Die waarde van duisternis

‘n Man is genooi om na ‘n skildery te gaan kyk, wat ‘n kunstenaar pas voltooi het. By sy aankoms is hy na ‘n donker kamer geneem. Vir meer as ‘n kwartier, wat vir hom na ‘n uur gevoel het, is hy in die donker kamer alleen gelaat. “Ek is verbaas oor die manier waarop u my ontvang het,” sê hy ergerlik vir die kunstenaar, toe hy na die ateljee geneem word. Die kunstenaar antwoord: “Dit was nie sonder rede nie. Ek weet dat u met die gloed van die strate in u oë by my aangekom het. U oë was nie gereed om na my werk te kyk nie. U sou die fyn spel van kleure nie kon raaksien en waardeer nie. Ek het u in die donker laat wag, sodat die felheid van die lig buitekant, eers deur die rus wat die donker vir u oë sou bring, weggeneem kon word. Nou sal u die kleure in my werk, en ek hoop ook die diepte, beter kan sien en beter waardeer.”
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor.4:17). Ons verduur ook soms donker tye. Dit verdiep ons insig in God se weë met ons. Job het ‘n baie donker tyd moes deurmaak, maar hy getuig dat dit hom beter laat sien het: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien …” (Job 42:5).

                                                                          UIT:- MORELATA PARK  E-NUUSBRIEF 23/3/2011

GEBED

Vader, baie dankie vir die vrede wat u my gee. Dankie dat ek ook die donker tye in U hande kan laat met die wete dat U in beheer is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00