Skrif: Johannes 2:23 – 3:21

Joh 1:12 het ons so mooi verseker: “Aan álmal wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders v God te wees.” Wat ‘n versekering! Maar nou is dit asof 2:23-25 alles lelik deurmekaarkrap, want v 23 sê baie mense het tot geloof gekom (klink soos herlewing), maar volgens vers 24 het Jesus Hom nie aan hulle toevertrou nie. Vervalste geloof dus.

Nou hoe moet ‘n mens dit verstaan? Hoe moet ‘n mens weet wanneer jy nou uiteindelik só glo dat Jesus Hom aan jou toevertrou? Dit klink of alle sekerheid nou weer daarmee heen is. Kan dit nie byvoorbeeld wees dat ‘n mens die blye versekering het dat jy glo, maar al die tyd misgis jy jou, want jy is nie regtig gered nie, Jesus gee Homself nie aan jou nie!

Jesus ken immers die mens se hart (v25). Hy weet wat binne in jou aangaan. Hy weet wat binne die mens is. Daar is absoluut niks in u & my binneste wat ‘n geheim is nie, al hou ons dit geheim. Hy het dus die perfekte oplossing vir ons diepste lewenstryd. Hoe bemoedigend. Hy het Sy kind lief al weet Hy absoluut álles van hom/haar. Ja, dis wonderlik, maar dit beteken óók dat Hy vervalste geloof identifiseer wanneer dit teenwoordig is. Hoe moet ‘n mens dit alles verstaan? Klink maar lekker deurmekaar.

Wel, dit is baie duidelik dát daar definitief iets soos ware en valse geloof is. Vv 23-25 is daaroor baie duidelik. Daar ís mense wat mislei word, wat dink dat hulle glo terwyl hulle steeds verlore is. Hulle dink dat hulle vrolik hemel toe huppel, terwyl hulle hulle oë in die verderf sal oopmaak. Volgens v 23 is dit sommer ‘n groot getal. Dit beteken dat dit ‘n baie ernstige saak is en dat ons beslis moet uitvind wat die verskil tussen ware en valse geloof is. Dis ‘n saak van lewe en dood om dit te weet. Aan wátter tipe geloof vertrou die Here Jesus Christus Homself nie toe nie? Wánneer is dit vervals? Ten alle koste wil ek dit níé hê nie.

Die antwoord is drieledig: Eerstens: Valse geloof soek na wondertekens & ervarings en vertrou dáárop. Vers 23 gee die leidraad: “baie mense het tot geloof in Hom gekom (klink wonderlik) toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen (daar val die hele koek in die as).” Dit is vandag nog so. Mense sê: “Ek móét ‘n kind vd Here wees, ek is byna seker dat ek ‘n kind vd Here is want…. Hy het my gesond gemaak…. Hy het my gebede wonderbaarlik verhoor …… Hy het my regtig gehelp toe ek Hom aangeroep het…. ek kan in vreemde tale praat ….. ek kan voel dat Hy by my is…… waar sou ek vandag gewees het as Hy my nie gedra het nie …. ek het ‘n wonderlike geestelike ervaring gehad….. ek het ‘n droom gedroom … toe ek in ‘n diep gat was, het ek geroep en Hy het my verhoor en gehelp – hóé kan ek dan nie ‘n kind vd Here wees nie..?” U sien? Mense bou op die valse fondament van wondertekens & ervarings en dink dat hulle op grond dáárvan wedergebore kinders vd Here is. Dis die eerste kenmerk van vervalste geloof.

Maar daar is ook ‘n tweede kenmerk van valse geloof: Ons sien dit by Nikodemus. Onthou: ons moet die einde van hfst 2 en die begin van hfst 3 as ‘n eenheid lees. In die oorspronklike manuskrip was daar nie verse en hoofstukke nie. Dit was een geheel. Dus: Nikodemus is een voorbeeld van die skare mense van 2:23 wat geglo het, maar aan wie die Here Jesus Hom nie toevertrou het nie.

En hoor nou wat sê Nikodemus vir Jesus (en daaruit sien ons die tweede kenmerk van valse geloof): “Ons weet dat U ‘n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat U doen as God nie by hom is nie.” Wat ‘n wonderlike geloofsbelydenis! Wat ‘n wonderlike hoë beskouing van wie Jesus is. En dis alles die pure waarheid! Baie Jode het presies so geglo. Vandag se Moslems glo dit ook. 1) Hy is van God. 2) God is by hom. 3) Die tekens wat Hy verrig is tekens van God se krag wat deur Hom werk. Wonderlik. Alles ongetwyfeld die waarheid.

