krif: Johannes 13: 21-38

Die paragraaf wat ons gelees het, volg direk op die gedeelte waar die Here Jesus Sy dissipels se voete gewas het (wat ons verlede week bestudeer het). Die twee gedeeltes vorm eintlik ‘n eenheid. En dit speel af die dag voor die Here se sterwe. Sy openbare bediening is afgehandel en Hy is nou in gesprek slegs met die Twaalf.

Johannes, die skrywer van die boek wat ons besig is om te bestudeer, is ook daar teenwoordig waar die Here Jesus saam met Sy dissipels die pasgamaal eet. Hy noem nooit sy eie naam nie, maar hy is in werklikheid “die dissipel vir wie Jesus baie lief was” wat – by daardie geleentheid – langs die Here gesit het.

Wat ons dus hier lees, is ‘n ooggetuieverslag. Mens kan dit sien aan die fynere detail wat Johannes beskryf. Die rede waarom hy homself noem “die dissipel vir wie Jesus lief was” is juis om te wys hóé verbonde hy aan Christus was en wat ‘n betroubare getuie hy dus is. Hy is “geloofbaar”. Wat daar gebeur het en gesê is, het ‘n geweldige impak op Johannes gemaak en hy skryf dit vir ons neer om geloofsvertroue by ons – wat nie daar teenwoordig was nie – op te wek en te stimuleer (Joh 20:31).

Nou begin die Here Jesus om vir Judas Iskariot in ’n rigting te stuur. Want God se program moet volgens skedule verloop. Dis nie Judas wat die hef in die hand het nie. Dit is Jesus wat hom in beweging bring. Maar, Hy hanteer vir Judas só goddelik. ’n Mens wil koue rillings kry wanneer jy raaksien hoe die Here Jesus vir Judas hanteer. Hóé boos Judas se hart was en dat satan in hom ingevaar het, het Jesus geweet. En Hy begin die wêreld vir Judas warm maak, maar nie op ’n aggressiewe manier nie, maar wel só dat Judas die heeltyd nog die kans het om tot inkeer te kom. Hy sê: “EEN VAN JULLE gaan My verraai.” Dit kon enigeen gewees het. Hy kom nie direk op Judas af nie.

Die wonderlikste van alles is dat ál die dissipels stom van verbasing was dat een van húlle Jesus sou verraai. M.a.w. – vir al die jare het Jesus nooit vir Judas aan hulle blootgestel vir wie/wat hy regtig is nie. Jesus het al die tyd geweet wie/wat Judas is, maar Hy het nooit vir Judas sleggemaak voor die ander nie. Hy het hom altyd beskerm teen die ander. Jesus het Judas se boosheid vir hulle toegehou. Hy steek Judas se bose plan weg vir die ander. Soveel so, dat nie een van hulle die vaagste benul gehad het wíé die verraaier sou wees nie.

Selfs toe Jesus vir Johannes reguit sê wie dit is, sê Hy dit op só ’n manier dat niemand steeds weet nie. Die Heiland sê: “Dit is die een wat sy hand saam met My in die skottel steek (Mark 14:20) en aan wie ek die stukkie brood gee.” Maar, álmal se hande was saam in die skottel, want almal het hulle brood in die vrugtemoes gedoop!! Selfs toe Judas sê: “Is dit dalk ék, Rabbi?”, antwoord Jesus: “Jý sê dit.” (Mat 26:25). Hy sê nie: “Ja, dis jý” nie.

Sien u hoe beskerm Jesus vir Judas voor/teen die ander elf? Sien u hoe goddelik Jesus met Judas werk? Hy stel nie vir Judas-as-persoon bloot nie, maar Hy openbaar wat Judas gaan doen. Sien u hoe Jesus vir Judas insluit by die bevrydingsmaaltyd? Hy vier mét Judas die verlossingsfees. Dit is en bly een van die grootste wonders: Dat Jesus vir Judas INGESLUIT het by die laaste maal – terwyl Hy die implikasies van sy sonde aan hom bekend maak: “WEË díé een deur wie Ek verraai word..” (Mark 14:21). Maar Hy sê dit só dat slegs Judas die boodskap kry!! Slegs Judas begin sweet afvee: “Wéét Hy dan régtig wat ek beplan?”

