Skrif: Johannes 8: 21-30

In ‘n sekere sin is 8: 21-30 ‘n verduideliking van wat die sg. “sonde teen die Heilige Gees” is. U weet dat Mark 3, Matt 12 en Luk 12 praat van die sonde wat “onvergeefbaar” is, wat “teen die Heilige Gees” begaan kan word. En as ons na die konteks van hierdie gedeeltes gaan kyk, sien ons dat die Joodse leiers gewéét het dat Jesus die waarheid praat, dat Hy ís wie Hy sê Hy is – maar dat hulle Hom nogtans teëgegaan het. Vir iemand wat wéét dat die Goeie Nuus van Jesus Christus die absolute waarheid is – en dit steeds wegstoot of passief daarteenoor bly – vir só iemand is daar geen vergifnis nie. Tensy daar ‘n ontwaking & bekering kom.

Die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees is om lewenslank neutraal/passief teenoor die Waarheid van die evangelieboodskap te bly – terwyl jy van beter weet!! Gaan lees gerus Mark 3:29; Mat 12:32; Luk 12:10 en oortuig uself.

Presies dít sien ons in Joh 8: 21-30. Die Joodse leiers het geen verskoning vir hulle verharding gehad nie, want die jarelange voorbeeld van Jesus, Sy deeglike Goddelike leringe en Sy wondertekens was oral rondom hulle en dit het hulle sonder enige verskoning gelaat. En tog… bly hulle verhard.

Hulle was dus in die proses om die sonde teen die Heilige Gees te pleeg.

Dit is waarom ons Here Jesus vir hulle sê: “julle gaan in julle sondes sterf.” Hy waarsku hulle nie. Hy stel die voldonge feit: “Julle gáán in julle sondes sterf.” (v 31). Eintlik is dit ‘n vonnis wat Hy hulle oplê. Dis baie ernstig. Die onvermydelike gevolg van hulle verharding is dat hulle in hulle sondes sal sterf. Hulle sal onvergewe sterf. Ongeregverdig. Verdoem. Verban. Ongeskik vir die nuwe aarde – om nooit daar in te gaan. Dit is die ewige dood.

En statistiek sê vir ons dat elke 60 sekondes van elke dag, daar nagenoeg 108 mense in die wêreld sterf, waarvan nie meer as 5% ware Christene is nie. Dus sterf nagenoeg 102 mense elke 60 sekondes in hulle sondes. Elke 60 sekondes maak 102 mense hulle oë in die verderf oop. Dit is 6120 per uur. En 146880 per dag. En 53.6 miljoen per jaar!!

Ons kan dus goed verstaan hoe deurslaggewend belangrik dit is vir elke mens om te weet wát presies die oorsaak is dat ‘n mens in jou sondes sterf. En hoe om dit ten alle koste te voorkom.

En presies dít maak Joh 8: 21-30 so ‘n geweldige belangrike paragraaf. Want ín Sy vonnisoplegging, sê die Here Jesus baie duidelik watter VIER dinge ‘n mens moet doen om seker te maak dat jy in jou sondes sterf – dat jy een van die 102 is wat élke 60 sekondes vir ewig verlore is. Daarom die tema van vanoggend se boodskap: Vier maniere om in jou sonde te sterf.

NOMMER EEN: WEES EIE-GEREGTIG Vv 21-22 > “Ek gaan weg en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterf. Waar ek heen gaan, kan julle nie kom nie. Die Jode (dit is die leiers) sê toe: “Gaan Hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar ek heen gaan, kan julle nie kom nie.”

‘n Mens moenie hierdie verse bo-langs lees nie. Wat dit eintlik sê is dat die Joodse leiers vir Jesus uitgelag het. Onthou vir die ortodokse Jode was selfmoord ‘n baie ernstige saak. Die Joodse Rabbi’s het geleer dat iemand wat selfmoord pleeg na die donkerste deel van Hades (onderwêreld, doderyk van verlore siele) gaan. Dit is natuurlik nie wat bybelgelowige Christene vandag glo nie (nl dat elke mens wat selfmoord pleeg noodwendig verlore is nie), maar dit is wat die ortodokse Jode geglo het.

