Skrif: Johannes 11: 45-57
Lasarus is so pas uit die dood opgewek – slegs deur een almagtige gesaghebbende woord vd Here Jesus Christus. En onmiddelik is daar weer die bekende twee reaksies by die mense: sommige kom tot geloof en ander bly verhard en kan nie vinnig genoeg hardloop om vir die Fariseërs te gaan vertel wat gebeur het nie.
Áltyd wanneer die Here God werklik praat, sny Sy woord na twee kante toe. Dit is vandag steeds só. Sommige mense bly kil en onaangeraak. Ander word opgewonde en hulle geloofsoë word siende.
Vir die Fariseërs en Joodse leiers was Lasarus se opstanding uit die dood, die finale strooi. Nou móét hulle met hierdie Jesus ‘n plan maak – en gou ook. Wat hulle aanspoor, is vrees – vrees dat die Joodse volk sal ondergaan. Daarom roep hulle die Sanhedrin/Joodse Raad – byna iets soos die Joodse Hooggeregshof – byeen. Nou word die Jesus-kwessie ‘n amptelike saak. Nie meer net ‘n onderlangse gemor en on-offisiële pogings om Hom met klippe te gooi nie. Nou is dit ‘n kwessie van hoëvlak samesprekings en besluitneming – níé om die Waarheid te wete te kom en tot die Waarheid te bekeer nie, maar om as Joodse volk te oorleef teen die Romeine. Dis nou ‘n oorlewingstryd. Om van Jesus ontslae te raak is nou ‘n saak van lewe en dood, want indien dinge aangaan soos dit is, sal die hele volk binnekort in Jesus glo en glo dat Hy die Koning van Israel is. Dan sal die Romeine kom en die bietjie vryheid wat die Jode nog het, wegvat en hulle totaal onderdruk en dalk die tempel verwoes. Die voortbestaan van die Joodse volk is op die spel! Nou moet die Sanhedrin die saak amptelik bespreek en ‘n formele besluit neem oor wat hulle te doen staan.
Is dit nie ontsettend nie: Die Een wat gekom het om te red, word geminag as die een wat kom verwoes & vernietig.
Dis toe wat Kajafas, die hoëpriester, met die oplossing kom: “Julle verstaan nie: laat ons hierdie Jesus doodmaak sodat die Romeine nie die hele volk doodmaak nie. Dis beter dat een man sterf as wat ‘n hele volk sterf. Laat Jesus ons plaasvervanger word en laat Hy in ons plek sterf.”
Kajafas se raad het die finale deurslag gegee. Dit het eintlik die Here Jesus se dood verseël. Vanaf die dag van daardie Sanhedrinvergadering, was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. Die priesterhoofde het aan die volk opdrag gegee om Hom aan hulle uit te lewer wanneer hulle hom iewers vind, sodat Hy gevange geneem kon word.
Daarom kon Jesus nie meer in die openbaar rondgaan nie. Onthou: Hy kon nie Homself maar net te eniger tyd laat uitlewer nie, want Sy Vader het ‘n spesifieke tyd vir Sy offerdood bepaal, naamlik op die Paasfees, op die Vrydag wanneer al die Jode die Paaslammers geslag het. Sý kruisdood moes die vervulling wees van die inhoud en betekenis van die slagting van die paaslammers. Daarom moes alles volgens die Vader se tydskedule verloop. Dit was nie die Joodse Raad wat die saak in húlle hande gehad het nie. God het dit in Sý hand gehad.
Dit is die rede waarom die Here Jesus na ‘n obskure dorpie in die wildernis gaan, wég uit die publieke oog. Hy moes nog 2 weke of wat wag tot die Paasfees aanbreek voordat Hy Hom aan die Jode laat uitlewer. Juis omdat die Paasfees om die draai was, was daar baie mense van die platteland in Jerusalem om hulleself te reinig vóór die fees. En Sy Naam was op almal se lippe. Veral ná Lasarus se opstanding uit die dood. Almal is skielik die ene oë of hulle Hom dalk gewaar en of Hy nie dalk weer ‘n dooie sal opwek nie. Die malende massas, het die situasie baie onstabiel gemaak, daarom hou die Here Homself buite sig.
Die vraag waarop ons vanoggend ‘n antwoord moet kry, is wat die kernboodskap van Joh 11: 45-57 is en wat dit vir óns vandag beteken. Dit klink asof hierdie verse maar net ‘n historiese verslaggie/vertelling is van wat gebeur het – soos ek dit pas vir u opgesom het. In my relaas het ek egter verse 51-52 uitgelaat en dit is juis hierdie twee verse wat vir ons die boodskap oopsluit.
