TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 3
Skrif: Handelinge 3
Tema: Méér as goud & silwer

Ons het die afgelope paar Sondae die eerste twee hoofstukke van Handelinge vers-vir-vers bestudeer en gesien wat die betekenis van (pinkster) die gawe/koms van die Heilige Gees is. Nou die volgende toneel wat Lukas neerpen: dis 3 uur in die middag en Petrus & Johannes is oppad na die tempel in Jerusalem en terselftertyd roep ‘n man na hulle. ‘n Bedelaar – kreupel vanaf geboorte. Elke dag moes hy na die tempel gedra word om te bedel. Dit was sy lewensbestaan. Daarom smeek hy die twee apostels vir geld. Hy het geen saak met die evangelieboodskap óf met die Here nie. Hy wil geld hê om te oorleef. Toe gebeur dít wat hy nooit van sou kon droom nie. Hy ontmoet die lewende Christus. Skielik. Onverwags. Verrassend – soos dit die geval is wanneer ‘n mens met die opgestane Jesus te make kry. Petrus sê vir hom: “Goud & silwer het ek nie. Maar wát ek het, gee ek vir jou. In die Naam van Jesus van Nasaret: staan op en loop!” Die Here spesialiseer met baie méér as klein goedjies soos goud & silwer. Hy skenk lewenskwaliteit. Hy skenk LEWE. Uit vrye genade – sommer net so! Hierdie man het aan geen voorwaardes voldoen nie. Hy het nie eens aan die Here gedink nie. Hy wou geld hê. Maar hy krý wat hy glad nie verdien of verwag nie. Pétrus het geen krag of mag nie. Hy is ‘n gewone mens. Maar hy bedien die genade! Dit wat hyself ontvang het en ken, déél hy met ander. Hy steek nie vir ‘n oomblik die lig onder ‘n emmer weg nie. Hy gebruik elke geleentheid om Christus met ander te deel.

Stel jouself voor hoe pap is ‘n mens se beenspiere indien jy nog nooit in jou lewe geloop het nie. Maar hierdie man se bene & voete word oombliklik sterk en hy begin onmiddelik loop & spring. Hy ontvang geen lesse hóé om te loop nie. Hy loop! En spring! Want u sien: Jesus léwe. Hy het waarlik uit die dood opgestaan. Dit het niks met Petrus te make nie. Dit is presies wat Petrus vir die verbaasde skare mense sê toe hulle oë amper uit hul kop val toe hul die man sien loop & spring. Petrus sê nie ‘n dooie woord oor die geweldige wonderwerk wat plaasgevind het nie. Hy praat nét oor die verheerlikte Christus. Hy sê as’t ware: “Kyk weg van die wonderwerk – kyk na Jesus”. Absoluut die teenoorgestelde as wat ons menslike natuur doen – om die fokus op die wonderwerk te plaas. Maar so gebeur dit wanneer die Heilige Gees ‘n mens beheers.

‘n Mens kan Petrus se toespraak in 3 paragrawe verdeel. Hy beklemtoon 3 sake: 1) die feit dat Jesus verheerlik is 2) die feit dat dít wat die OT profete gesê het, vervul is in Christus en 3) die feit dat alle mense tot bekering moet kom.

1. JESUS IS VERHEERLIK: Petrus sê vir die mense: “hierdie genesingswonder sê alles oor wie/wat Jesus van Nasaret is. Dat Hy die verheerlikte Koning is. Ek weet julle dink niks van Hom nie. Julle het Hom mos oorgegee om gedood te word. Julle het Hom mos verwerp voor Pilatus. Dit was ‘n verskriklike sondeverduisterde keuse, want julle het die Heilige & Regverdige verstoot en in Sy plek ‘n moordenaar verkies. Julle het die Outeur van lewe vermoor en in Sy plek iemand verkies wat moor & doodslaan. Maar, God het Hom uit die dood opgewek. God se oordeel oor Jesus is net die teenoorgestelde as die mense s’n. Julle het Hom gedood, maar God het Hom gekroon. Sover dit júlle aangaan, is Hy ‘n nul op ‘n kontrak, want watter verlosser & koning kan tog so magteloos ly & sterf? Maar God het ánders geoordeel. Hy het Hom tot die hoogste posisie verhef. Dít is waarom hierdie man genees is. Dit is Jesus se Naam en die geloof wat deur Jesus kom, wat aan hom genesing gegee het. Dit is omdat Jesus op die troon sit. Julle kan wéét dat Hy Koning is deur na hierdie springende & huppelende man te kyk!”

