Skrif: Johannes 8: 31-47
Ons het verlede Sondag in 8:30 gesien dat daar ‘n groot groep van die aggressiewe Jode (met wie die Here Jesus in gesprek was) was, wat intellektueel/verstandelik begin “glo” het dat Jesus dalk ís wat Hy sê Hy is. Hulle het dit verstandelik begin insien & aanvaar. Tragies genoeg was dit nog nie ware geloof nie. Om intellektueel in te stem dat iets die waarheid is, is nog nie geloof nie. Dit sien ‘n mens in die paragraaf wat ons vandag bestudeer: 8: 31-47.
In vers 31 praat Jesus spesifiek met dié Jode wat “in Hom geglo” het (verwysende na vers 30) en dan spel Hy vir hulle uit wat ware geloof werklik inhou. Die oomblik wanneer hulle dít hoor, is hulle “geloof” meteens vergete en raak hulle buite hulle sinne van aggressie – wat die bewys is dat hulle slegs intellektuele geloof gehad het. Valse geloof gooi handdoek in wanneer daar weerstand kom of wanneer die Here nie na jou pype dans nie. Dis soos die saad wat tussen die onkruid gesaai word en wat aanvanklik met entoesiasme ontkiem en opkom, maar gou-gou doodgesmoor word deur versoekings en die moeites vd lewe (Mat 13:7).
Ek wil die uitleg van hierdie gedeelte effens anders aanpak as gewoonlik. Ek wil eers ‘n samevatting gee van die gesprek tussen die Here Jesus en die Jode, sodat ons die lyn goed kan raaksien. Daarna wil ek vir u wys wat die belangrikste geestelike beginsels is wat uit hierdie gesprek na vore kom.
Eerstens dan die gesprek: Kom ons gaan haal dit weer by die begin:
Terwyl Jesus besig is om met die Jode te praat en aan hulle te openbaar wie Hy werklik is, en hulle baie opstandig raak oor die goed wat Hy van homself sê, was daar ‘n groot groep wat begin insien dat wat Hy sê, dalk waar kan wees. Hulle draai positief.
Toe Jesus hierdie positiewe gesindheid merk, praat Hy spesifiek met húlle, want Hy weet dat slegs verstandelike positiwiteit nie genoeg is nie. Hy wil hê hulle moet goed verstaan wát dit werklik beteken/impliseer om in Hom te glo.
Eerstens beteken dit – sê Hy – dat die vrug/gevolg van geloof sal wees dat hulle hulle volhardend sal wil toewy aan Sy Woorde en dít deelmaak van hulleself. Sodoende sal hulle – tweedens – die Waarheid leer ken en die Waarheid sal hulle – derdens – totaal bevry.
Hulle verstaan egter nie wat Hy bedoel met “bevry” nie. Hulle dink Hy praat van politieke bevryding, terwyl Hy eintlik van die bevryding van sonde-slawerny praat. Wie sonde doen, is immers ‘n slaaf van sonde. En ‘n slaaf het nie ‘n permanente plek binne ‘n huisgesin nie. Een of ander tyd moet hy gaan. Net ‘n egte seun het permanensie in ‘n gesin. Jésus is die Seun en Hy maak sonde-slawe vry om ook permanent binne die Vader se gesin te kan bly.
Die probleem is dat Jesus en die Jode by mekaar verbypraat. Daarom hóór hulle Hom nie. Die rede waarom hulle by mekaar verbypraat, is omdat hulle & Jesus verskillende vaders het – en ‘n mens praat die taal van jou vader.
Alhoewel hulle intellektueel “glo”, is die duiwel self steeds hulle vader, maar hulle besef dit nie. En God die Vader, is Jesus se Vader. Maar die Jode dink Abraham is hulle vader, want hulle is sy fisiese verbondsnageslag. En omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle outomaties oppad hemel toe – so dink hulle. Hulle is deel van die fisiese verbondsvolk en hulle is besny en dit is al wat nodig is.
Maar Jesus sê vir hulle: “Hoe kan Abraham julle vader wees? Julle doen dan nie wat hy gedoen het nie. Sou hý my wou doodmaak? Sou hý moord beplan? Sou hy nie die waarheid wat ek verkondig omhels het nie? Nee, julle het ‘n ander vader.”
