Skrif: Johannes 6: 51-71

Ons is vir die afgelope klompie weke besig om in Johannes 6 te sien watter geweldige groot aanspraak die Here Jesus Christus aangaande Homself maak, naamlik dat Hy die brood vd Lewe is.

Soos wat ‘n mens se fisiese honger bevredig word deur aardse brood, so word jou diepste lewensbehoeftes bevredig deur Christus as Brood vd Lewe. Mits jy daadwerklik jou behoeftes besef & erken en jy doelgerig na Hom toe kóm, van Hom neem, Hom jou eie maak, Hom vertrou – dan ontmoet Hy werklik al jou verlange.

Verlang jy na vryspraak omdat jy jou diepe hemelhoë skuld besef? Wel, die Brood vd Lewe sal daardie behoefte bevredig. Verlang jy na egte vrede of verlang jy na sin & betekenis in die lewe? Of verlang jy na ewige blydskap of dalk na aanvaarding? Die Brood vd Lewe sal dit bevredig. Hy stil elke vorm van innerlike honger.

Wanneer Christus op hierdie manier in die krag van die Heilige Gees verkondig word, sal daar altyd sterk reaksies kom:

Jy sal mense kry wat dit met ‘n knippie sout neem en Hom & Sy woorde systap.

En jy sal mense kry wat beetgepak word met ‘n sterk besef van skuld & sonde & vrees – omdat hulle weet dat hulle uit pas is met die heilige God – en hulle dan in die Brood vd Lewe geweldige verligting en rus en vrede en sekerheid ontdek.

Toe die Here Jesus die eerste keer hierdie aanspraak (dat Hy die Brood vd Lewe is) laat hoor het, was daar presies dieselfde 2 reaksies:

Verlede keer het ons die reaksie van die Jode gesien: neem Hom met ‘n knippie sout, minag Hom.

Maar dan is daar ook die verdeelde reaksie van die dissipels/volgelinge (6 : 52-71). Bedoelende nie net die Twaalf nie, maar ‘n baie groter groep volgelinge. Dit is mense wat wel op die een of ander manier aangegryp was deur Jesus se onderrig en Hom gevolg het. Hulle het tot ‘n soort beslissing gekom. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle Hom volg.

En wat is húlle reaksie op Jesus se aanspraak dat hy die Brood vd Lewe is? Die oorgrote meerderheid bedank uit die gemeente. Hulle vat die pad. En slegs ‘n piepklein groepie sê in vers 68: “Here, na Wié toe sal ons gaan? Ú het die woorde vd ewige lewe.” Sien u? Die Jode murmureer en draai weg. Daarby draai die grootste % van dissipels weg. Dit is die een reaksie. Byna die hele gemeente is weg. Daarteenoor is daar ‘n piepklein oorblyfsel wie se oë oopgegaan het en wat waarlik geëet het van die Brood. Slegs hulle het regtig die briljante Goeie Nuus raakgehoor en nie aanstoot geneem nie.

Meeste van die mense het aanstoot geneem omdat Jesus gesê het: “julle moet my vlees eet en my bloed drink om die Lewe te kan hê.” Hulle het waarskynlik gedink Hy is ‘n kannibaal. Maar Hy het dit natuurlik nie letterlik bedoel nie. Hy gebruik beeldende taal. Net soos ons vandag nog sê: “ou Japie eet, drink en slaap musiek…” Dit beteken nie Japie het ‘n stuk bladmusiek in sy bord en wurg dit af nie! Dit beteken nie musieknote kom by sy neus uit wanneer hy slaap nie! Dit beteken musiek is vir hom baie belangrik.

Dus wat bedoel Jesus as Hy sê: “As julle nie die vlees van die Seun vd mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat My vlees eet en My bloed drink, hét die ewige lewe. Want My vlees is waarlik spys en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in my en ek in hom”?

Beslis van die moeilikste woorde wat Jesus ooit uitgespreek het. Maar tog ook so kinderlik eenvoudig. Sy vlees & bloed verwys natuurlik vooruit na Sy letterlike kruisoffer en Sy letterlike liggaam en bloed wat geoffer is in ons plek. Dis vir God die Vader so goed asof ons self geoffer is en self vir ons sondes betaal het. Want ons Plaasvervanger se offer tel vir ons/ in ons plek.

En op watter manier EET ons Sy liggaam en DRINK ons Sy bloed? Ons doen dit deur heeltemal te vertrou op Sý geofferde liggaam, dat dít (en dit alleen) ons verlossing is. Ons eien dit vir ons toe. Soos iemand wat leer swem eers sover moet kom om sy voete van die bodem op te tel en homself aan die water oor te gee – die sekuriteit vd vaste grond prys te gee. Van nature vertrou ons op onsself, maar nou op Hóm alleen. Dis die Persoon – Jesus Christus. Jy kom na Hom as ‘n Persoon en werp jou op Hom. Só eet jy Sy liggaam en drink jy Sy bloed. En so kom Sy lewe tot binne-in jou, want die Heilige Gees maak woning in jou lewe. U sien: dit is wáre voedsel en wáre drank, want dit gee ‘n tipe lewe wat gewone kos en drank nie kan gee nie.

