DIE REGTE BOODSKAP VERKEERD!
Daar was eendag, ’n tyd gelede, ’n paartjie wat baie lief was vir mekaar. Hulle het albei in Johannesburg gewoon en albei van hulle was in die korporatiewe wêreld.
Hulle het die gesegde:- Werk hard en speel hard – uitgeleef.
So gebeur dit dat hulle besluit om ’n naweek in Durban te gaan ontspan. Al die reëlings vir die hotel en vlugte is gedoen. Die man moes die Donderdag alreeds na Durban vir sake en sy vrou sal die Vrydag by hom aansluit.
Hy het veilig in Durban in die hotel gearriveer en besluit om dadelik vir sy vroutjie ’n e-pos te stuur maar sy e-pos het met ’n paar letters deurmekaar geraak. In plaas daarvan dat die e-pos na sy vrou gaan, het die e-pos na ’n pastorie-moeder in Bloemfontein se rekenaar gegaan. Haar man is oorlede en sy het net van die begrafnis gekom en toe die rekenaar aangesit om die boodskappe af te trek en te lees.
Sy het die e-pos gelees, hard geskreeu en toe flou geword. Die familie en die vriende het die gil gehoor en haar te hulp gesnel. Hulle het haar gehelp en toe die boodskap op die skerm gelees:-
My liefste vrou, ek wil jou net laat weet dat ek veilig gearriveer het. Ek sien uit na jou koms more. Wil net laat weet dit is baie warm hier. Liefde jou manlief.
Kommunikasie is baie belangrik in die dag waarin ons lewe. Kommunikasie by die werk, die kinders, die huwelik, die staat aan die volk, ens.
Die boodskap moet nie net reg wees nie, nee, dit moet ook reg oorgedra word en die boodskap moet korrek uitgevoer word.
God se Woord is die Boodskap, van die Koning aan Sy skepsels. Waar val die boodskap wat jy hoor uit die Woord Sondae en in jou stiltetyd?
LUK. 8:5 ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.
:6 En ‘n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.
:7 En ‘n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.
:8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
1 TIM. 4:9 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word;
Die boodskap van God het geval op jou ore! Die Boodskap is betroubaar! Wat doen jy met die Boodskap uit God se hart?
GEBED
Vader, dankie vir U Woord wat so betroubaar is. Gee dat ek U Woord reg sal hoor en reg sal uitdra aan ander wat dit nodig het? AMEN