Skrif: Johannes 5: 30-47

Kom ons dink net eers weer wat die konteks van Joh 5:30 e.v is: Die Here Jesus het op ‘n Sabbatdag ‘n verlamde man by die Bad v Betésda genees. Daaroor was die Joodse kerkleiers behoorlik ontstoke, want Hy het nie alleen hulle mensgemaakte Sabbatsreëls oortree nie, maar ook nog Homself gelykgestel met God die Vader – en dit is godslastering!

Wanneer Jesus dan die kerkleiers antwoord, maak Hy ‘n hele paar radikale aansprake aangaande Homself, waaruit dit duidelik blyk dat Hy die unieke Seun v God is (vgl vorige preek). Daardeur vererger Hy natuurlik die Jode se woede.

Verse 30-47 is die laaste deel van hierdie gesprek van Jesus met die kerkleiers. En wat die Here Jesus in hierdie gedeelte sê is, eerstens, dat Hy absoluut gelyk is met God (v 30) en – tweedens – noem Hy DRIE briljante getuies wat daarvan getuig dat Hy God is. Laastens (v 44) gee Hy die groot rede waarom mense (álle mense) nie in Hom wil glo (hulle lewens totaal aan Hom ophang) nie.

Vers 44 is maklik een van die heel belangrikste verse in die hele Bybel, want dit wys vir ons die innerlike wortelskade waarmee elke mens sit, wat die grondoorsaak van al die ongeloof en ellende in die wêreld en in ons persoonlike lewens is. Dit sal ons almal die moeite loon om goed daarna te luister. Ons kom aan die einde vd boodskap na hierdie vers terug.

Slegs uit hierdie 18 verse, leer ons geweldig baie. Ons leer baie van die innerlike hart vd méns as sulks, leer baie van onsself, leer baie van die hartklop van ons Here Jesus Christus, leer baie van die krag van die Bybel as Woord v God ens. Opwindende Skrifgedeelte!

Ons het verlede Sondag gesien hoe onmoontlik dit is om neutraal te staan teenoor die Here Jesus. Mense mislei hulleself deur te dink dat hulle neutraal staan. Nee, kyk na die Jode van Jesus se tyd. Ja, heelwat individue het tot redding gekom, maar as násie was Israel doof & blind. ‘n Doofheid en blindheid wat weldra oorgegaan het in absolute vyandigheid. “Wie nie vír my is nie, is téén my” het Jesus by geleentheid gesê. Aanvanklik sê die Jode: “Ag, kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” Dan sê hulle: “Hy werk op ons senuwees.” Dan word dit: “Ons hou nie van Hom nie” en dan “kom ons raak van Hom ontslae.” Sien? Nooit neutraliteit moontlik nie. Eers sê hulle: “Hy verbreek die Sabbat” en dan word dit: “Kruisig hom”.

Nou sê die Here Jesus vir die Jode: “Hoe kan julle my beskuldig dat ek die Sabbat verbreek? Ek het dan self die Sabbat ontwerp. Ek is God self. Ek en die Vader is één. Ek kan tog nie my eie wil oortree nie. As julle my beskuldig, beskuldig julle God self.”

U sien? Dit is wat Hy in vers 30 sê: “Ek doen niks onafhanklik van God nie. Ons is een. Sy wil is My wil.” Wat ‘n asemrowende aanspraak om te maak!

Dan sê Hy (v 31): “Nou ja, ek weet indien ek sélf van hierdie dinge getuig sal julle my nie glo nie. Julle sal nie glo net omdat ék – wat as ‘n doodgewone man hier voor julle staan – dit sê nie. Daarom verwys ek julle graag na 3 ander getuies. Daar is 3 ander getuies wat ondubbelsinniglik getuig dat ek God is. As julle mý woorde nie aanvaar nie, aanvaar dan hierdie 3 getuies s’n.”

Nommer 1: Johannes die Doper.

Nommer 2: Die goed wat Jesus onder almal se neuse gedóén het.

Nommer 3: Die hele OT as Skriftelike Woord (stem) v God.

Tot vandag toe moet mense wat Jesus se Godheid ontken eers hierdie 3 getuies se getuienisse van die tafel af vee om te kan voortgaan met hulle dwaling. Ons kan tot vandag toe in ons gesprekke met mense hierdie 3 getuies gebruik om mense se dwaasheid aan die kaak te stel.

Eerste getuie van Jesus se ware Godheid: Johannes die Doper se getuienis van wie/wat Jesus regtig is (“Lam van God”) het soos ‘n lamp geskyn (vv 32-35): Die Joodse leiers het vir ‘n tydjie lank op ‘n manier gehou van Johannes die Doper se getuienis en hom as ‘n ware profeet ge-ag. En Johannes die Doper het alles bevestig wat Jesus nou van Homself sê.

“As julle nie na My wil luister nie, luister dan na hóm, want dit wat hy oor My getuig het, was bedoel om júlle te help.”