Hierdie woorde van Petrus roep ‘n groot vraag na vore wat betref ons hedendaagse bediening in ons kerke, want impliseer dit dat genesingswonders nog steeds ‘n normale deel van ons daaglikse bediening behoort te wees? Kan dit wees dat ons die krag verloor wat die eerste kerk geken het? Behoort wondergenesings nie vandag nog te bevestig dat Jesus werklik verheerlik is nie? Is ons bediening nie swak & oneffektief sónder hierdie wonders nie? Het ons nie júís weer sulke manifestasies nodig om ‘n impak op ons omgewing te maak nie? Ja, ons moet steeds preek, maar die wonders sal tog maak dat mense werklik luister na die Woord…?

Wel, vir geen oomblik mag ons ontken dat die Here vandag steeds genesingswonders verrig nie. Tewens, in hierdie gemeente was ek die getuie van hoe Hy iemand plotseling genees het – ons het dit net nie aan die groot klok opgehang nie. Ons glo onverbiddelik dat Hy dit steeds doen. Die vraag is: moet dit die kern van ons daaglikse bediening uitmaak – om te bewys dat Jesus verheerlik is? Of is die Woord alleen genoeg?

Ons vind die antwoord deur na die breër konteks van die Bybel te kyk. Dan vind ons dat die genesingswonders wat die Here steeds vandag doen van ‘n ander soort is as díé wat ons in Handelinge aantref. In Handelinge het die Here wonders gedoen om die unieke gesag van die apostels te bevestig. ‘n Merkteken van ‘n wáre apostel, was tekens & wonders vlgs 2 Kor 12:12. Hebr 2: 3-4 beaam dit. Indien ons na die Bybel as geheel kyk sien ons iets merkwaardig: Elke keer wanneer daar ‘n kerndraaipunt in God se geskiedenis met die mens kom, is daar sprake van unieke leiers en.. wondertekens. Wondertekens vind in sulke “kompartemente” plaas – elke keer wanneer daar ‘n nuwe mylpaal in die geskiedenis kom: 1) Tyd van Moses, die groot Wetgewer. 2) Tyd van Elia & Elisa – wat die tydperk van die profete inlei. 3) Tyd van Jesus se aardse bediening. 4) Tyd van die apostels – toe die grondslag van die kerk gelê is. By elke nuwe fase is daar wondertekens om gesag te verleen. ‘n Mens sien dit in Handelinge = elke keer wanneer die evangelie nuwe (voorheen onbereikte) areas bereik, is daar wonders – veral as die apostels daar bedien. ‘n Mens sien dit selfs vandag nog wanneer die evangelie totaal-onbereikte lande binnedring – bv. sekere Moslemlande, dat wondertekens die Woordbediening vergesel. Nietemin is die normale manier waarop die Here se kerk groei en gedy, deur die prediking van die Woord, óók in Handelinge – soos ons mettertyd sal sien. En daar is één wonderteken wat áltyd die Woordbediening vergesel: die Gees maak geestelike blindes se oë oop. Dis die grootste wonder van almal. Dis die grootste teken dat Jesus verheerlik is: duisende mense word steeds daagliks wedergebore, deur die magtige werk van die Heilige Gees deur die verkondigde Woord.

2. DIE WOORD VAN DIE PROFETE IS VERVUL: Dis ‘n baie groot ding wat Petrus hier sê – en steeds baie relevant vir ons vandag. Alles wat met Jesus gebeur het, was ‘n letterlike vervulling van meer as 100 duidelike OT profesië. Mense wat so krities is op die NT gegewens en dink dit is stories wat opgemaak is, moet weer dink en ‘n vraag beantwoord naamlik: hoe is dit menslik moontlik dat meer as 100 voorsegginge in één man bewaarheid kon word? Weet u wat is die kans dat ‘n mens net 5 voorsegginge van ‘n ongebore baba sou maak (bv. watter vakke in matriek, met wie trou, watter beroep beoefen) en dat dit bewaarheid sou word? Tien-tot-die-mag-sewentien. Dus: NUL. So goed jy begrawe Kaapstad in muntstukke en merk net een en vra ‘n geblinddoekte persoon om met één probeerslag die munt uit te haal. Maar, in Christus is meer as 100 profesië bewaarheid. Hy is die kulminasiepunt van die hele OT. Dáárom benodig ons so desperaat grondige onderrig in die OT in vandag se kerk. Ons moet ons mense weer ‘n vaste basis onder hul voete gee. Op watter manier gee Petrus die mense ‘n vaste basis? Deur vir hulle te wys hoedat alles wat met Jesus gebeur het, ‘n vervulling van OT profesie was. God se Raadsplan is vervul. Dit het nie sommer uit die lug geval nie. Dis nie storietjies nie. Húlle, die Jode, het dalk onwetende & in onkunde hul Messias verwerp, maar, deur dit te doen, het hulle God se raadsplan vervul! Nie die mense se sonde & onkunde het geseëvier nie, maar God se trou aan Sy beloftes!