Indien ons dink hoe óns met ander mense omgaan en ander mense eerder benadeel/blootstel as beskerm – dan besef ons net: Hier het ons met die Seun v God in Sy majesteit te doen. In Sy vurige liefde vir Sy eie verraaier. Hy wat weet dat Judas Sy moord beplan, maar hom steeds insluit. Hy stoot hom nie vir een oomblik weg nie. Hy behou hom so lank as moontlik. Hy bevoorreg hom tot die einde toe. Kyk maar mooi na vers 21: Hy was hewig ontsteld toe Hy vir hulle sê dat een van hulle Hom gaan verraai. Héwig ontsteld!

Dit bring ons by die sielsdeursoekende vraag: HOE VER GAAN DIE LIEFDE VAN GOD MET ’N MENS REGTIG?? ‘n Mens wat: geneig is om te struikel en val/ wie se hart somtyds ver van Hom is? Antwoord is: Hy hou aan & aan & aan & aan. Hy gee weer & weer die brood en wyn. Daar is mos nie ’n manier hoe hierdie verregaande liefde nie jou hart sal breek nie? En tog breek baie mense se harte nie. Judas s’n het nie. Tot die bitter einde nie.

Vraag: Het dit iets verander aan Jesus se liefde vir hom? En wat sê Hebreers 13:8? Jesus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid. Soos Hy was teenoor Sy verraaier, is Hy op 04 November 2012 steeds teenoor u en my. Sal Sy liefde dan nie ú hart finaal oorwin nie?

Ewenwel, die moment toe Judas uit is, staan daar in vers 30: Dit was nag. En oombliklik sê Jesus: “NOU word die Seun vd mens verheerlik en God word deur Hom verheerlik en God self sal Hom verheerlik.” “Verheerlik” beteken: “optel, oplig en skitterend/briljant maak”.

Is dit nie uiters vreemd nie? Judas verdwyn om sy bose werk te gaan doen, dit is nag, en dan sê Jesus: NOU wórd ek verheerlik. Hoe moet ons dit verstaan? Op die donkerste oomblik, skyn die lig die helderste.

Ek dink nie die woordjies EN DIT WAS NAG, staan om dowe neute daar nie. Dwarsdeur Johannes-evangelie speel die konsepte van “lig” en “duisternis” ‘n belangrike rol. DAG is die tyd van 3,5 jaar toe Jesus en Sy dissipels in die openbaar kon bedien, maar NAG is die tyd van Sy lyding & sterwe wanneer net Hy alléén die werk kan doen (Joh 9:4). Dis die tyd van satan waar die slang Hom in die hakskeen byt (Gen 3:15). Toe die gepeupel aankom met hulle stokke & swaarde om Jesus gevange te neem, toe sê Hy vir hulle: “Dis nou julle uur en dié van die duisternis” (Luk 22:53). En hierdie duistere nag begin amptelik die oomblik toe Judas hulle verlaat om sy verraad te pleeg.

Vlgs Joh 1:5 kon die duisternis nie die lig oorweldig nie. Die nag kon nie die dag uitwis nie. Die Here Jesus het die duisternis oorwin deurdat Hy Hom deur die duisternis laat oorweldig het. Hy het die dood oorwin deur in die dood in te gaan. Hy het satan ontwapen deur Homself aan die satan se agente te laat uitlewer. Dit is waarom dit so onmoontlik is dat óns enigsins nog mense van die nag/duisternis/dood/duiwel kan wees. As ons dit is, verstaan ons nie dat ons in Christus ingereken/ingesluit is en dat Hy in ons plek oorwin het nie. As Hy oorwin het, hét ú oorwin. Die Bybel vra nie óf u oorwin het nie. Die Bybel SÊ: U hét! Die vonke begin spat wanneer ons waag om dit te begin glo.

Dít is hoe die Here Jesus VERHEERLIK is – selfs reeds toe Judas by die vertrek uitsluip. Toe dit NAG raak, toe breek Sy verheerliking deur. Want toe begin Hy doen wat niemand kon doen nie, net Hy alleen. Om die duisternis te verdryf, die dood se kettings breek, die satan te ontwapen, die sonde te betaal, geregtigheid aan te bring, sondaars reg te stel met God, Gods wraak te absorbeer, veroordeling te vernietig. In die donkerste nag breek die helderste dag deur! Kyk, dis net die Seun v God wat dit kan doen!!

