DIE ROOSTERBROOD.
Mamma het eendag vir haar dogter gevra: “Wat dink jy is goedheid? Dink jy dat wanneer jy my vra vir ’n stukkie roosterbrood en ek dit vir jou gee dat dit goedheid is?” Sy het geantwoord ” Mamma ek dink dit is wanneer ek vir roosterbrood vra en mamma gee dit vir my met botter en konfyt!”
Psalm 23:5 …. U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
:6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Liewe vriende , is God nie ook so nie? Hoeveel keer vra jy vir die Here iets en dan deur Sy groot genade gee Hy vir jou baie meer as wat jy gevra het? Is jy tevrede met dit wat jy het of is jy altyd ondankbaar en vra – kerm- vir meer en meer? Die goedheid van die Here is oor jou en as jy net vir ’n oomblik stil word en – soos die Halleluja lied gaan: “ Tel jou seëninge en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk.” – sal jy besef wat God daagliks vir jou gee en doen.
EFES. 3:20 En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,
:21 aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.
GEBED.
Here baie dankie dat ek vandag my seëninge kan tel en kan besef dat dit meer is as al my probleme!! Vader , vergewe my ondankbaarheid en dat ek nie altyd vergenoeg is nie? Here ek wil vir ander iets beteken maar ek besef ek kan dit nie doen as ek die hele tyd op myself konsentreer nie? Help my om U te verheerlik. AMEN.