Skrif: Johannes 12: 27-36

Dit is vlak voor die aanbreek van die jaarlikse Paasfees. Om die waarheid te sê, dis die Sondag voor die Vrydag waarop die Here Jesus gekruisig sou word. Kort te vore het Hy vir Lasarus uit die dood opgewek. Nou het die skare palmtakke rondgeswaai en Hom “hosanna’s” toegeroep terwyl Hy op ‘n donkie ry en in die openbaar aankondig dat Hy inderdaad die Messias is.

In Jerusalem is daar massas mense wat gereed maak vir die Paasfees. Daar is ook nie-Jode – wat die Joodse geloof aangeneem het. Onder andere ‘n klompie Grieke wat die Here Jesus graag wil ontmoet. Hy ontmoet hulle egter nie oog-tot-oog nie. Hy ontmoet hulle deur vir hulle ‘n boodskap te stuur oor wie Hy werklik is. Hoe Hy verheerlik sal word deur soos ‘n koringkorrel in die grond te val en te sterf.

Na al hierdie aspekte het ons in die vorige paar boodskappe gekyk. Dit is die onmiddelike konteks van verse 27-36, wat ons vandag bestudeer.

Die Here het pas gesê dat – waar Hy is, ons ingesluit is (v 26). Ons is ingesluit by Sy koringkorrelsterwe. Ons hoef nie Sy sterwe na te boots en ook só te probeer sterwe nie. Nee, ons is ingereken by Sý sterwe. Sy sterwe IS ons sterwe. Deur dít te glo/vertrou, lewe ons inspanningloos in oorwinning. Ons het verlede Sondag gesien wat dit alles impliseer.

En nou sê die Here: “Ek is diep ontsteld oor wat Vrydag met my gaan gebeur (“hierdie uur” verwysende na Sy koringkorrelsterwe). Moet ek die Vader vra om my dit te spaar? Dit kan nie, want juis híérvoor het ek na die aarde gekom. Ek sal eerder my Vader vra dat Hy Sy Naam verheerlik (in/deur My lyding). Dat Hy Sy Naam skitterend en briljant sal maak vir almal om te sien.”

Na Sy mensheid wou die Heiland bitter graag omdraai en die lydensweg gespaar word. Maar Hy het Sy Vader se wil & Naam bó Sy eie wil & emosies geplaas. Voor die skepping reeds het Hy aangebied om die versoeningsoffer te bring wat al die mense wat die Vader aan Hom sal gee, met die Vader te versoen. Dít plaas Hy nou doelbewus voorop en verloën die versoeking om die Vader te vra om Hom die lydensbeker te spaar en vra Hy dat die Vader eerder Sý Naam sal verheerlik.

Nog skaars was Sy woorde koud, toe kom daar ‘n stem uit die hemel wat sê: “Ek hét My Naam verheerlik en Ek sal dit wéér verheerlik.”

Wanneer God praat kan Hy só praat dat almal Hom hoor en verstaan, maar Hy kan ook selektief praat. Toe Saulus op die Damaskuspad die Here se stem hoor, het die mense wat saam met hom was net ‘n geluid gehoor, maar nie verstaan wat die Here sê nie (Hand 9:7; 22:9; 26:13). Slegs Saulus het die Here in Hebreeus met hom hoor praat.

So-ook hier in Joh 12:29. God praat selektief. Die mense hoor net iets soos ‘n donderslag. Maar die Here Jesus hoor die woorde: “Ek hét My Naam verheerlik en Ek sal dit wéér verheerlik.”

Ek glo dat die Here steeds selektief praat. Byvoorbeeld wanneer die Woord in die openbaar verkondig word, hoor & verstaan almal wat gesê word. Maar by sommige bly dit net verstandskennis terwyl ander openbaringskennis ontvang. Hulle hóór werklik die Here se stem en weet presies wát Hy sê. Dit is daardie tipe HOOR wat geloof laat ontstaan. Geloof is nie ‘n inspannende “iets” wat die mens doen om God so ver te kry dat Hy iets doen nie. Geloof is ‘n spontane reaksie wanneer Waarheid aan ‘n mens se hart geopenbaar word – wanneer die Here se stem gehóór word. Almal hoor dus die prediking op intellektuele vlak, maar net sommige hóór en ontvang openbaringskennis van die Waarheid en dit maak vry en skep geloofsvertroue. Geloofsvertroue bou inspanningloos op die Waarheid wat geopenbaar is.

Terug by die Vader se stem: “Ek hét My Naam verheerlik (briljant/skitterend/pragtig gemaak/opgelig-in-glorie – deur Jesus se hele bediening maar veral deur Lasarus se opstanding uit die dood) en Ek sal dit wéér doen (deur Jesus se lydensweg en opstanding uit die dood).

By Jesus se geboorte het die engele reeds aangekondig dat Christus in die wêreld gekom het om God die Vader te verheerlik deur die mense vanaf vyandskap/vervreemding tot vrede met God te versoen (Luk 2:14).

