Skrif: Johannes 12: 1-11
In die vorige boodskap het ons gesien waarom die Here Jesus ná Lasarus se opwekking uit die dood, uit die publieke oog verdwyn het. Dit was omdat die Joodse Raad amptelik besluit het om Hom dood te maak, maar omdat dit nog nie die Paasfees was nie, kón Hy nie sterf nie omdat dit in God se Raadsplan was dat Hy spesifiek op die Paasfees sterf, wanneer die Jode die paaslammers slag. Hy moes die ware betekenis van die Pasga vervul deur as die Lam van God te sterf. Hy kon dus nie Homself voortydig aan die Jode uitlewer nie.
Maar, nou was dit 6 dae voor die Paasfees en die tyd was ryp. Nou gaan Jesus direk na Betanië toe – die plek waar Hy vir Lasarus uit die dood opgewek het. Marta, Maria en Lasarus het vir die Meester ‘n ete voorberei – heel waarskynlik om vir Hom dankie te sê vir wat Hy vir Lasarus gedoen het. Die ete was ‘n viering van Lasarus se opstanding. So iets het hulle nog nooit beleef nie. Die hele fokus was op Christus en Sy wonderbaarlike mag – met Marta (soos gewoonlik) aan die organiseer en kosmaak en Maria op die punt om haar diepste hart aan Jesus se openbaar. Terwyl Lasarus se oë net in stille verwondering rus op die Een wat aan hom die lewe gegee het.
Waarskynlik was die Twaalf (of ‘n paar van hulle) ook teenwoordig, want ons hoor Judas Iskariot se stem.
Daar is min twyfel dat Lasarus en sy twee susters totaal vervul was met verwondering, ekstase en dankbaarheid teenoor hierdie Jesus wat sélf die opstanding en die lewe is! Die Here Jesus se waarde/kosbaarheid moes hulle totaal oorweldig het. Dit was vir die Here belangrik dat hulle hierdie vreugde en ekstase behou wanneer hulle oor 6 dae by Sý graf staan. Dán moes hulle nog net so vervul wees met die oortuiging dat Hy die opstanding en die lewe is – wanneer dit lyk/voel of Hy dit níé is nie, want hier is Hy dan nou self dood en alles lyk so verlore! Juis dán, moes hulle hulle oortuiging van die Waarheid behou.
‘n Mens kry die indruk dat Maria nie regtig besef het wat die werklike betekenis van haar handeling was toe Sy die halfliter uiters kosbare nardusolie op die Heiland se voete uitgiet nie. Sy wou maar net haar dank en waardering en liefde aan Hom sigbaar betoon. Die beste wat sy kon gee, was hierdie olie, waarvan die waarde omtrent ‘n jaar se daglone was. Dit was 300 keer die dagloon van ‘n gemiddelde werker.
Persoonlik dink ek nie ons moet allerlei simboliese betekenisse inlees in wat presies die nardusolie sou beteken of waarom Maria spesifiek die Here se vóéte gesalf het of waarom sy Sy voete met haar háre afdroog nie. Die Skrif sê gewoon niks daaroor nie, daarom hoef ons nie verborge betekenisse te soek nie. Waaroor die Skrif niks sê nie, sê ons ook niks!
Wat ons wel moet raaksien is watter nuwe lewe, nuwe liefde, nuwe toewyding & oorgawe die Here Jesus in ‘n mens se lewe skep wanneer Hy Homself aan jou bekendmaak vir wie/wat Hy regtig is.
Ons mag nie hierdie Skrifgedeelte lees asof Maria se handeling ‘n voorbeeld is wat ons moet nadoen nie. “Maria het darem ‘n wonderlike ding gedoen. As ek ‘n goeie of verbeterde of hoë-oktaan Christen wil wees, moet ek ook so-iets doen. Ek moet Maria se inspirerende voorbeeld probeer volg. Ek moet ook haar gesindheid probeer hê. As ek baie hoë punte by die Here wil hê, moet ek Hom ook só liefhê en vereer.”
Nee! Nee! Ons sien nie in Maria se handeling iets wat ons moet najaag sodat ons guns in die Here se oë kan verdien nie. Die evangelieboodskap gaan nie oor hoeveel ons die Here moet liefhê nie. Dit gaan nie oor hoe hard ons moet glo nie. Dit gaan nie oor ons graad van toewyding aan die Here om in Sy goeie boekies te bly nie. Dit gaan nie oor wat ons moet doen om Hom aan die gang te kry nie. Geloof gaan nie oor iets wat jy doen sodat die Here vir jou iets kan doen nie. Die Bybel is nie vol voorbeelde wat ons moet probeer navolg nie. Goddank daarvoor!