Maar hulle verstaan steeds nie. Hulle sê: “Nee maar God is ons vader, want ons volk is nie met afgode en ander godsdienste deurmekaar nie. Ons bly suiwer.”
Waarop Jesus sê: “God kan ook nie julle Vader wees nie, want dan sou julle my liefhê. En julle sou verstaan het wat ek sê. Maar julle kán nie verstaan wat ek sê nie, omdat julle ‘n ander vader het. En julle doen net mooi álles wat julle vader wil hê. Dis die duiwel self wat julle vader is. Twee goed is van die begin af van satan waar: 1) Hy is ‘n mensemoordenaar van Adam se tyd af en 2) ‘n leuenaar. Daar is geen waarheid in hom nie. Dis waarom julle mý wil vermoor en waarom julle nie vatbaar is vir die waarheid wat ek preek nie. Julle weet voor julle siel dat ek sondeloos is en tog glo julle nie die waarheid wat ek preek nie. Maar ‘n kenmerk van iemand wat ‘n ware kind v God is, is tog dat so iemand die woorde van God indrink & dit baie baie liefhet. Maar nie julle nie, want julle het ‘n ander vader. Dis die hele probleem.”
Dit is die trant van die gesprek. Nou is die vraag: Wat sê dit vir óns wat op 15 Julie 2012 in Tafelberg gemeente se kerkgebou sit? Wat is die geestelike beginsels wat die Heilige Gees vir ons uit hierdie Skrifgedeelte leer?
1 DIE MENS SE SONDIGE GENEIGDHEID IS OM OP VALSE SEKURITEITE TE VERTROU > Veral twee: verstandsgeloof en die verbond. Klink snaaks, want om ‘n volgeling van Christus te wees móét ‘n mens tog met jou verstand instem dat die Waarheid vd Evangelieboodskap die Waarheid is – geloof is kennis & vertroue! En daarby is die Here se verbond tog die hartklop van die verlossing. Hoe kan dit dan válse sekuriteite wees?
Wel, ons as mense máák dit tot valse sekuriteite – soos hierdie Jode gedoen het – wanneer ons nie oorgaan tot daadwerklike vertroue op die Here se kruisredding nie, maar net vashaak by ‘n intellektuele geloof op die manier wat die duiwel self (vlgs Jak 2:19) glo. Satan glo byvoorbeeld dat God Gód is en dat die Bybel die waarheid is, maar hy vertrou seer sekerlik nie op Jesus se kruisredding vir sy verlossing nie!
Op dieselfde manier is ons geneig om van die verbond ‘n valse kruk te maak deur te dink dat ons insluiting by die verbond en die doop wat ons ontvang het, daadwerklike vertroue op die Here se kruisredding & omdraai na die Here, oorbodig maak. Dit is wat hierdie Jode gedoen het. Al beplan hulle moord op die Messias, hulle verbintenis aan Abraham maak alles outomaties reg! Hulle godsdienstigheid, hulle afkoms en ras en etnisiteit. Hulle het nie besef dat dit valse sekuriteite is nie. Hulle het nie besef dat fisiese besnydenis tot die geestelike besnydenis vd hart moet lei nie! Christus, Sy kruisredding – is die enigste ware sekuriteit en die ware geloof vertrou dáárop.
2 DIE EEN UNIEKE KENMERK VAN ‘N WARE VOLGELING VAN CHRISTUS > As ‘n mens se oë oopgegaan het vir die gevaar van die valse sekuriteite en die Here Jesus Christus sélf en Sy verlossingsdood het die diepe inhoud van jou vertroue geword, wat sal die uiterlike kenmerk daarvan wees? Hoe sal dit sigbaar word dat my oë vir die Here Jesus oopgegaan het?
Die unieke kenmerk van ‘n ware volgeling van Christus is sy/haar liefde vir die Woord v Christus en sy/haar volhardende omgaan met/ toewyding aan die Woord. Woordgesentreerde lewe. Dis die eerste ding wat die Here vir daardie Jode sê: “As julle aan My woorde getrou bly…” (v 31). En “wie ‘n kind van God is, luister na die Woorde van God – wie nie luister nie, bewys dat hulle nie kinders v God is nie” (v 47). Nie voorwaarde vir verlossing nie, maar vrug va verlossing: Daaglikse liefde vir die Woord van die Here.