Kyk nou mooi wat hulle dus eintlik sê: “Dalk gaan Hy selfmoord pleeg en Homself sodoende veroordeel tot die diepste plek in die verderf, en óns sal Hom nie dáárheen kan volg nie, want óns is by verre té goed & reg om ooit daar te kom. Laat Hy maar homself doodmaak en na die duistere Hades gaan, waar óns tog nooit sal kom nie.”

In hulle eie oë was hulle só vol eiegeregtigheid dat Jesus vir hulle die grap van die jaar was! Hulle is só vol eiegeregtigheid dat hulle totaal doof is vir wat Jesus eintlik sê. Eiegeregtigheid het die manier om ‘n mens geestelik afgestomp & doof te maak. Wat Jesus eintlik sê, is dat Hy iewers gaan waar hulle nie kan kom nie, maar dis nie Hades nie, maar God se hemel. Dis net mooi andersom as wat hulle dink.

Eiegeregtigheid is ‘n lelike ding. Want jy is nooit ‘n verlore sondaar wat ‘n verlosser dringend nodig het nie. Jy lê nooit in gebrokenheid op jou knieë nie. Die dokter het nie vir jóú gekom nie. Hy het vir die siekes gekom, maar jy glip verby, want jy is tog redelik gesond. En só bly jy altyd buite bereik van die geneesheer.

Om eiegeregtig te wees is dus eintlik heel maklik. Dis ons almal se eerste instink: ja, jy het wel foute & tekortkominge, maar is nooit totaal hopeloos verlore nie. Jou sonde is nooit só ernstig nie. Jy durf nooit erken dat jou sonde jou van God geskei het en dat jy verlossing van buite af nodig het nie. Soos Adam agter sy selfgefabriseerde vyeblare geskuil het toe God hom soek. Dit is alle mense se eerste instink.

Hierdie hele “gees” kom uit die put uit. Kyk wat antwoord Jesus hulle in vers 23: “Julle kom van onder. Ek is van daar Bo. Julle is van die wêreld. Maar nie Ek nie.” Daarmee wys die Here vir hulle wat die bron van hulle eiegeregtigheid is: dit is die gees van die wêreld wat in satan se greep vasgevang is. As Hy sê hulle “kom” van onder, bedoel Hy: dit is die bron van hulle probleem. Die bron van eiegeregtigheid is die wêreld & die duiwel wat in die wêreld sy domein het. En die duiwel is ‘n mensemoordenaar. Eiegeregtigheid waarborg dat jy uiteindelik in jou sondes sal sterf.

NOMMER TWEE: WEES AARDSGEBONDE: Weer eens vers 23: “julle is van die wêreld.” Dit is die tweede gewaarborgde manier om in jou sondes te sterf: leef vasgegordel aan die sisteem van hierdie wêreld. Begrip “wêreld” verwys nie na die aarde/skepping nie, maar na die sondige wêreldsisteem wat deur die ongeredde mens & satan beheers word en wat humanisme (plaas die mens voorop), materialisme (plaas “dinge & die tydelike” voorop), en menslike luste voorop stel. Wanneer jy humanisme, materialisme en wellus het, het jy “koning mens” voluit op die troon. En wie het dan die lewende God nodig? Dit is die essensie van wat die Bybel met “die wêreld” bedoel.

Al wat ‘n mens moet doen om in jou sondes te sterf, is om in hierdie wêreldsisteem tuis te wees. “As ‘n mens die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in jou nie” (1 Joh 2:15). Wie ‘n vriend van die wêreld is, is per definisie ‘n vyand van God (Jak 4:4). Geen neutraliteit nie. Dis só of dit is só.

