SKRIFLESING: Nehemia 3:26-32
SKRIF VIR OORDENKING: Eseg. 22:30 “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.”
TEMA: HERSTEL DIE POORTE (4): Herstel die verhouding met die Woord van God sodat ek staande kan bly en gereed gevind mag word die Wederkoms van Jesus.
INLEIDING
Ons gaan vandag stilstaan by die Waterpoort, Perdepoort, Oospoort en die Wagpoort.
Ons het by die Aspoort ontslae geraak van al die vleeslike afval (oue mens se sondige gewoontes/nature) en onmiddellik was die Fonteinpoort daar waar die Heilige Gees my reinig en heilig, vul en bekragtig om tot eer van God en die Here Jesus Christus te lewe.
Hoe behou ons nou ons heiligmaking en ’n lewe van heiligheid?
Ons moet aan beweeg na die Waterpoort. Hierdie belangrike poort moet ook herstel word in ons geestelike lewens.
Die Waterpoort staan geestelik vir die Woord van God.
William McKinley het gesê: “The more profoundly we study this wonderful Book and the more closely we observe its divine precepts, the better citizens we will become and the higher will be the destiny of our nation.”
Max Reich skryf “The Christian who is careless in Bible reading is careless in Christian living”.
DIE WATERPOORT
(Neh. 3:26) En die tempelbediendes het gewoon op die Heuwel tot teenoor die Waterpoort, teen die ooste, en die toring wat uitsteek.
Dit was nie nodig om hierdie poort te herstel nie, dit was in plek.
Ons lees die volgende
(Ps 119:89) Lamed. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele.
(Mat 24:35) Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Maar hierdie poort, geestelik, lê in murasie en is verrinneweer in ons dag.
Daar is geen Bybelstudie meer nie, stilte tye word verwaarloos en kennis rondom die Woord is nie meer daar nie. Dan is dit waar wat die Woord ons leer. Hos. 4:6 My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.
Hierdie poort is ook baie naby aan die Fonteinpoort, want die twee werk nou saam.
So is die Heilige Gees onlosmaaklik deel van die Waterpoort, die Woord van God.
O, hierdie poort is van onskatbare waarde in ons geestelike lewe.
(Efese 5:25, 26) “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,”
(Joh. 14:26) maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Die Heilige Gees maak die Woord van God vir ons persoonlik lewend, vir reiniging, bemoediging en om rigtinggewend te wees vir ons daaglikse lewe.
Paulus vermaan ons dan ook om die “swaard van die Gees” dit is die Woord van God op te neem. Efes.6:17.
Alleenlik met die Swaard van die Gees, die Woord van God kan ek in die stryd tree. Dit bring ons by die volgende poort.
DIE PERDEPOORT
(Neh. 3:28) Bokant die Perdepoort het die priesters herstel, elkeen teenoor sy huis.
Die poort is geleë aan die ooste kant van die stad en kyk uit oor die Kedron vallei.
Perde was ook nooit in oorvloed in Jerusalem nie.
Geestelik het die Perdepoort die volgende betekenis: Geestelike Oorlogvoering.
Die perd is simbolies van dissipline, krag, deursettingsvermoë en spoed. Om hierdie stadium te bereik moes die perd ingebreek word, en na die proses is die perd gewillig en onderdanig aan sy meester en gehoorsaam sy opdragte.
Alleenlik wanneer ons by die Dalpoort deur is, die Aspoort deurgaan waar die vleeslike afval, die sondige natuur, verbrand word en ons die salwing van die Fonteinpoort en die reiniging van die Waterpoort ondervind het, kan ek onderdanig en gehoorsaam wees aan die wil van God vir my lewe. Is ek gereed om my plek vol te staan in die geestelike stryd?
Ons is gewikkel in ’n geestelike oorlog, of ons dit wil glo of nie.
(Efese 6:10-12) “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
(2Kor 10:3-5) “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”
(1Pe 2:11-12) “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.”
Broers, ons lewe geestelik in ’n staat van oorlog. Ons moet voorbereid wees. Maar daar is goeie nuus. As ons onsself beklee met die waarheid, geregtigheid, vrede, verlossing, geloof en die Woord van God; as ons elke gedagte gevange neem, as ons die waarheid van die Woord van God toepas op elke argument wat na ons toe kom, sal ons oorwinnaars wees, want “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1Ko 10:13)
Hierdie laaste drie poort is ook Profeties van aard.