Wat dit sulke briljante wonderlike goeie nuus maak, is dat hierdie heerlikheid van God se Naam vol genade & waarheid is (Joh 1:14). Die heerlikste ding van God, is dat Sy wese so gevul is met heerlikheid dat dit oorvloei na Sy mense. Dit vloei oor in die vorm van genade & waarheid. Die heerlikheid & liefde & kwaliteit lewe wat tussen die drie Persone binne die Drie-eenheid bestaan, vloei letterlik oor na óns!

Die wonderlike ding van mens-wees is dat ons geskape is om te mag deel in die kwaliteit lewe wat tussen die Vader, Seun en Gees bestaan! Jesus se kruisdood het ons in daardie posisie teruggeplaas. Dít is wat nou ons lewens definieër. Ons lewens word nie meer gedefinieër deur hoeveel/ hoe min geld ons het of hoe nuut/oud ons kar is nie. Ons lewens word gedefinieër deur die manier waarop ons lewens weggesteek is binne-in God self (Kolos 3:3) en ons in die liefde deel wat die Vader vir Sy Seun het (Joh 17:23). Dit is WAARHEID maar dit is ook GENADE, want ons deel daarin deur absoluut NIKS wat onsself doen/ nie doen nie. God het vir ons hierdie kwaliteit lewe teruggegee net deur Jesus se kruisdood. Hy het vir ú daarby ingesluit net omdat Hy wou. Dit is wat genade beteken – vrye geskenk. En wanneer ons dit glo, beleef/ervaar ons dit ook en begin ons om dit op elke bladsy van die Bybel raak te sien. Dis asof ons blinde oë siende geword het.

Wat nou in verse 31-36 uitgespel word, is die 4 maniere waarop die Vader Sy Naam verheerlik in/deur die uur van Jesus se koringkorrelsterwe. Daar is 4 maniere waarop die Vader Sy Naam skitterend/pragtig/verhewe/briljant maak in/deur Jesus se lyding & kruisdood.

1 GOD DIE VADER VERHEERLIK HOMSELF DEURDAT HY DEUR DIE KRUISDOOD VAN CHRISTUS, DIE WÊRELD OORDEEL

Vers 31a is ‘n verstommende vers. “NOU kom die oordeel oor die wêreld.” Nie “eendag by die wederkoms” nie, maar NOU. M.a.w deur die lyding & sterwe van Christus word die oordeel voltrek. Die oordeelsdag vind op die kruis plaas!

In Joh 5: 28-29 het die Here duidelik gesê dat die oordeel by die voleinding plaasvind, wanneer die opstanding van die dooies plaasvind. Daar ís dus ‘n toekomstige oordeel.

Maar in Joh 5:24 sê Hy dat elkeen wat Sy Woorde glo, NIE in die oordeel sal kom nie, maar klaar oorgegaan het van die dood na die lewe. Hulle oordeelsdag is reeds verby!

Vraag: WANNEER het hulle oordeel plaasgevind en wanneer is dit afgehandel? Antwoord: Op die kruis!

U sien die Bybel leer dat God die sonde veroordeel het in die liggaam van Christus wat binne-in óns menswees op die kruis gesterf het (Rom 8:3). Vlgs 2 Kor 5:21 het God vir Christus sonde gemáák. Hy het letterlik ú skuld & sonde gewórd. Die volle oordeel van God het Hom getref as u & my plaasvervanger/verteenwoordiger. Dáár is die oordeelsdag dus voltrek. Vir diegene wat Hom daarvoor vertrou, is hulle oordeelsdag verby en sal dit nooit weer aanbreek nie. Vir diegene wat dit nie glo nie, wág die oordeel by die voleinding, want die mens wat die offer van Christus minag moet self daarvoor gaan instaan.

Ons mág in die volle vreugde & rus lewe dat ons nooit, nooit, nooit weer voor ‘n regbank sal staan nie. God is só tevrede met Sy kind, dat Hy absoluut geen rede sien om hom/haar enigsins ooit weer aan enige ondersoek te onderwerp nie! Christus het die oordeel van die hel ondergaan in u plek. Sy onskuld is nou ú onskuld.

God verheerlik Homself daarin dat Hy die oordeelsdag op die kruis van Christus voltrek het en afgehandel het.

2 GOD DIE VADER VERHEERLIK HOMSELF DEURDAT HY DEUR DIE KRUISDOOD VAN CHRISTUS, DIE OWERSTE VAN DIE WÊRELD DIE SATAN BUITENTOE UITGEGOOI HET (vers 31b)

In watter opsig is die satan uitgegooi deur Jesus se kruisdood? Dieselfde Bybel leer tog dat hy steeds soos ‘n brullende leeu rondloop (1 Pet 5:8). Ons het selfs wapenrusting ontvang teen sy aanslae (Efes 6:10ev). Op watter manier het Jesus se kruisdood hom dan uitgewerp?