Nou kan ‘n mens ook begin verstaan waarom die Here Jesus vir Petrus sê: “Waarheen Ek gaan, kan jy my nie nou volg nie, later wel, maar nie nou nie” (v 36). En vir die hele groep dissipels sê Hy: “My kindertjies (Grieks), waar ek gaan, kan julle nie kom nie”. (v 33).

Petrus is egter vasberade om selfs sy lewe vir die Here af te lê. Maar ag, hoe kón hy? Hy sou dit nie eens deur die nag maak nie. Hy sou binne enkele ure die Here 3X verloën. Daar is nie ‘n manier hoe hy – of enigiemand anders – die Here kon volg (saamwerk) in die werk wat Hy moes gaan doen nie. Jesus moes dit alléén gaan doen. Maar Hy sou Sy mense insluit by wat Hy doen en só sou hulle Hom volg. Só sou hulle – deur wat Hy alléén doen – met die Vader versoen word. Hy doen dit alleen, maar sluit hulle daarby in.

Dis geweldig belangrik om dit te snap. Ons volg nie vir Jesus tot by die Vader nie. Ons kom nie agter Hom aan nie. Ons loop nie langs Hom nie. Ons volg nie Sy voorbeeld of probeer Hom namaak/naboots nie. Ons vra nie: “Wat sou Jesus doen?” nie! Ons verwerf nie Sy guns met hoe opreg ons ons hart vir Hom probeer gee of hoe berouvol ons oor ons sondes is nie. Nee, ons ís by die Vader, deur ingesluit te wees by dit wat Christus alleen (sonder ons) gedoen het. Maar ons sluit nie onsself daarby in nie. Nee, ons kom tot die groot ontdekking dat Gód ons ingesluit het – uit pure guns alleen. En dan plaas ons ons geloofsvertroue dáárop. En so kom ons harte volkome tot rus en ons lewens verander outomaties deur die krag van die Heilige Gees.

Dit is wat die Heiland vir Petrus sê. “Petrus nóú kan jy my nie volg nie. Maar later wel.” Sien u? Petrus kan nie & mag nie vir Jesus handgee by die werk wat Hy alléén op die kruis moet gaan doen om Petrus se saak met God reg te maak nie. Maar Petrus is wel ingesluit by dit wat Jesus alléén gaan doen. En só (ingesluit) volg Petrus later vir Jesus en is Petrus met die Vader versoen.

In die OT is hierdie hele beginsel afgebeeld deur die Hoëpriester wat die Allerheiligste in die tempel alléén moes binnegaan wanneer hy die offerbloed gaan sprenkel en vir die volk versoening doen. Hy moes dit alléén doen. Maar die volk baat daarby want hulle is ingesluit by die versoeningshandeling wat die priester alléén verrig! Hy doen dit SONDER hulle, maar wel VIR hulle! Extra nos, pro nobis.

Die alewige misverstand en kortsluiting in baie mense se koppe is dat hulle dink God aanvaar jou nié op grond van dít wat Jesus alléén gedoen het nie, maar op grond van wat jý doen. God aanvaar nie vir jou net omdat Hy jou ingesluit het by dit wat Jesus alléén gedoen het nie. Nee, Hy aanvaar jou op grond van hoe jy Hom kies, hoe jy na Hom toe draai, hoe jy jou saak met Hom regmaak, hoe berouvol jy is, hoe opreg jou hart is ens.

Die kortsluiting in ons koppe is dat ons – nes Petrus – dink ons moet vir Jesus volg en Hom gaan handgee, om só by die Vader te kan uitkom. Soos Petrus dink ons óns moet óns lewe vir Hom aflê, ons moet ons eie-ek kruisig en onsself minag om nader aan God te kan kom! Petrus verstaan nie dat hy NIE sy lewe hoef af te lê nie, maar dat Jesus Sý lewe aflê en dat Hy vir Petrus dáárby insluit!

Net so – soos Petrus – verstaan ons ook nie dat wát Hy gaan doen het, Hy alléén – sonder ons – moes gaan doen nie. Maar, dat ons dáárby ingesluit is! En dat ons dit net mag glo en léwe! Prys Sy Naam vir so ‘n bevrydende lieflike blye boodskap! Goeie nuus in die ware sin vd woord.