U sien die volgeling van die Here Jesus leef in ‘n totaal ánder leefwêreld. Die wêreldsisteem haat vir Jesus met ‘n passie en daarom haat die wêreld ook die volgeling van Jesus (Joh 15:18). ‘n Christengelowige word in die Skrif beskryf as iemand wat per definisie die wêreld oorwin het (1 Joh 5:4). ‘n Christen se burgerskap is nou reeds in die hemel (Filip 3:20). Die mens wat op pad is om in sy sondes te sterf, is egter aardsgebonde, sy aptyte is sy god (Filip 3:19). Sy gedagtewêreld is heeltyd op aardse dinge gefokus (Filip 3:19). Maar die gelowige mens – wat redding & saligheid in die Here Jesus gevind het – se lewenskoers & lewensfokus het omgeswaai. Dit is ook die klinkklare bewys dat hy die nuwe lewe van die Here ontvang het.

NOMMER DRIE: WEES ONGELOWIG: Vers 24: “As julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” Dus: Moenie jou vertroue op Jesus Christus plaas vir verlossing en saligheid nie en jy sal gevolglik beslis in jou sondes sterf. Glo/vertrou is wisselterme.

Maar, kyk na die oop deur wat die Heiland hier laat: Hy sê: “AS julle nie glo….” M.a.w: Dis nie nodig om die pad van ongeloof te loop nie! Die deur staan steeds oop om om te draai. Niemand hóéf in sy/haar sondes te sterf nie. Is dit nie ‘n wonderlike oop deur nie?

En moenie die verdere eienaardige woorde miskyk nie: die Here Jesus sê – “as iemand nie glo dat Ek is wat Ek is nie….” Wat beteken dit? Dat Ek wát is nie? Wel presies wat Hy in vers 23 gesê het: Dat Hy van Bo is en nie van die wêreld nie. Dis juis wat die Jode nie wou hoor nie. Wat hulle so konstant geïrriteer het, was Jesus se onophoudelike aanspraak dat Hy God is. Dit het hulle verskriklik aggressief gemaak.

Nou sê Jesus: “Jammer, maar as julle nie glo dat ek dít is wat ek sê ek is nie… naamlik dat ek God is nie.. sal julle in julle sondes sterf.” Daardie uitdrukking EK IS WAT EK IS, is presies wat God (die Vader) self vir Moses-by-die-brandende-braambos gesê het wat Sy Naam is (Eks 3:14). Nou eien Jesus vir Homself dieselfde Naam toe. Daarmee sê Hy dat Hy God is. Dit is onmoontlik om ‘n Christen te wees as jy nie van harte glo dat Jesus God is nie. Dat Hy is wat Hy gesê het Hy is: lig vir die wêreld, die ewige lewe, brood vd lewe, water vd lewe, beloofde Gesalfde/Christus, verlosser, Seun v God, regter van alle mense, God self.

Ware, bybelse geloof, is om doelbewus jou vertroue vir hierdie lewe én die lewe hierná, oor te plaas en op Hóm neer te sit. Nét op Hom. Die mens wat nie so ver kom nie, leef in ongeloof en dit is die 3de waarborg dat so ‘n mens in sy/haar sondes sal sterf.

NOMMER VIER: WEES OPSETLIK ONKUNDIG: Verse 25-29 > “Hulle vra Hom toe: ‘Wie is jy’?

Vir hóé lank maak Jesus al aan hierdie mense bekend wíé Hy is. En nou vra hulle nog steeds: “Wie is u?” En agter die vraag, skuil hulle onkunde. Hulle wéét regtig steeds nie. Want hulle ongeloof het hulle verblind. Dit is nie onkunde wat tot ongeloof lei nie. Dit is ongeloof wat tot onkunde lei! Ongeloof verblind jou totaal. Dit was hierdie mense se posisie. Mens sou kon sê hulle was opsetlik onkundig, want hulle het met verloop van baie maande oorgenoeg openbaringskennis van Jesus ontvang om uit hulle onkunde verlos te kon word. Maar hulle wóú onkundig bly. Dus vra hulle: “Wie is U nou eintlik?”

