DIE WEDSTRYD IS HALFPAD!

Het jy al die angel van berou beleef, waar jy tot die besef gekom het hoe bitter dit is om te lewe met die gedagte van, het ek maar nie dit gedoen of het ek maar nie dat gesê nie? Indien jy dit nie gedoen of gesê het nie, dan sou die lewe baie beter gewees het! Die oorbegin is een van die “kragte” wat baie mense wens hulle gehad het. Dit is seker omdat so baie mense dinge doen en sê waaroor hulle spyt/berou het.

Dit is baie jare gelede dat een van die spelers op die veld met die bal na sy eie doelpale toe gehardloop het en die skare het hom uitgejou. Die skare het gewonder wat die afrigter daarvan sou sê en met die speler sou doen. Halftyd was almal in die kleedkamer en die afrigter het almal duidelik laat verstaan dat die groep wat eerste helfte op die veld was , weer die tweede helfte gaan begin. Almal het verdaag na die veld, behalwe die speler wat so ’n groot flater begaan het. Die afrigter het na hom gestap en hom hard aangespreek dat hy moet gaan speel. Die man het met trane oor sy wange na die afrigter gekyk en gevra hoe hy dit voor daardie skare wat hom so uitgejou het kan doen? Die afrigter het die speler daaraan herinner dat die wedstryd is halfpad. Die speler het gegaan en een van die beste vertonings ooit in die tweede helfte gespeel.

Die Bybel leer ons, dat wat gedoen is, is gedoen. Daar is geen sin daarin om terug te gaan en dit oor te beleef en dit oor te doen nie. Die Here het een rigting vir ons in hierdie lewe en dit is vorentoe en nie agtertoe nie. Dink aan koning Dawid. Hy het gesondig en God nie behaag nie. God het hom gestraf vir sy sonde en Dawid het daaroor getreur. Dawid het besef dat hy nie so kan aangaan nie en die saak agter hom gesit en weer die volgende helfte van die wedstryd begin. Hier is die wonderlike les vir jou en my. Daar is geen sin daarin om terug te gaan nie , maar net vorentoe. Wanneer jy sondig is dit goed om te besef dat die wedstryd is net halfpad. Dit is met belydenis en hartseer oor ons sonde dat God vir ons ’n tweede kans gee in die wedstryd, met die kennis en ondervinding, dat in die tweede helfte van ons lewe hierdie saak nie weer moet gebeur nie. ’n Beter wedstryd kan jy ervaar, indien jy die berou en spyt agter jou plaas en hoop aantrek vir die wedstryd voor jou.

MATT. 6:34 “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”

GEBED

Here ek plaas alles agter my en ek hou my oë op U. AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00