Wanneer Kajafas vir die Joodse Raad sê: “Dit is tot ons almal se voordeel dat een man vir die volk sterwe en nie die hele volk sterf nie”, verstaan hyself nie die werklike betekenis van wat hy sê nie. Dit beteken veel meer as wat sy eie bedoeling was.
Hoe so? Johannes sê (onder leiding van die Heilige Gees) Kajafas het onbewustelik ‘n profesie uitgespreek. Omdat hy die hoëpriester was, het God (net vir ‘n oomblik) deur hom aan die woord gekom en geprofeteer dat die Here Jesus vir die volk sou sterf. Hy sou egter nie net vir die Joodse volk sterf nie, maar deur Sy dood, sou Hy God se uitverkorenes uit alle nasies, wat oor die aarde versprei is, versamel tot een volk.
Kajafas se woorde was Kájafas se woorde met dit wat hý daarmee bedoel het, maar dit was tegelyk ook Gód se woorde met dit wat Hý daarmee bedoel het. Kajafas het daardie woorde uitgespreek omdat hy vir Jesus dood en uit die pad wou hê. Gód het daardie woorde uitgespreek omdat Hy vir Jesus dood, opgewek uit die dood en vir ewig op die troon wou hê! In Kajafas se kop was die gedagte: “Ons (Jode) maak vir Jesus dood sodat die Romeine nie vir ons doodmaak nie.” In God se gedagte was dit: “Ék maak my Seun dood sodat ek nie die uitverkorenes in die ewige dood vd hel hoef te stuur nie.” Uiterlik gesien was Kajafas se woorde net ‘n bose menslike plan om die Messias te vernietig. God die Vader het egter ‘n totaal ander bedoeling gehad as wat die menslike oog kon sien.
Ons moet in gedagte hou dat die lyding & sterwe van Christus uit Gód die Vader se hand gekom het. Dit is Hý wat dit aan Christus gedoen het. Sien Jesaja 53: 4-10: “Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Dit was die wil van God om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly.”
Die dood van Christus was nie maar net ‘n tragiese menslike gebeurtenis wat God toevallig omgekeer het tot ons beswil nie. Nee, God het dit sélf bewerk. God het self ‘n plaasvervanger voorsien vir mense wat Sy vyande is. Hierdie plaasvervanger sterf in die vyande se plek sodat die vyande nie sterf nie en die vyande tot Sy kinders verander word! Wonderbaarlik! Die ewige Seun van God word die vyand (Hy word tot sonde gemaak 2 Kor 5:21) & Hý kry die behandeling wat die vyand verdien en die vyande word God se seuns/dogters (sonder skuld en sonder blaam) en kry die behandeling wat kinders verdien om te kry. God doen dit. Hý laat die vyande se sonde/skuld/skandes vir Christus tel en Hý laat Christus se onskuld/reg-wees vir die vyande tel. Dit is hoe die vyande God se geliefde kinders word.
Wat is ‘n plaasvervanger? ‘n Plaasvervanger neem jou plek. Wat ‘n plaasvervanger in jou plek doen, doen jy – hoewel jý dit nie doen nie. Jou plaasvervanger doen dit. Indien jy ‘n verkeersboete van R1000 het en iemand anders betaal dit in jou plek, dan is dit so goed jy het dit betaal. Jy sal nooit weer ‘n rekening kry nie.
Hierdie plaasvervangende dood van Christus bring nie net die uitverkorenes uit die Jodendom tot God nie, maar ál die uitverkorenes uit alle nasies regoor die wêreld – sodat hulle sáám één nuwe volk/kudde kan wees. Wanneer hy sê (vers 52) dat Jesus sal sterwe “om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is tot een volk bymekaar te bring” – dan bedoel hy die uitverkorenes uit Jode & nie-Jode. Die bedoeling van Jesus se dood was spesifiek daarop toegespits om spesifieke mense te versamel én in een liggaam saam te bring. Openbaring 5: 9-10 > “U het gesterf om deur U bloed mense vir God los te koop uit elke stam, volk, taal en nasie. En U het hulle ‘n koninkryk gemaak.”