Maar dit is juis die tweede kenmerk van vervalste geloof! Want Nikodemus is nie weergebore nie! Hy glo net met ‘n verstandsaanvaarding al hierdie wonderlike goed van Jesus – en alles is die waarheid. Maar Jesus sê vir hom: “As jy nie weergebore word nie, kan jy nie die koninkryk sien nie.” (3:3). Hoe kan dit wees? Wel, vervalste geloof is (dit is die tweede kenmerk) om slegs net ‘n klomp waarhede oor die Here Jesus, God, Bybel met ‘n kopkennisgeloof te glo – dit vir die wáárheid te aanvaar.

Daar is egter ook nog ‘n derde kenmerk van vervalste geloof. Ons sien dit in Jesus se woorde in 3:19-21. ‘n Mens wat met vals geloof sit, lýk asof hy/sy die lig (Christus/Woord/Waarheid) liefhet, maar in werklikheid haat hy die lig en wil nie in die lig kom nie, omdat die lig openbaar wie/wat hy werklik is. Die lig maak dinge oop wat vervalste geloof & die menslike natuur liefs wil toe hou. Die vervalste geloof is soos ‘n kakkerlak – hy vlug weg van lig na die donder plekkies. Wanneer daar ookal ‘n kansie opduik om weg te bly, skram die vervalste geloof weg van plekke waar Woordverkondiging plaasvind. Die vervalste geloof is nie fluks om indringende Bybelstudie te doen nie, is nie fluks vir behoorlike gebed nie, verslind nie geestelike boeke nie, lees eerder ‘n storieboek, kies die nie-geestelike, het stilstuipe wanneer ‘n geselskap skielik in die rigting van die Here Jesus en Sy redding en Sy Woord draai ens, ens. Die onwedergebore hart hou nie van die lig nie, want die lig bring na vore wie/wat hy/sy in werklikheid is. Dit is die derde kenmerk van vervalste geloof.

Die mensmet wie die Here egter regtig ontmoet het, soek die lig doelbewus op. So ‘n mens wil graag hê dat die lig alles moet openbaar. So ‘n mens het die lig met ‘n passie lief.

U sien, die lig wat Jesus Christus gebring het, maak ‘n skerp skeiding tussen mense. Geen mens is geestelik neutraal nie. Geen mens is van nature geestelik neutraal nie. Jou geloof is óf vervals óf dit is eg. Jy is óf gered óf verlore op pad verderf toe. Jy is óf lief vir die lig óf jy haat dit. Geen neutrale grys area is moontlik nie.

Dit is nie waar dat ‘n mens uit moederskoot geestelik neutraal gebore word en dat jy dan – later in jou lewe – vir of teen Jesus kies nie. Óf PRO óf ANTI. O nee. Vers 18 sê dit skerp en duidelik: die mens is van nature alreeds veroordeel! Alle mense staan veroordeeld vanaf konsepsie in moederskoot. Sien ook 3:36. Geen neutraliteit nie.

Jesus het nie in die wêreld gekom sodat die mensdom – wat almal neutraal teenoor Hom staan – kan besluit watter kant toe hulle wil gaan nie! Nee! Die ganse mensdom, élke individu gebore uit ‘n vrou – is van die begin af veroordeel en onder Gods straf. Dit is a.g.v. die innerlike teenwoordigheid van ‘n gevalle sondige natuur binne elke mens, wat bots met ‘n heilige God (Efes 2:3).

Die mees logiese is dat die Heilige die veroordeelde mensdom in hul vervalste geloof en afversie van die Lig, moes laat begaan het op hul selfgekose verlore pad. Maar die weergalose wonder van alle wonders is dat Hy hierdie mens passievol liefhet. En dat Hy Sy eie Seun van Sy hart afgeskeur het en Hom aarde toe gestuur het om die veroordeeldes vry te spreek deur Sy offerdood, ja die bloed van die kruis. God het nie Sy Seun gestuur om die mens te veroordeel nie. Die mens is alreeds veroordeel! Die Seun is gestuur om die mens in sy hellevaart te stuit! Om die mens om te draai van ‘n veroordeelde na ‘n vrygespreekte. Om vervalste geloof om te draai na die egte. Om te red wat verlore was.