Ons moet baie mooi hierna kyk. Kos en drinkgoed word deel van ‘n mens se sisteem en dit gee lewe en krag. Dit is wat die Here Jesus doen. As ek op Sy liggaam en bloed vertrou vir my saligheid, is ek deel van Hom en Sy lewe kom in my. Sy lewe tel vir my as mý lewe. Daar is ‘n eenheid wat my deelmaak van Sy lewe en Hom deelmaak van my lewe. Wonderbaarlik.

Wat Syne is, is myne. En wat myne is, is Syne. My sonde en korrupsie is Syne en Sy vryspraak en vergifnis is myne. Só word my sonde, Sy sonde, en Sy vryspraak word my vryspraak. ‘n Omruiling vind plaas. My ou lewe word Syne en Sy nuwe lewe word myne. Dit wat myne is, is Syne en wat Syne is, is myne.

My boosheid/vuilgedagtes/kwaad/angs/verlatenheid/skuldgevoelens/haat/toorn/wroeging/moedeloosheid is 100% Christus s’n. En Sy genade/liefde/suiwerheid/reinheid/skoonheid/goedheid/seën/onskuld/gehoorsaamheid is 100% myne. Hy kry die behandeling wat ek verdien en ek kry die behandeling wat Hy verdien. En só is ek voor God volkome reg en goed. So is ek vir God geheel aanvaarbaar. Hy kyk na my en sien dat alles omgeruil is. Alles in my wat gestraf moet word, is op Jesus en is in Sy kruisdood gestraf. Alles wat Hy is, is nou op my. Dit is die diepste hartklop van ons verlossing. En dit is hoe die Brood vd Lewe werk.

Dit is iets om oor opgewonde te raak, nie waar nie?

Maar moenie dink dat die meerderheid kerkgangers hieroor opgewonde raak nie. Joh 6:66 sê die meeste het weggeloop. Hulle het erg aanstoot geneem. Hulle sê: “Sjoe, nee hierdie prediking is darem hard. Dis onmoontlik om daarna te luister.”

U sien hulle het nie verstaan wat Jesus bedoel nie. Hulle dink Hy bedoel hulle moet Hom letterlik eet.

Hulle hou ook niks van Jesus se eksklusiwiteit nie. Eksklusiwiteit beteken: uitsluitend / sluit ander uit. NET Hý is die Brood vd lewe. NET díégene wat Hom eet, het die ewige lewe. Niemand anders nie. As jy van ander brode eet, sal jy sterf. Jesus is die énigste pad. Almal wat nie van Hóm eet nie, is verlore.

Net soos vandag, het hierdie woorde die mense erg aanstoot gegee (v 61). Die feit dat Hy alle ander opsies uitsluit, alle ander verlossers uitsluit, alle ander maniere om die ewige lewe te kry uitsluit. Tot vandag toe, gee dit aanstoot. Mense sê: “As dít die Christelike Geloof is, wil ek niks daarmee te doen hê nie. Gee my liewer predikers wat sê dat Christus almal omhels en dat die Boeddis ook in die koninkryk is!” Ja, mense gaan graag luister na predikers wat sê wat hulle graag wil hoor (2 Tim 4:3).

Die Here Jesus lees egter hulle gedagtes en sê: “Wat gaan julle maak wanneer die hemelvaart plaasvind en julle My sien opvaar? (v 62). Dis maklik om julle hier in die Sinagoge op te ruk vir wat ek sê, maar binnekort gaan julle My sien opvaar en besef dat elke woord die waarheid was. Besef julle nie dat die woorde wat ek met julle praat Gees en lewe is nie? (v 63). Die woorde wat ek praat, word deur die Heilige Gees vergesel en dit gee lewe. Dis nie sommer net woorde nie. En tog is daar van julle wat nie tot lewe kom nie. Soos Judas byvoorbeeld. Dis hoekom ek gesê het: Niemand kán na My toe kom as die Vader hom/haar dit nie géé nie. Niemand, niemand is enigsins in staat om in my rigting te roer as die Vader hom/haar nie kies en trek nie.” (v 65).

Dis toe, op daardie punt, wat die meerderheid volgelinge die pad vat. Bedank die kerk en loop. Daardie laaste woorde oor die uitverkiesing & die magteloosheid vd mens om te kan kies, was vir hulle net eens te veel. Niemand kan na sulke prediking luister nie. Dat “koning mens” in sonde dood is en nie self kan kies om na Jesus te kom nie – tensy die Vader dit gee – en dat Hy gee wie Hý wil, dat Hy volkome soewerein is…. NEE DANKIE. Dis eens te erg. Ons loop uit hierdie gemeente weg.