Die dood van Christus het ‘n effek/werking wat ver buite die grense van die Jodendom gaan. Ja, hulle ook, maar óók die nasies. Die kruisdood van Jesus verseker & beveilig & bewerkstellig die dáárstel van één bloed-gekoopte mensheid (die kerk), wat mense van die etniese volk Israel sowel as mense van alle ander nasies insluit.
Tussen hakies: Alle mense wat hulle vertroue op Jesus se kruisdood geplaas het en die Here leer ken het, sal hierdie nuwe volk v God baie baie liefhê (1 Joh 5:1). Dit sal jou naaste nááste familie wees. Jy sal ook die Jode liefhê – veral diegene wat hulle Messias ontmoet en leer ken het.
Ons moet raaksien dat – alhoewel die verlossing & aanneming tot kind wat die Here Jesus se kruisdood bewerk het, aan álle mense verkondig word, God die Vader ‘n spesifieke werking in die dood van Christus ingebou het sodat Sy dood spesifiek die uitverkorenes (die kinders v God wat oor die wêreld versprei is – die skape) verlos en hulle tot Homself bring en in een liggaam versamel. Binne die mensdom, is daar ‘n spesifieke mensheid wat God die Vader voor die skepping verkies het (Efes 1: 4-5). Jesus het gesterf om húlle te verlos en te versamel.
Toe Jesus op die kruis sterf, was Sy dood spesifiek daarop afgestem om dáárdie mense onfeilbaar met God te versoen en na God te bring. Ons moenie die dood van Christus inperk asof dit maar net ‘n algemene voorsiening/aanbod is vir alle mense wat dit wil aanneem nie. Christus het nie gesterf om maar net ‘n verlossingsaanbod aan alle mense te maak (en nou sit Hy en wag & kyk wat mense daarmee doen) nie. Nee! Die onoorwinlike krag van Jesus se dood beteken dat dit effektief die opstand & rebellie in die uitverkorenes se harte daadwerklik oorwin en hulle ombuig tot geloof en bekering. Jesus se kruisdood besit die onoorwinlike krag wat die uitverkorenes onfeilbaar & almagtig versamel en tot God te bring. Jesus se plaasvervangende kruisdood is 100% suksesvol in die bereiking van die uitkoms waartoe God dit bestem het.
Die krag wat hierdie waarhede in ons lewens het, is groot. Dink byvoorbeeld aan die stryd wat elke Christen so goed ken wanneer die satan en jou eie gewete jou aankla en veroordeel vir die sonde wat jy doen. Alle Christene ken die moedeloosheid wat hierdie stryd veroorsaak. Jy weet nie hoe om dit te beveg nie.
Wel, hóé beveg jy dit? Jy erken teenoor die Here dat jy verkeerd is, maar jy weier om veroordeeld/verwerp/verdoem te voel WANT Gód het ál jou sonde in Sy Seun veroordeel. Romeine 8:3 “God het met die sonde afgereken deur Sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur. Só het Hý die sonde in die sondige bestaan vd mens veroordeel.”
U sien, dit is die krag van die dood van Christus IN ONS PLEK. Dit gee ons ‘n rotsvaste vertroue in die onoorwinlike krag en sukses van Jesus se kruisdood. Sy kruisdood is nie maar net ‘n algemene aanbod wat afhanklik is van menslike keuse om suksesvol te kan wees nie. Sy kruisdood is ‘n krag wat nie misluk om alle uitverkorenes onfeilbaar salig te maak nie.
Wanneer die Apostel Paulus sê: “Ek leef deur die geloof in die Seun v God wat my liefgehad het en homself vir my gegee het”, dan bedoel hy nie dat die Here net maar Sy liefde vir hom aangebied het nie. Hy bedoel die Here het hom agtervolg met Sy liefde, die Here het hom ingehaal met Sy liefde, die Here het sy hart oorwin & verower met Sy liefde, die Here het hom uit die geestelike dood opgewek met Sy liefde, die Here het hom versadig met Sy liefde.
Sien u? As ‘n mens die effektiewe onoorwinlike kragtige plaasvervangende kruisdood van Jesus verstaan, dan gee dit jou ‘n intense besef van die feit dat spesifiek/spesiaal JY persoonlik liefgehê en hooggeag word en dat JY gekies is, gekoop is, versamel is – JY spesifiek. Dit gee aan ‘n gelowige ‘n onbeskryflike besef van rykdom, volheid, sinvolheid, vervuldheid. Dit is die ware krag van die Christelike Geloof.