En dis wanneer híérdie boodskap helder en duidelik verkondig word en dis wanneer hierdie boodskap op die duisternis van mense se harte val, wat daar ‘n groot skeiding tussen mense kom. Hulle word verdeel in slegs twee groepe. Niemand is neutraal nie. Sommige val terug in vervalste geloof en vermy die lig. Ander word blank eerlik en gebroke voor God, erken hul verlorenheid en werp hulle totaal op die Verlosser. Ja, hulle begin om te gló en kry die lig lief en wil graag in die lig leef.

Om saam te vat: Vervalste geloof het 3 kenmerke: 1) Dit verlang na tekens en bou op die valse fondament van tekens en ervarings, 2) Dit is ‘n kopkennisaanvaarding van al die waarhede oor God/Christus/Bybel en 3) Dit haat en vermy die lig.

Hierteenoor is ware geloof ‘n hartlike vertroue op Jesus Christus as enigste Verlosser en Saligmaker, wat ‘n baie duidelike sigbare uitwerking op jou hele lewe het – jy is oorgebore. Die ware geloof kom voort vanuit die gebroke erkentenis van verlorenheid, skuld en sonde. En die erkentenis kom voort uit die heerlike innerlike werking van die Heilige Gees van verandering. Dit lei tot vertroue op Jesus alleen as Verlosser.

In die OT het daar iets gebeur wat so pragtig illustreer wat ware geloof is en dan sien ‘n mens sommer duidelik hoe dit van vervalste geloof verskil. Ons lees dit in Numeri 21 waar die Here se volk besig was op hul woestyntog vanaf Egipte na die land Kanaän en bitterlik gemurmureer het en teen die Here God opstandig was. Die Here stuur toe giftige slange om hulle te pik sodat hulle kon sterf. Hulle roep egter tot die Here en in Sy jammerhartigheid beveel Hy vir Moses om ‘n koperslang te maak en dit op ‘n paal te monteer en dit hoog in die lug op te tel sodat élkeen wat daarna kyk, oombliklike genesing sou ontvang.

Ons kan die prentjie in ons geestesoog sien: massas mense lê sterwende op die grond vanweë God se oordeel oor hulle sondeskuld. Sonder dat hulle dit verdien, voorsien God egter redding in die koperslang. Deur Moses gee God vir hulle ‘n duidelike toesegging/belofte: Kyk en leef. Enige mens se logika weet dat die blote KYK na ‘n koperslang jou nie van slanggif in jou bloedstroom kan bevry nie. Dit klink belaglik. Maar, omdat Gód dit sê, was daar duisende wat hulle kop optel en KYK!! ‘n Daad van vertroue in God se belofte. En, oombliklik ontvang hulle genesing. Die ander sterf.

Netso het God vir Jesus Christus op die kruis opgelig met die belofte/toesegging aan elke sondaar wat sterwende is onder die oordeel van God oor sonde: “Só het ek jou gered. In hierdie Man het ek jou saak met my reggemaak. Jou skuld is versoen. Kyk en leef!”

Dit is met hierdie OT gebeurtenis van die koperslang wat Jesus in Johannes 3 die blye evangelie aan Nikodemus verkondig. Hy was ‘n bekende dominee wat onwetende in vervalste geloof vasgevang was en niks van die wonder van wedergeboorte verstaan het nie. Daaroor is Jesus baie verbaas (v 10) – dat ‘n léraar niks van wedergeboorte verstaan nie, want die OT is tog daarvan vol.

Jesus praat dan met Nikodemus oor die noodsaak van wedergeboorte en – kyk mooi – Hy TROOS vir Nikodemus daarmee. Hy verkondig aan hom goeie nuus wat opgewonde maak en die bloedsomloop vinniger maak. Hy bring aan Nikodemus die troosvolle belofte dat dit wat menslik onmoontlik is, nou 100% moontlik is omdat Gód self dit doen. Wát is menslik onmoontlik? Dit is onmoontlik vir ’n mens om jouself geestelik “oorgebore” te laat word. Maar juis dit beloof God dat Hý dit eiehandig doen & sal doen. Is dit nie iets om oor bly te raak nie??