Johannes die Doper se getuienis was nie tot Jesus se eie voordeel nie, maar tot die Jode voordeel. Jesus het niemand nodig gehad om vir Hom te sê wie Hy is nie! Maar Johannes se getuienis van wie Jesus is, moes die Jode help. As hulle maar wou luister!

Net soos wat óns ook dikwels gehelp word deur iemand anders se getuienis. As ons maar net wil luister. Byvoorbeeld: dink net hoe jy moed skep wanneer jy in ‘n penarie sit en hoor wat die Here vir iemand anders in soortgelyke omstandighede gedoen het! So moes Johannes die Doper se getuienis die Jode help.

Tweede getuie van Jesus se ware Godheid: Alles wat Jesus gedoen het (v 36): Daar is iets wat meer effektief is as Johannes die Doper se getuienis: Wie Jesus oop en bloot voor almal was én wat Hy alles gedoen het. WIE IS HY wat binne ‘n half sekonde wyn uit water maak, wat iemand oor 30km afstand genees sonder om fisies daar te wees, wat die weefsel en senustelsel in iemand se liggaam herskep ná 38jr se verlamming, wat met ‘n paar broodjies & vissies 15000 mense voed, wat by ‘n begrafnis met die oorlede praat in plaas van met die agtergeblewenes – en dan die oorledene lewend aan sy familie teruggee? O, die goed wat Jesus gedoen het, getuig van Sy ewige Godheid. Die Jode kón dit nie ontken nie. Tot vandag kan ons dit nie ontken nie.

Derde getuie van Jesus se ware Godheid: Die ganse Ou Testament (v 37-39): God die Vader het SELF getuienis afgelê oor wie/wat Jesus van Nasaret is en Hy het daardie getuienis op skrif afgelê in die Ou Testament – wat die Bybel van daardie tyd (en nou nog) was. Die HELE OT getuig van Jesus! Die OT is nie storietjies en verhale nie!

Die Jode het die Bybel (OT) intensief bestudeer en gedink dat hulle die ewige lewe het op grond van hulle intellektuele Skrifkennis, maar nie verstaan dat die OT van JESUS getuig en dat hulle in HOM die ewige lewe moet kry nie! Die OT moes hulle na Jésus lei, maar hulle het vasgehaak slegs maar by intellektuele kopkennis vd OT.

Christene moet dus verstaan dat die hele OT van A-Z van Christus getuig en Hóm verkondig op allerlei maniere. Op só ‘n wyse dat alles wat die OT van God die Vader sê, dit net so van die Here Jesus ook geld! Ons sal later in Joh 12:41 sien hoe Johannes uit Jesaja 6 (uit die hart vd OT) aanhaal, waar Jesaja die gesig van God’s troon gehad het. Dan sê Johannes dat Jesaja JESUS se heerlikheid gesien en van HOM gepraat het!

Wat die OT van God sê, sê hy van Jesus! Daar is só ‘n eenheid tussen die God vd OT en Jesus Christus, dat jy die egtheid van wat jy van die een dink, kan toets aan wat jy van die ander dink. As jy bv nie vir Jesus as die absolute unieke Seun van God aanbid en vertrou nie, glo jy glad nie aan “God” nie (soos die Jode en Moslems verkeerdelik dink). Die Jode en Moslems verwerp Christus Jesus (soos wat Hy homself in die Skrif geopenbaar het), maar dink hulle glo wel aan God! Dit is totaal onmoontlik! Dis ‘n illusie! Kyk na Joh 8:19, Joh 5:23, Joh 5: 42-43.

Die lakmoestoets is JESUS. Die toets óf jy in God glo, God eer, God aanbid, is of jy JESUS aanvaar as absoluut God self in menslike vlees en Hóm alléén vir die ewige lewe vertrou, só dat dit jou hele lewe verander. Kyk asb na 1 Joh 2:23 “nó one who denies the Son, has the Father.”

Dink net wat ‘n impak dit op baie Christene se Bybelstudie sal maak wanneer hulle dít besef. Die Bybel bestaan nie net uit die NT nie! Die OT is nie ‘n klompie verhale of vervelige geskiedenis nie. Dit is CHRISTUSverkondiging van begin tot end.

Dit is die rede waarom Jesus vir die Jode kon sê: “As julle werklik Moses geglo het, sou julle in MY geglo het, want hy het absoluut van My geskrywe. Omdat julle MY nie glo nie, glo julle ook nie vir Moses nie, al dínk julle julle is so geheg aan Moses.” (vv 46-47)

Wat ‘n geweldige krag is die OT nie? Dit is die onfeilbare kragtige lewensherskeppende Woord v God en dit getuig op elke bladsy van Christus!

Daar is dus die 3 getuies wat getuig dat Jesus die Seun van God is: Johannes die Doper, Jesus se eie werke, die OT Skrifte.

Waarom is dit dan so intens moeilik vir ‘n mens (nie net die Jode) om Jesus te GLO? Waarom is dit so verskriklik intens moeilik om jou hele lewe aan Jesus Christus op te hang (soos ‘n jas aan ‘n kapstok)? Het u geweet dat, indien die Heilige Gees jou nie van binne af veránder nie, dit 100% onmoontlik is vir énige mens om tot geloof te kom. Waarom so?