‘n Mens word uit genade sonder werke op Golgota gered, maar jou werke bewys dat jy uit genade sonder werke op Golgota gered is! (Jak 2:17). Die liefde vir, studie van, omgang met, verknogtheid aan die Woord is die grootste bewys.
3 DIE LIEFDE VIR DIE WOORD LEI TOT ‘N ONTDEKKING VAN DIE WAARHEID > Daar ís iets soos absolute waarheid! Die hele Bybel maak op byna elke bladsy daarop aanspraak dat hý alleen die waarheid is en alle ander “waarhede” uitsluit! Dis onmoontlik om die Bybel te lees en dit nie te sien nie.
In ons sg “post-moderne” tyd, hoor ons dikwels dat gesê word dat waarheid iets relatief is. Elke mens het maar sy eie waarheid. Alles gaan oor hoe jy ‘n ding sien & interpreteer. En tog: wanneer politici op TV dinge kwytraak, weet ons gou wat waarheid is en wat nie! Wanneer ‘n onderwyser ‘n kind onbillik behandel weet die ouers baie gou wat waarheid is. Wanneer ons onregverdiglik van iets beskuldig word, is ons gou om die waarheid te verdedig!
Iemand wat die Woord liefhet en lees, lees, lees …. ontdek dat hierdie Woord die absolute waarheid is. “U Woord is die waarheid” (Joh 17:17). Die Waarheid is absoluut en sluit alle ander “waarhede” uit. Die Evangelieboodskap is die absolute waarheid en gaandeweg ontdek jy dit namate die Woord in jou geestelike bloedstroom kom.
4 DIE ONTDEKKING VAN DIE WAARHEID LEI TOT BEVRYDING > Elke mens het – of ons dit nou wil weet of nie – bevryding nodig. Want elke mens is ‘n slaaf. En wie sondig, is ‘n slaaf van sonde. En ‘n slaaf is gebind. As hy nie vrygemaak word nie, sterf hy in daardie gebondenheid.
En wat ons nie altyd besef nie, is dat dit menslik onmoontlik is om deur énigiets wat ons doen, hieruit vry te kom. Want hierdie binding gaan nie maar net oor uiterlike verkeerde dade nie. Dit gaan oor ‘n mag binne-in ons wat ons aftrek en maak dat enigiets vir ons meer begeerlik as Jesus lyk. Dit is wat sonde is: om iets/iemand bó Jesus te begeer en daarvolgens te dink of te handel en sodoende God se wet te oortree en onder die oordeel te kom. Dis ‘n gravitasiekrag wat ons aftrek, wat ons nie kan oorwin nie. En daarom sit ons gevange soos slawe.
Die sondaar het geen krag/vermoë in homself om hierdie slawerny af te skud nie. O ja, hy kan sleg voel oor goed, hy kan sekere behoeftes voel, hy kan hartseer, depressief voel. Hy kan wens hy het ‘n verhouding met God. Hy kan wens God kom in sy lewe en laat hom beter voel. Hy kan wens hy het ‘n beter lewe, beter dit & dat. Hy kan wens die Here neem sy neerslagtigheid weg en maak hom gelukkig en neem sy doodsvrees weg en gee hom lewe na die dood. MAAR wat hy níé by magte is om te doen nie, is om van sy eie innerlike gevalle natuur ontslae te raak. Hy staan magteloos teenoor sy selfmisleidende bedorwe sondige prioriteite. Hy is ‘n slaaf. Grieks: Laagste slaaf in die huishouding – dié soort wat in kettings is.
Dit is waarom die mensdom in so ‘n toestand van soeke is: Wat is waar? Wat is reg? Wat is verkeerd? Wat maak regtig saak? Wat is betekenisvol? Wat is die sin in alles? Wat is die doel van alles? Wat maak ek hier? Waarop kan ek my lewe neersit wat ek kan weet sal hóú? Wat kan ek vertrou? Wie kan ek vertrou? Waarop kan ek reken? Wat is waarheid? Is daar ooit so iets soos waarheid?… En so gaan die innerlike soeke voort – sonder ophou. En die verdwaalde mens weet nie watter kant toe nie. Alles wat hy najaag is soos ‘n damp wat verdwyn. Dit is waarom soveel mense sê “ag, daar is geen waarheid & sin nie – laat ons leef net vir die oomblik want dis al wat saakmaak – laat ons ons oorgee aan alles waartoe ons luste ons lei. Gryp die oomblik en melk hom en kry uit hom uit alles wat jy kan.” Geen wonder dat die Heilige Gees praat van mense wat leer & leer en nooit tot die kennis vd waarheid kom nie .. dis ‘n lewenslange soeke (2 Tim 3:7).