Hóé doen die Gees dit? Hoe laat Hy jou oorgebore word? Wat is ware geloof teenoor vervalste geloof? Die Gees laat jou vasklem aan die gekruisigde & opgestane CHRISTUS. Jesus sê dit presies só. Toe Nikodemus vir Jesus vra: “Maar hóé moet ek – ’n volwasse man – wéér gebore word? Ek kan tog nie weer uit die skoot van my moeder gaan nie.” Toe antwoord Jesus hom met die einste Numeri 21: “Hoe het die sterwende Jode in die woestyn weer lewend geword? Hoe is hulle oorgemaak? Antwoord: Hulle het net Moses se woorde geglo toe hy vir hulle gesê het hulle moet na die koperslang kyk. Presies só word EK – Jesus Christus – van die aarde af verhoog deur aan die kruis te sterf en op te staan uit die dood. Dáármee maak die Gees jou lewendig, Nikodemus – Hy maak jou lewendig met MY wat verhoog is. Aanvaar wat Ek vir jou sê. Kom, kleef MY aan deur My woorde te omhels en te aanvaar. Dit is hoe die Gees jou laat nuutword. Dit is nie JY wat dit doen nie, dit is HY wat dit doen.”

Gemeente, hóór u hoe troos die Heiland vir Nikodemus met die wedergeboorte. Hy dreig hom nie met ’n klomp vereistes waaraan hy moet voldoen om in die hemel te kom nie. Nee, hy vee Nikodemus se trane af met die sakdoek van Sy woorde. Sodat Nikodemus se hart kan oopgaan en hy JESUS kan omhels met al Sý verdienste. Hoe onbeskryflik wonderlik is dit nie!

Dalk is ú ook iemand wat worstel en vra: Here, waaraan sal ek tog kan wéét dat dit alles ook vir mý bedoel is? Waaraan sal ek tog die werking van die Heilige Gees in my lewe kan herken? Onthou dan Jesus se woorde: Die Gees werk soos die waai vd wind. En, dink net ’n bietjie hoe wind waai. Soms sien jy net die ritseling van die blare van die bome. Soms voel jy hoe die dak bewe van die rukwind. Soms voel jy net ’n ligte koeligheid deur jou natgeswete hemp. Die wind skroei, huil, verkoel, laaf, vertroos, maak skoon. Soms is die wind ’n troos wanneer jy voel jy vergaan van die hitte en die stof. En jy weet: Die wind is ’n aanduiding dat daar magte & kragte buite jou is wat met jou werk, maar wat jy nie kan beheer nie. Jesus sê: Só is die Gees besig – in jou en met jou. Dit is die merkteken van die wedergeboorte. Die Gees wat soos die wind werk.

Soms ruk en pluk Hy jou rond soos in ’n storm voordat die groot reën kom. Soms hoor jy die gehuil oor jou dade en jou dinge. Soms ritsel die Gees deur jou gemoed wanneer jy skielik bewus word van ’n iets wat jy voorheen nooit gesnap het nie. Soms word jy geskroei asof ’n warm woestynwind jou tref. Soms hoor jy ’n stem wat in sagte stiltes en koeltes praat.

Jesus sê: Só gaan dit met die mens wat uit die Gees gebore is. Dit is die troos wanneer dit vir jou voel of jy vergaan onder die hitte en stof van die lewe.

En dit is hiervan wat die Gees aan ons absolute sekerheid kom gee deur die wonder van die Nagmaal wat ons volgende week vier. Want, wat gebeur in die Nagmaal? Die Here kom bevestig met die Nagmaal aan mý persoonlik dat Hy mý nuut & vry gemaak het toe Hy verhoog is op die kruis EN dat Sy Gees ook aan mý beloof is. Die brood & wyn is Sy persoonlike handtekening onder Sy beloftewoord. Dit is ’n waarborg. Dit is bedoel om jou sekerheid te gee. Soos wat jy ’n posseël op ’n brief plak. Die papiertjie waaruit die seël gemaak is, is bloedweinig werd, maar dit sê so baie – dit sê vir die poskantoormense: Daar is regtig ten volle vir hierdie brief betaal – stuur dit maar na sy bestemming. Net so beteken die stukkie nagmaalsbrood en slukkie nagmaalswyn bloedweinig (proe dit skaars) – maar dit sê so baie – dit waarborg iets wat Gód sê. Wat sê Hy?

Net so seker as wat hierdie broodjie voor jou oë gebreek word en jy dit met jou mond eet en insluk, net so seker is Jesus se liggaam vir jou gebreek en het Hy jou met Sy gebreekte liggaam volkome gered en verlos en bevry en gereinig en wederbaar en nuutgemaak. Jy mag dit glo. Jy moet dit glo. En daarna sal jou lewe nie weer dieselfde wees nie.

Sal die poskantoormense die posseël wat op die brief geplak is, betwyfel? Waarom sal ons dan Gód se seël betwyfel. Dit is werd om ten volle aangeneem te word. Daaroor DV volgende Sondag meer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00