Die feit dat hierdie mense gefaal het om ‘n ongemaklike waarheid te glo, was die klinkklare bewys dat daar geen werk van God in hulle harte plaasgevind het nie. Hulle hoor dat die Here sekere dinge sê, maar hulle verwerp dit, omdat dit met hulle rede & logika bots. Wel, dis ‘n bewys dat hulle harte nie omgekeer is nie. Want die bewys dát ‘n mens se hart innerlik verander is deur die Gees, is die feit dat jy – op gesag van Christus alleen – gló. Die verskil tussen ‘n egte gelowige en ‘n onegte/vervalsde gelowige is – die onegte gelowige glo net wat hom/haar pas. Maar die veranderde hart, kleef aan die Here Jesus deur dik en dun. En gewoonlik is dit die minderheid. Soos dit die geval was in Johannes 6.

Kyk na Petrus. Presies dieselfde waarhede wat die meerderheid van Jesus vervreem het, trek vir Petrus nader na Hom toe. Dit lyk nie of Jesus eintlik diep ontsteld is daaroor dat Sy kerk skielik leeg is nie. Tewens, Hy vra vir die Twaalf: “Wil julle nie ook gaan nie? Wat soek julle nog hier?” (v 67). Maar Petrus sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde vd ewige lewe.” U sien? ‘n Ware Christen sal Hom nooit verlaat nie. Petrus se hart is deur die Gees verlig. Die Here se Woorde ís Gees & lewe en dit het lewe in Petrus geskep. Die Vader het vir Petrus aan Jesus gegee. Daarom weet hy dat daar GEEN opsies buite Jesus is nie. Geen alternatiewe. Sy oë het oopgegaan.

En tog: selfs binne die klein kring van twaalf, was daar nog steeds ‘n Judas. Selfs binne die klein groepie wat volhard het om Jesus te volg, is daar steeds iemand wat Hom uiteindelik in die steek sal laat – wie se hart nie verander het nie. Heimelik het Judas ook – naas Jesus – geld liefgehad. En uiteindelik het dit sy tol ge-eis.

‘n Mens kan nie eintlik help om te wonder of die Here Jesus se bediening nie ‘n mislukking was nie. Van 1000e tot 12 en later 11. Hoofstuk 6 begin met omtrent 10000 opgewonde mense wat uit Jesus se hand eet. En dit eindig met 12 van wie later net 11 sou oorbly. Wen die duiwel? Dit lyk regtig of weerstand en ongeloof wen, nie waar nie. Dit lyk of Jesus aan die kortste end trek.

Net soos wat dit baie keer in ons lewens lyk of Jesus nie wen nie, en jy as Christen nie in die wenspan is nie en die vyand triomfeer. Dis sulke tyd wat ‘n mens ‘n baie duidelike & sterk visie moet hê van God se soewereiniteit en hoe God se soewereiniteit heers en baasspeel oor al hierdie oënskynlike mislukkings. Soewereiniteit = om hoogste gesag te hê / maak wat Hy wil.

God se soewereiniteit seëvier oor die duiwel en ongeloof en weerstandigheid teen Christus. Dis maklik om dit te sê, maar baie moeilik om te glo wanneer alles rondom jou donker is en die evangelieboodskap lyk soos ‘n pure mislukking.

Kyk weer mooi na Johannes 6: Alles draai teen Christus. Uit duisende bly net 12 oor – en een van hulle is ook nog ‘n duiwel (v 70). Dis net ongeloof en weerstand waar jy kyk. Maar kyk mooi: Die duiwel wen nie. Die Here God lei die duiwel aan sy neus rond. Die Here het die duiwel aan ‘n leiband en Hy gooi hom – in die persoon van Judas – in die middel van die dissipelkring neer waar hy sal doen wat God wil dat hy moet doen.

Ja, ‘n mens kán ‘n leeftyd spandeer om te worstel met al die vrae wat vers 70 oproep. “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel.” Hoe kon die Here Jesus ‘n man kies wat Hy geweet het Hom sal verraai? As die Here dit vooruit geweet het, dan was Judas mos ‘n marionet wat net doen wat God wil – en hoe kan God wil dat Judas die duiwel se werk doen? En wat van Judas se eie verantwoordelikheid en sy eie keuse?

En so kan jy probleme op probleme in vers 70 sien.

Óf jy kan iets anders in vers 70 sien. Dat Jesus sê: “Ja, daar is ‘n duiwel in julle midde. Maar ék is in beheer, nie hy nie.” Só gesien, is dit ‘n toevlug/oase vir ‘n mens se siel, wanneer dit lyk & voel asof God jou gefaal het. Die soewereiniteit vd Here is ‘n toevlug/ heiligdom vir jou siel wanneer dit voel of daar vloedgolwe oor jou rol. Ons kan maar deur die hele hoofstuk 6 gaan en oral sien ons dat die soewereiniteit van die Here heers. Die duiwel heers nie. Die mens heers nie. Omstandighede heers nie. Die opinie van die massas heers nie. Siekte heers nie. God-drieënig heers.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00