Die vraag is nou hoe ander mense (die wêreld) sal weet dat ons by die Vader is, dat ons met Hom versoen is, dat ons volgelinge van Christus is? Wat is die kenteken daarvan? Kyk, tot op hierdie punt kon almal sien dat die dissipels volgelinge van Christus was, want hulle het Hom sigbaar gevolg. Almal kon dit sien. Maar, ná Jesus se opstanding uit die dood – hoe/waaraan sou die wêreld dán weet dat hulle Sy volgelinge is? Hoe weet die wêreld dit van óns in 2012?

Die antwoord is: Dis sigbaar duidelik dat ek die Blye Boodskap glo en ‘n kind vd Vader is in die besondere liefde wat ek vir ander mense het wat ook die Blye Boodskap glo en Sy kinders is. Die besondere band wat daar tussen gelowiges is, is die kenteken. En dit is wat die sogenaamde “nuwe gebod” is (v 34). “Nuut” in die sin van dat dit nooit voorheen só was nie. Dis egter nie ‘n gebod in die sin van ‘n WET nie. Dis nie iets wat gedoen moet word sodat God jou kan aanvaar en waarvoor jy gepenaliseer sal word as jy faal om dit te doen nie. Nee, dis ‘n gebod in die sin van ‘n “kenteken”. Iets waaraan jy uitgeken word. Vers 35 bevestig dit – “dan sal almal weet dat julle my dissipels is.”

Jy probeer nie ander Christene liefhê óm ‘n dissipel van Jesus te wees nie. Nee, ás jy ‘n dissipel is, sál jy ‘n besondere band met ander Christene hê en daaraan sal die wêreld weet in watter kamp jy is. Dis ‘n feit dat dit so sal wees. Dis ‘n feit, byna soos ‘n gebod! Jou hart trek met ‘n punt na mense wie se harte ook warm klop vir die evangelieboodskap en met wie jy kan saambid – mense wat jou hart deel. Jy kan nie verstaan waarom jy nie meer – soos voorheen – ure lank in geselskappe kan sit waar oor alledaagshede gepraat word nie. Niemand sê vir jou dit moet so wees nie. Dit ís net so – a.g.v die nuwe lewe wat die Heilige Gees in jou kom skep het.

Jare later skryf dieselfde Johannes dit weer in een van sy briewe. 1 Joh 5:1 Ook 3: 14,16. (Lees dit). Iemand wat brandende is vir die Evangelieboodskap, voel ‘n baie spesiale verwantskap met ander gelowiges wat die gelowige nie met ‘n ongeredde mens kán ervaar nie.

Voorheen – vóór jy die evangelieboodskap verstaan & geglo het, was dit nooit só nie. Tewens, voorheen kon jy nie eintlik presies onderskei wie Christene is en wie nie. Almal wat maar so goeterig geleef het en wat op ‘n manier kerklik was, was maar in jou oë Christene.

Maar nou herken jy in iemand anders ‘n passie vir die Here en jy ervaar ‘n onverklaarbare sterk band met so iemand. Jy soek hulle selfs doelbewus op. Hulle praat jou taal. Jy wil soveel moontlik deel wees van hul samekomste. Jy is absoluut siek indien jy jou op ‘n Sondag in ‘n onvermydelike omstandigheid bevind waar jy nie iewers met ander gelowiges kan saamwees nie. Jy kan jou nie indink dat daar iewers ‘n byeenkoms is en jy kan nie daar wees nie! Wanneer jy by ‘n boekwinkel instap, soek jy instinktief die geestelike boeke. Wanneer jy vir die eerste maal op besoek in Windhoek kom of in Londen of Parys, dink jy spontaan aan die kerk van die Here Jesus. Jy brand om dalk iewers ‘n kerkdiens by te woon. Jy beplan dit selfs vooraf. ‘n Onverklaarbare band het ontstaan. Jou hart het regtig verander!

O, wat ‘n wonderlike kenteken van ware lewe – die spesiale liefdesband met ander gelowiges! Dit is die nuwe gebod! Hieraan weet die wêreldse mense aan watter kant jy staan. Hieraan weet die wêreld dat jy nie meer aan húlle kant staan nie. Jy is nuut. Jy gló nou die Blye Evangelie dat jy – sonder voorwaardes – op die kruis gered is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00