Verse 41-45 neem ons tot by die hart van die saak. Dit is waarom ek oordeel dat Joh 5: 41-45 van die belangrikste verse in die Bybel is. Dit wys vir ons wat die tragiese wortelskade is wat elke mens opgedoen het en wat veroorsaak dat dit – buite om die genade van God – onmoontlik is om werklik in Jesus Christus te glo en Hom met totale oorgawe te dien. In die wortel van ons bestaan, het ons groot skade opgedoen. Met “ons” bedoel ek ALLE mense, kop-vir-kop álle mense. Dalk moet u oorweeg om nou te luister soos nog nooit tevore nie.

Die enigste rede waarom geen mens van nature glo (glo = hele lewe aan Christus ophang) nie (en dit so afgryslik onmoontlik vind om te glo), is omdat hy/sy nie WIL glo nie. Vers 40: “Julle WIL NIE na My kom om die lewe te hê nie.” U & ek WIL NIE. Dit het absoluut niks te doen met intellektuele besware of al die lyding in die wêreld of evolusie en wetenskap nie. Die enigte rede is: Jy WIL NIE. So eenvoudig soos dit.

Maar wáárom wil geen mens glo nie? Hier is nou die hartklop van alles. Wat sit ágter die onwilligheid? Wat is die wortelskade wat álle mense deur die sondeval opgedoen het en wat die onwilligheid veroorsaak? U sien, die onwilligheid is net die gevolg van iets anders. Dis die gevolg van wortelskade. Wat is dit? V 44 gee die antwoord…

Vers 44: “Hoe kán julle glo as julle van mekaar eer aanneem, maar God se eer nie soek nie?”

Agter die onwil, sit die feit dat u & ek die eer van DIE MENS liefhet bó die eer van God, dat u & ek DIE MENS se lof soek, dat u & ek self in die sentrum wil wees, dat u & ek self agter die kontrole wil wees, dat u & ek self verhoog wil word, dat u & ek smag om iemand te wees – ons wil mnr/mev/mej IEMAND wees. Dit is die wortel van alle ongeloof en onbekeerdheid en gebrekkige oorgawe aan Christus asook alle traagheid, louheid, lamheid en geestelike bloedarmoede. En dit sit nie binne die vermoë of wilskrag van enigiemand om daarvan ontslae te raak nie.

Nou kan u beter verstaan waarom ons ‘n bonatuurlike innerlike transformasie van die Heilige Gees nodig het, want geen mens kan op sy eie innerlike ‘n operasie doen om die wortelskade reg te stel nie! Nou kan ons ook verstaan waarom die Here Jesus vir dominee Nikodemus sê: “My vriend, jy sal NOOIT die koninkryk v God sien alvorens jy nie opnuut gebore word nie.”

Jesus self het egter net die teenoorgestelde gees as díé van die mens wat wortelskade opgedoen het. Vers 41: “Ék neem nie mense se eer aan nie.”

Dit is waarom die ganse mensdom uiteindelik die Antichris sal aanneem (v 43 en vgl Openb 13) omdat die Antichris soos die gevalle méns sal wees. Hy sal ‘n aanneemlike verlosser wees. Hy sal almal laat goed voel oor hulle eie eer soeke.

Maar nee-dankie vir Jesus wat in Sy Vader se Naam kom, net Sy Vader se eer soek en homself verneder en gehoorsaam word tot in die dood vd kruis. “Nee dankie. Gee ek my oor aan Hóm, sal ek dalk dieselfde pad moet loop. Dan sal ék ook moet boedel oorgee. Ek is darem net té lief vir myself. Die Antichris sal my verstaan en my laat okay voel oor myself en my selfgesentreerdheid. Ek kan byna nie wag dat hy sy verskyning maak nie!” En so is daar vandag reeds baie voorlopers vd Antichris wat dieselfde gees adem en deur miljoene mense gevolg word.

Waarom is selfliefde die absolute teenoorgestelde van geloof in Jesus? Ware geloof in Jesus vat al die eer weg van jouself en gee dit aan God. Sien Rom 11:36. Wanneer ‘n mens na Jesus toe kom, gee jy die reg weg om ooit eer vir jouself te soek. Dit sny in teen die gryn van die gevalle mens.

Daar gaan kwalik ‘n dag verby wat ek nie die lewende God dank vir die derde Persoon van die Drie-eenheid – die Heilige Gees – nie, want dit is Hý wat die innerlike verandering bewerk en mense se koers verander. Dit bly vir my die grootste wonder van alle wonders. Elke keer wanneer iemand sy/haar lewe ophang aan die Here Jesus alleen, is dit ‘n magtige wonder wat plaasvind – want dit sny in teen die gryn vd mens. Dis so wonderlik om dinge in myself waar te neem en in ander mense waar te neem en te besef: Wow, dit is bonatuurlik, dit kom vd Gees, dit kom van Bo. Die Here leef!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00