Petrus is nie skaam om sy OT oop te maak nie. Hy is nie skaam om te sê dat elke bladsy van die OT na Jesus vooruitwys en dat Jesus die hartklop van die OT is nie. Ek het al in NG eredienste gesit, waar uit die OT gepreek word, en dat dit net so wel in ‘n Joodse Sinagoge gepreek kon word – absoluut Christusloos en daarom morsdood. Pétrus het nie só uit die OT gepreek nie. Nee, hy wys onverskrokke vir die mense dat “ál die profete, van Samuel af, gepraat het van die dinge wat nóú (onder hul neuse) gebeur het..” (v 24). Jesus is die lydende kneg van God waarvan die profete gepraat het (v 18). Hý is die groot profeet van wie Moses gepraat het (v 22). Hý is die uiteindelike saad van Abraham, deur wie al die nasies geseën sou word (vv 24-26). Hoe op aarde kan iemand nog twyfel? Behalwe dalk indien ‘n mens wil twyfel. Vir diegene wat nie meer twyfel nie – wie se harte deur die Woord oorwin is – wys Petrus die pad aan: “kom tot onmiddelike bekering…” (vv 19-21).

3. ALMAL WORD OPGEROEP TOT BEKERING : ‘n Mens kan jou voorstel in watter toestand die mense moes wees toe hulle na Petrus se woorde luister. Hulle het heeltyd gedink dat hulle goed gedoen het deur vir Jesus te laat doodmaak en nou hoor hulle dat hulle die Seun van God vermoor het! Kan daar ‘n groter sonde wees as dit? Kan daar vir hulle nog enigsins hoop wees?

En daarom moes Petrus se bekeringsoproep soos lawende koel water oor hul siele gevloei het: “Daar is júís vir julle hoop. Selfs hierdie verskriklike sonde is júís deur Jesus se dood uitgewis. God het julle gered mét die moordwapen waarmee julle Sy Seun vermoor het. God het julle misdaad gebruik om julle die einste misdaad te vergewe – om dit af te skryf. Daarom: bekeer julle tot Hom. Draai in julle spore om. Kóm na Hom toe. En julle sal ondervind dat julle sondes uitgewis word, julle sal verkwik word en God sal julle nuut maak. En wanneer Jesus weer kom, sal álles nuutgemaak/gerestoureer word.”

U sien, ál die bevryding & innerlike verkwikking & transformasie en verandering waarna ons op allerhande plekke soek, is al die tyd in ons Here Jesus geleë: die léwe, wat jy nooit voorheen geweet het dat dit bestaan nie, die las van skuld wat afval, die blydskap, die lewe wat meteens sin maak, die hoop vir die toekoms, die vriendskap met God en die sekerheid van die lewe ná die dood… Maar, hierdie boodskap is so eenvoudig, dat ons dit maklik miskyk. Ons dink dit kan nie werk nie. Of ons dink óns sonde is te groot om uitgewis te kan word. Wel, indien die moord op die Seun van God dáárdie mense vergeef kon word, kan énige sonde van énigiemand hier teenwoordig uitgewis word. Om dit bybels-korrek te sê: dit is alreeds uitgewis – op die kruis. Die Gees open ons oë daarvoor en Hy laat ons daarop reageer en ons tot Hom bekeer en op Sy vergifnis vertrou. Dis die Gees se werk en Hy laat ons dit doen. Dan belééf ons die bevryding – eerstehands.

Dit is amper asof die Here geweet het hoe moeilik dit vir ons sal wees om in geloofsvertroue vas te klem aan die volle vergifnis wat slégs op Golgota verkry is. Daarom gee Hy die brood & wyn in ons hand en mond. Hy gee dit sigbaar & tasbaar en Hy gee dit aan elkeen persoonlik. Daardeur sê Hy vir ons: “My kruisbloed hét jóú skuld weggevee sodat jy splinternuut kan leef. So seker as wat jy die brood & wyn sluk, so seker is jý ingesluit by die verlossing. Glo dit en draai om na My toe.” 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00