Die evangelieboodskap gaan oor wat die Here met ons doen sonder dat ons ‘n vinger verroer. Dit gaan oor Christus Jesus en nét oor Hom. Die evangelieboodskap spel uit hoe ons op grond van die Here Jesus se kruisdood beloon word, al doen ons net mooi alles verkeerd! Dit gaan oor Sý liefde. Ware geloof is ‘n vertroue wat in jou groei wanneer jy besef wat Hy vir jou gedoen het en steeds doen. Hoe Hy jou ingesluit het by Sy kruisdood & jou gered en vergewe het, toe jy nie ingesluit & gered & vergewe wou wees nie. Dit gaan daaroor dat ons totaal onskuldig voor God is, al dink/voel ons ons is skuldig.
Wanneer jy besef hóé lieflik/kosbaar/onweerstaanbaar Hý is, dan ontspring daar vertroue in jou hart en jy begin Hom so skaam-skaam en treetjie-vir-treetjie ook liefhê. Maar jou skaam-vertroue en skaam-liefde tel nie één punt om jou in Sy goeie boekies te kry of te behou nie. Niks! ‘n Ronde nul! Jou vertroue/liefde is bloot net ‘n reaksie wat die ontdekking van wie Hy is, in jou hart kom skep het.
Dis presies wat in Joh 12 gebeur. Maria se lofwaardige daad, haar toewyding, haar liefde, haar oorgawe, staan NIE in die sentrum van verse 1-11 nie. In die sentrum staan die Here Jesus Christus! Dis wie Hy is/ wat Hy doen wat iets in Maria se hart laat ontvlam het. ‘n Ontdekking van die Here Jesus se opstandingskrag maak ‘n liefde in Maria se hart los en nou soek sy spontaan iets waarmee sy dit vir Hom kan wys. “A, hier is die nardusolie wat al dekades lank as erfstuk in ons familie van geslag tot geslag aangegee is. Ek sal Hom hiermee salf.” Nêrens is daar ‘n voorskrif wat vir Maria aanpraat om haar liefde vir die Here prakties te wys nie. Nee, dis spontaan. Dis ‘n blote reaksie op dit wat sy van die Here ontdek het.
Waarop Judas erg negatief reageer. Sý hart kon nog absoluut niks sien van wie/wat die Here Jesus is nie. Want gierigheid/mammon/geld het sy geestelike sensors totaal verstop. Slegs binne enkele dae sou hy – nie derduisende rande se nardusolie op die Here uitgiet nie – maar die Here Jesus verkoop vir ‘n paar rand. Dit is die blindheid wat oor ‘n mens kom wanneer jy dink jy móét in die Here se intieme dissipelkring wees om hemel toe te kan gaan. Jy moet jou saligheid wérd wees. Jy móét Sy volgeling wees om Sy guns te wen. Intussen kleef jou innerlike hart aan ‘n alternatiewe god – naamlik geld & besittings. En dit lei weer tot ander sonde soos leuens en diefstal. Judas het die Twaalf se geld hanteer en gereeld ‘n ietsie verduister. En nou lieg hy nog deur voor te gee dat hy ‘n hart vir die armes het: “Kon die olie nie eerder verkoop word en die geld aan die armes gegee word nie.” Hy beskou die Here Jesus as ‘n mors van tyd. Jesus se waarde is in Judas se oë maar bitter klein. Hy is nie meer as 30 silwerstukke werd nie.
Die tragiese is dat hierdie duisternis in Judas se hart so onnodig was. Want binne enkele dae sou die Here Jesus Judas se duisternis in Sy eie graf gaan begrawe en vir Judas met Sy dood/begrafnis/opstanding bevry. Maar Judas verstaan nie hierdie blye tyding nie. Al wat hy verstaan is dat hyself ‘n baie oulike outjie is en dat geld erg belangrik is.
Jesus se antwoord op Judas se tirade is eenvoudig: “Los vir Maria uit. Sy moet dit bewaar vir my begrafnis. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”
Eenvoudige, kort sinnetjies. Maar so kragtig. Want hier gee die Here DRIE REDES waarom Judas vir Maria moet uitlos: 1) My het julle nie altyd by julle nie, 2) die armes het julle altyd by julle en 3) sy moet dit bewaar vir my begrafnis. Moenie haar verhinder om haar liefde/aanbidding/bewondering/blydskap te behou wanneer sy binnekort by my graf sal staan nie. Jy gaan veroorsaak dat sy dit verloor. MOENIE! Jou stem/invloed kan iets binne-in haar doodmaak. Moenie dit doen nie!