Dis net die Waarheid van die Seun v God wat bevry. U weet, in die ou tyd kon ‘n slaaf slegs op een manier vrykom: die dood. En so het die Here Jesus die slawe vrygemaak: deur in hulle plek die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en hulle dood te sterf! (Filip 2: 7-8). Hulle sondeverslawing is verbreek, hulle skuld is betaal, die oordeel v God is weggeneem en hulle het ‘n Skat/rykdom om voor te leef. Dit alles het Jesus gedoen.
Deur Sy dood is my skuld betaal, is die veroordeling weggeneem en deur Sy opstanding lééf Hy as my skat & rykdom. En ek het die Heilige Gees as leidsman ontvang (Joh 14:26), wat my lei en salf (1 Joh 2:27). Ek het die Woord as handleiding, ek het Christus en ek het die Gees. Nou is ek bevry van die ewigdurende soeke na die Waarheid, van die satan se verblindende mag, kettings van geestelike dood, tronk van sonde, vrees, groepsdruk van mense, twyfel, onkunde…
Vers 35-36 > “’n Slaaf bly nie vir altyd by ‘n huisgesin nie, maar ‘n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.”
Al gehoor van ‘n slaaf wat ‘n wettige erfgenaam geword het? Dis presies wat met ons gebeur het!
Stel uself ‘n plaas-opset voor. Daar is ‘n boer, sy seun (erfgenaam) en arbeiders. Dis ploegtyd. Almal werk skouer aan skouer. Die seun (wat nog op skool is) werk net so hard as die arbeiders. Sien byna nie die onderskeid. Maar, daar is tog ’n reuse verskil: Die arbeiders werk as árbeiders vir ’n loon. Die seun is die erfgenaam. Hy is kind in die huis. Die arbeider is nie regtig lús om te werk nie, want niks behoort aan hom nie. Hy wil net sy loon kry en oorleef. Hy het ’n slawementaliteit, want hy werk vir ’n baas. Die seun het egter ’n band met sy ouers en hy weet dit is ook sý plaas. Hy is erfgenaam. Maar die slaaf/arbeider erf níks. O ja, hy werk vreeslik hard, hy verdien geld, maar hy verkry nooit die status van ‘n erfgenaam / kind in die huis nie. Nooit deel vd familie nie. Die arbeiders lewe onder die heerskappy van reëls en wette. Die seun lewe onder die heerskappy van sy pa se liefde & guns met die mentaliteit van: Ek doen alles omdat ek reeds weet dat ek alles erf en ek ís ingesluit in my pa se liefde.
Maar, toe besluit die boer hy wil een van daardie arbeiders se hele mentaliteit verander. Vraag is HOE? Hoe sal die boer die arbeider se mentaliteit/lewenswyse geheel en al verander kry? Nog meer te vergoed? Minder toesig uitoefen? Nie te straf nie en hom meer lief te hê? Geen dissipline? Elke boer weet: Doen jy dit, werk hulle straks minder, swakker en word hulle eise net meer. Die boer gaan uit sy pad om die allerbeste vir sy arbeiders te gee: goeie lone, behuising, alle moontlike sorg ens. ens. Maar, al doen & gee hy wát: Die arbeider behou die mentaliteit van ’n arbeider. Waarom? Want hy is ’n arbeider!!
Daar is net een manier hoe die boer die arbeider se hele mentaliteit sal verander. Hy moet die arbeider wettiglik as sy eie seun aanneem en hom erfgenaam maak en hom in sy huis as sy kind laat woon. Indien die arbeider sover kan kom om te GLO dat die boer hom as kind aangeneem het – sal sy lewenswyse verander van arbeider na kind, want dan ís hy nie meer ’n arbeider nie. Daardie radikale daad vd boer – waar hy net eenvoudig besluit om die plaasarbeider as kind aan te neem – verander die arbeider se hart & mentaliteit & gedrag – mits hy gló dat die boer dit regtig gedoen het!
