DIE “TAPERWARE”- BAK.

Die seun het die naweek vanaf die universiteit gekom by die huis en sy pa was besig om kos te maak. Die reunie was baie aangenaam en so ook die kos wat gemaak is vir die jongman. Die oorskiet kos is in ’n taperware bak geplaas maar hulle konnie die deksel kry wat op die bak pas nie. Daar moet nou by genoem word dat moeder was baie lief vir haar taperware en bykans al die kaste was vol van die bakke.  Eintlik sou dit ’n baie goeie idee gewees het indien sy aandele sou besit in taperware. Pa en seun het die kaste deur gesoek maar die regte deksel kon hulle nie kry nie. Uit moedeloosheid – saggies gesê soos ons mans maar is – het hulle die eerste deksel geneem wat groter as die bak was , dit daarop geplaas en in die yskas gesit.

Moeder het by die huis arriveer en toe sy die bak met die groot deksel sien, het sy, en  glo dit as jy wil, binne dertig sekondes die korrekte deksel uitgehaal en die bak toe gemaak.

Pa en seun het lekker gelag oor die saak en in verbasing gesit en wonder hoe moeder die deksel so vinnig gekry het, terwyl hulle so lank na die regte een gesoek het.

Dit laat my dink aan die tyd van aanbidding teenoor God. Is dit nie soos pa en seun met die groot deksel nie? Ons stap in die kerk en in ons stiltetyd in met die Here en ons gooi alles saam en of ons nou in ware aanbidding is of nie, ons maak klaar, sit ’n deksel op en sê ons was in aanbidding. Dit maak nie saak of ons nou in waarheid aanbid het in die Gees nie, ons is klaar en het dit gedoen.

Verdien God nie meer as dit nie?

 PSALM 40:16   Laat almal wat U soek, in U vrolik en bly wees; laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is die HERE!

HAND. 17:27  sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;

GEBED

Vader, vergewe my dat ek altyd so in U teenwoordigheid in storm? Ek wil U aangesig soek en in gemeenskap met U lewe! AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00