Jesus antwoord: “Ek is presies wie ek sê ek is. Ek gaan nou ook nie verder met julle praat oor wie Ek is nie, maar ek het nog heelwat oor júlle te sê wat tot julle veroordeling/vonnisoplegging sal dien. As julle opsetlik onkundig bly, sal julle in julle sondes sterf. Dis gewaarborg. En dit is nie mý standpunt nie. Ek sê dit as my Vader se standpunt. Dit kom van Hom. En Hy is waarheid (v 26).

En hierdie veroordeling spreek Jesus, gedring deur goddelike liefde. Dit is liefde wat die waarheid praat om mense te red (Efes 4:17). Dis die absolute waarheid dat mense wat opsetlik onkundig is, in hulle sondes sal sterf. Om stil te bly sou liefdeloos wees. Maar Jesus sê dit omdat Hy oor Jerusalem geween het (Luk 19:41). Maar, hulle verstaan nie wat Hy sê nie (v 27).

Daarom sê die Here: “Nadat julle My verhoog het, sal julle verstaan wie ek is.” Bedoelende: Nadat ek deur júlle toedoen op die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het en die Heilige Gees uitgestort is, sal baie van julle se oë oopgaan. Sommige se oë sal betyds oopgaan – nog tydens hul aardse lewe. Ander se oë sal te laat oopgaan – eers nadat hulle gesterf het. Maar, oopgaan sal hulle oopgaan. Openbaring 1:7 ..hulle sal oor Hom treur… Filip 2: 10-11 .. Élke knie sal buig en élke tong erken…

Dit is die 4de gewaarborgde manier om in jou sondes te sterf: bly opsetlik onkundig – t.s.v ál die openbaringskennis wat jy oor jare heen van Hom ontvang het.

Op die oor af, klínk Jesus se woorde hard. Maar, dis die waarheid in liefde gesê. En ons moenie die erns van hierdie woorde geringskat nie. Hierdie 4 goed verblind hierdie mense só dat – selfs al kom ‘n klomp van hulle tot ‘n intellektuele “geloof” (v 30) (m.a.w ‘n verstandsaanvaarding dat Jesus is wat Hy sê Hy is) hulle net eenvoudig nie deurbreek in volle oorgawe nie (soos ons volgende week in die volgende paragraaf sal sien).

En nou, in 2012, veroorsaak eiegeregtigheid, wêreldsgesindheid, ongeloof en onkunde nog steeds dat 102 mense elke 60 sekondes in hulle sondes sterf.

Maar, is daar dan nie goeie nuus in hierdie paragraaf van Joh 8 nie? Ja, daar is. Daar is ‘n oop deur. Ons het dit reeds in vers 24 gesien. Die woordjie AS. “As julle nie glo nie…” M.a.w dit is nie nodig om níé te glo nie. Jy kan omdraai. Slaan net ag op wie ek is – dat ek is wat ek is – die onveranderlike.

Die goeie nuus en die goeie hoop is geleë in die Here se Naam: ek is wie ek is. As jy na Hóm kyk, sal jy vind dat Hy getrou bly aan Sy beloftes en jou hart verander. Hy bly getrou aan Homself. Hy is wat Hy is. Sy onwrikbare verbondstrou – wat Hy by ons doop eenmalig onherroeplik aan ons bevestig het én elke keer wanneer ons die nagmaal gebruik oor en oor en oor herbevestig – naamlik dat Hý eiehandig op die kruis met ons eiegeregtigheid, wêreldsheid, ongeloof en opsetlike onkunde klaargespeel het (sien Kolos 2: 13-15). Soos ons dít glo, raak ons vry.

‘n Mens wat hom/haar net verlaat op die groot EK IS, sal ontdek dat Hy dáár is en dat Hy nog nooit verander het nie. As Hy éénmaal Sy gawes aan jou gegee het en jou geroep het, trek Hý dit nooit weer terug nie (Rom 11:29).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00