Profeties dui die Perdepoort op die wederkoms van die Here Jesus Christus.
(Open 19:11) “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.”
Die Perdepoort dui dus ook op die Dag van die Here en die eindoordeel wat kom.
(Jes. 13:6) Huil julle, want die dag van die HERE is naby; hy kom as ‘n verwoesting van die Almagtige.
(Joël 2:11) En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?
(1Ts 5:2) want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.
Wat moet ons doen om gereed te wees?
(1Thes 5:8) “Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.”
Die tweede poort wat profeties van aard is, is die Oospoort.
DIE OOSPOORT
(Neh. 3:29) Daarnaas het Sadok, die seun van Immer, teenoor sy huis herstel; en ná hom het Semája, die seun van Segánja, die bewaker van die Oospoort, herstel.
Dit spreek van ’n nuwe dag. As ons ’n toespeling kan maak verwys dit na die gisters wat verby is en ’n nuwe dag wat kom.
Maar dit verwys na die koms van Jesus Christus om Sy Koninkryk hier in Jerusalem en op aarde te vestig. Waar Hy sal heers op die troon van Dawid.
Die poort kyk na die Ooste en ervaar die opkoms van die son.
Ons lees die volgende “En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.” Mat 2:9
Dan lees ons hierdie verskriklike woorde in Esegiël 11:23 “En die heerlikheid van die HERE het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.”
(Eseg. 44:1-2) “Toe het hy my teruggebring na die buitenste poort van die heiligdom wat na die ooste kyk; en dit was gesluit. En die HERE het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die HERE, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly.”
Tot wanneer moet hierdie poort gesluit bly?
(Sag 14:3-4) “En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant;”
Eseg. 43:2 “En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid.”
Die Oospoort spreek steeds tot ons vandag van die koms van die Here Jesus Christus. Dit is ’n daaglikse oproep, wekroep dat Jesus se koms vlak voor die deur is. Hoe moet ons lewenswandel dan wees ten opsigte van hierdie wekroep/waarskuwing.
Dit word vir ons goed opgesom deur Petrus.
(2Pet 3:11-14) “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? —julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.”
Hierdie poort moet herstel word want: ons moet heilige lewenswandel leef met godsvrug wat duidelik is sodat ons vlekkeloos en onberispelik bevind kan word.; ook omdat baie kinders van God verval het in ’n gees van pessimisme van hierdie eeu, plat geslaan word deur die hopeloosheid van ons tyd en die oog dus van Jesus afwend. Die laaste poort is ook vir ons profeties van aard.
DIE WAGPOORT
(Neh. 3:31) Ná hom het Malkía, lid van die goudsmede, herstel tot by die huis van die tempelbediendes en die koopmans, teenoor die Wagpoort en tot by die bo-kamer op die Hoek.
Die NIV vertaling gebruik die woord “Inspection gate”.
Ons sal almal, as kinders van God voor die Regterstoel van Christus moet verskyn.
Rom 14:10 “Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
(2Kor 5:10) “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Hierdie poort word genoem in ’n militêre verband as ons na die oorsponklike vertaling kyk. Hier was die weermag geïnspekteer en geregistreer. Hierdie gebied van Jerusalem, Noord-oos, was die mees kwesbaarste area en daarom dat die weermag hier gestasioneer was.
As ons Here Jesus weer kom sal ons as Sy volk vergader word en geïnspekteer word ter voorbereiding van die belonings wat aan Sy getroue diensknegte toegeken sal word.
(Rom 14:10-12) “Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”
Dit bring ons terug by die Skaappoort, waar alles begin het. Jesus is die voleinder van ons geloof, van alle dinge. Laat ons “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” Heb.12:2
Die werk aan die mure en die poorte is nie alleen, as individue aangepak nie, maar as eenheid, onder leiding van goeie geestelike leierskap.
My broeder, gaan u, u plek inneem as geestelike leier in u huis, familie, gemeenskap?
Ek sluit af met die volgende.
(1Ko 15:58) Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.