By die kruisdood van Christus is die satan nie finaal verslaan nie – dit gebeur by die voleinding (Openb 20) – maar hy is in beginsel verslaan. Dit beteken dat die kruis die finale oorwinning verseël en gewaarborg het. Die beslissing is finaal gegee.

Wat baie belangrik is om te verstaan is hóé hierdie “beginsel-oorwinning” op die kruis behaal is. Wat bedoel die Here as Hy sê die satan sal “uitgegooi word buitentoe?” Toe Jesus Sy asem uitblaas en sê “DIT IS VOLBRING”, toe word die duiwel uitgewerp buitentoe. Wat beteken dit?

In Openb 12:9 staan daar dat die satan uit die hemel gegooi is. Volgens vers 5 het dit gebeur toe Jesus tot die troon verhoog is met Sy hemelvaart. Vers 10 sê spesifiek dat hy as aanklaer van die gelowiges neergewerp is. Daarom sê vers 11 dat die gelowiges die duiwel verslaan deur middel van die bloed van die Lam. Die bloed van die Lam is die klinkklare bewys dat die satan se aanklagte vals is. Op grond van die bloed van die Lam kán die aanklaer ons nie meer aankla nie.

Die satan is buitentoe gegooi as AANKLAER. Want die kruisdood van Christus het hom al sy grond op grond waarvan hy aankla, ontneem. Hy kan glad nie meer in die hemelse hofsaal instap met sy lêers vol klagstate nie. Daar is niks meer in sy lêers nie! Die kruisdood van Christus het al die klagstate en bewyse vernietig. Daarom is hy eens en vir altyd uit die hofsaal gewerp.

Die kruisdood van Jesus het die duiwel ontwapen. Sy enigste wapen is weggeneem: hy kan ons nie meer aankla vir ons sondes vd verlede/hede/toekoms nie. Ons staan voor God in Christus se onskuld. Daarom het die aanklaer geen sê oor ons lewens nie.

Kolos 2: 14-15 “God het die skuldbrief met sy aanklagte teen ons aan die kruis vasgespyker en dit vir goed weggeneem. Só het Hy oor die bose magte getriomfeer.” Die bose magte is oorwin omdat die aanklagte vernietig is. Nie een enkele een van u sondes (verlede/hede/toekoms) het die kruis oorleef nie. Toe die skuldbrief/klagstaat vernietig is, is die bose oorwin!

Verstaan u die magtige uitwerking hiervan op u persoonlike lewe?? U hart kan werklik tot rus kom. U lewe kan in oorwinning begin ingaan.

3 GOD DIE VADER VERHEERLIK HOMSELF DEURDAT HY DEUR DIE KRUISDOOD VAN CHRISTUS, ÁL SY SKAPE NA CHRISTUS TOE TREK

Vers 32: “As Ek van die aarde verhoog is (kruis – v 33) sal ALMAL na my toe trek.” Nog ‘n aangrypende vers. Groot vraag: Wie is die ALMAL?

Die “almal” kan nie álmal wees nie! Iemand soos Judas is byvoorbeeld nie deur die kruis na God getrek nie. Hierdie “trek” is ‘n effektiewe trekkrag, dis nie probeerslae wat misluk nie. In Joh 6:44 het Jesus immers gesê: “Niemand kán na My toe kom as die Vader hom/haar nie TREK nie.” Die Vader trek met die gekruisigde Christus en Hy trek effektief. Wie Hy trek, kóm!

Wie is die “almal” wie hy trek? Binne die konteks van Johannes-evangelie moet ons sê dat dit die SKAPE is, die mense wie die Vader voor die skepping reeds aan Sy Seun gegee het. Joh 6:37  Almal wat die Vader aan My gegee het, sál na My toe kom.

Die Vader verheerlik Sy Naam deurdat Hy met Jesus se kruisdood die tuiskoms verseker/waarborg van álmal wat Hy vooraf aan Sy Seun gegee het. Die Vader se Naam word hierdeur massief verheerlik. Toe die Here Jesus op die kruis verhoog is, het Hy die tuiskoms van al Sy skape gewaarborg/verseël. Nie één sal agterbly of per ongeluk langs die pad verlore gaan nie.

4 GOD DIE VADER VERHEERLIK HOMSELF DEURDAT HY DEUR DIE KRUISDOOD VAN CHRISTUS, DIE WARE LIG DEUR ALLE GELOWIGES SE LEWENS LAAT SKYN

Verse 35-36: As jy glo dat die kruis van Jesus a) jou oordeelsdag vir ewig weggeneem het en dat jy nooit weer in die oordeel sal kom nie en b) alle aanklagte teen jou uit die aanklaer se lêer verwyder is en die aanklaer uit die hofsaal geskop is en c) dat Sy kruisdood jóú as Sy skaap gekoop het wat in Sy kudde versamel is – dan begin Sy lig deur jou skyn. Jy síén nie net die Lig nie, jy wórd ‘n draer vd Lig. En jy begin beleef jou lewe as onbeskryflik sinvol. Jy tas nie meer rond soos iemand wat in die donker rondtas en oor alles val nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00