan ‘n radiopreek van dr. Johan Cilliers van Stellenbosch 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00