JULLE HET MY NIE ALTYD BY JULLE NIE > Wat Maria gesnap het en Judas nie kon snap nie, was dat die Here Jesus Christus álle waarde oortref. Hý is die rede vir die lewe. Hy is die rede om te leef. Hy is die rede waarom dit sinvol is om te leef. Hy is die opstanding EN die LEWE. Gemeet teen die waarde wat die Here Jesus vir Maria het, was duisende rande se nardusolie vir haar van absoluut geen waarde nie. Omdat die Here Jesus van onberekenbare waarde is, is Maria se liefde ook onberekenbaar. Sy kon nie haar hart op ‘n skaal sit en sê “okay tot hier toe en nie verder nie.”
Indien Judas – daarenteen – nie die Here Jesus se waarde ontdek nie, sal hy sterf en sal hy die Here nooit weer sien nie. Met sy geestelike blindheid was hy letterlik besig om sy eie graf te grawe.
JULLE HET DIE ARMES ALTYD BY JULLE > Dis asof Jesus vir Judas sê: “Judas, as jy regtig ‘n hart vir die armes het, kan jy hulle nog lewenslank dien, man. Jy het nie nodig om die nardusolie daarvoor in te span nie. Ontdek eers mý waarde, dan reik jy uit die armes. Die probleem is jy het nié ‘n hart vir die armes nie, omdat jy nie ‘n hart vir my het nie. Jy het net ‘n hart vir jouself en vir geld. En dis ‘n selfmoordpad. Jou voorkeur vir geld is ‘n voorkeur vir die dood. Maar Maria het mý waarde ontdek, daarom kan sy die armes gaan dien.
Sien u? Gooi maar die peperduur nardusolie op Jésus uit, ontdek Sy waarde – en gaan dien dan die armes. Maar moenie dit omdraai nie!
MARIA HET MY GESALF VIR MY BEGRAFNIS > Letterlik in Grieks: “Sy het dit bewaar vir my begrafnis.” Sy het die nardusolie bewaar vir die dag van my begrafnis.
Dis ‘n moeilike vers. Wát moet Maria bewaar tot by Jesus se eie begrafnis? Dit kan tog nie die nardusolie wees nie, want dit is klaar uitgestort. Blykbaar loop Judas se woorde die gevaar om Maria te verhoed om “iets” te bewaar tot by Jesus se begrafnis. Wat kan dit wees?
Die beste antwoord: Wat Maria moet bewaar is dit wat ágter die nardusolie lê, naamlik dit wat in haar hárt is. Dit wat die Here Jesus binne-in haar binneste tot stand gebring het, naamlik haar verwondering/liefde/toewyding/dankbaarheid/vreugde/opgewondenheid oor HOM wat die opstanding en die lewe is. Dít moet bewaar word. Judas se gees moenie Maria se gees breek (negatief beïnvloed) nie. Sy moet dieselfde liefde & hoop in haar hart hê wanneer sy binne 6 dae by Jesus se graf staan en dit voel of haar lewe in duie stort.
Het die manier waarop die Here Homself aan u geopenbaar het iets in u binneste tot stand gebring? Opgewondenheid/liefde/toewyding/oorgawe?
Moet dan nie toelaat dat allerlei stemme & invloede u spoed breek en u gloed laat afneem nie.
Loop lig vir stemme wat vir jou ‘n skewe beeld van die Here Jesus/Bybel wil teken. Loop lig vir stemme wat vir jou wil wysmaak dat geld & besittings van meer waarde as Christus is. Pasop vir stemme wat jou wil wysmaak dat alles eintlik oor jóú gaan. Waak teen stemme wat jou wil vertel dat jý so bitter oulik is. Of dat die Here Jesus se kruisdood & opstanding nie jou genoegsame ewige redding is nie.
Wanneer krisistye in ons lewens opduik of wanneer ons self die dood in die oë moet kyk – moet ons nie verblind wees deur Judas se misleidende stem nie.
Laat ons ons krisisse tegemoetgaan in die krag van Jesus se opstanding EN ons totale onskuld voor God op grond van Jesus se kruisdood waarby die Heilige Gees ons ingesluit het. Halleluja! Amen.