Klink so iets té radikaal vir enige boer om te doen? Natuurlik. Dis verregaande.
Presies so radikaal was God se plan. Só het Hy ons verlos van ons slawementaliteit. Dit was die enigste manier hoe Hy ons mentaliteit/denke/hart/gedrag kon verander: Hy het ons net so IN en MET al ons sonde – as Sy erfgename aangeneem. Hy het ons aangeneem vanaf die oomblik toe Sy eie Seun (as ons plaasvervanger) in Betlehem gebore is, ‘n volmaak gehoorsame lewe gelewe het, gely het, gekruisig is, opgestaan het, opgevaar het, Sy Gees uitgestort het. Só is ons aangeneem. Deur dit wat Hy perfek in ons plek gedoen het, IS die kettings en bande van ons afgesny. Dit het gebeur. Ons is deur Goddelike hande uitgetrek uit slawerny en oorgeplaas na die familie van die lewende God. Ons het kinders geword in die Vaderhuis. Ons mag by Sy tafel eet. Dit is wat die waarmerk van die doop swart op wit aan ons sertifiseer – nog voordat ons ons verstand het.
En die oomblik wanneer ons sover kom om in ons aanneming-as-kind te begin glo – begin ons outomaties ook soos kind/erfgenaam léwe. Ons mentaliteit verander. Ons innerlike verander. Ons houding teenoor die Here verander. Ons gedrag verander.
Omdat jy besef dat Hy gekies het om jou as erfgenaam aan te neem, kry jy Hom lief. Jy glo jou eie doop, sou ons kon sê. Omdat jy besef dat Hy jou vergewe het, is jou skuldgevoelens weg. Waar jy voorheen – toe jy slaaf was – al jou verkeerde dade/woorde goedgepraat het, kry jy nou – as erfgenaam – berou daaroor. Jou lewe-met-Hom bestaan nie meer uit vereistes wat jy moet probeer nakom om beloning te kry nie, want jy weet jy ís aanvaar. Jy weet God hou jou vas met Jesus se kruisdood & opstanding, daarom is jy nie meer bang vir verwerping nie. Jou lewe met die Here word ’n lus – nie meer ’n plig uit skuldgevoelens nie. Die Heilige Gees roep in jou hart: Abba, Vader!! Hy roep dit hard en duidelik. Daar is niks onsekers nie. Hoe is ons nie bevry deur die waarheid en die Seun nie!
5 DAAR IS ‘N GEDUGTE VYAND WAT VERSLAAN IS > Dit is die duiwel/satan. Nie net ‘n onpersoonlike mag genaamd “die bose” nie, maar ‘n persoon, ‘n gevalle engel – satan. Hy haat mense-na-Gods-beeld-gemaak en hy haat die waarheid. Eintlik het hy dit teen God self, maar omdat hy Hom nie kan aanraak nie, spits hy hom toe op God se beelddraers (Openb 12:17). Hy loop letterlik rond soos ‘n brullende leeu (1 Pet 5:8). Sy doelwit met die mens is om hom op allerlei wyse dood te maak (geestelik, psigies, emosioneel, relasioneel, fisies, tydelik, ewig) en te verblind vir die waarheid. Ons mag nie hierdie vyand onderskat nie. Kyk maar na wat in WO2 gebeur het, want daar sien ons dit sonder dat ons eens die Bybel hoef te lees.
1 Joh 3:8 “Vir hierdie doel het die Seun vd Mens verskyn: om die werke van die duiwel te vernietig.” Ja, die duiwel ís ‘n sterk man, maar Jesus se kruisdood en opstanding het hom gebind (Openb 20:2; Luk 11:22). Hy is nou aan ‘n leiband. En as jy nie binne die radius van die leiband gaan nie, kan hy jou niks maak nie. Maar hy is nie net gebind nie, hy is oorwin en by die koms van Christus is sy uiteinde die poel van vuur (Openb 20:10). Daarom weet hy dat hy min tyd het (Open 12:12).
Die Here help ons almal om in ons bevryding te leef elke dag.