Skrif: Johannes 2: 1-12

In ‘n sekere sin verklaar 1:14 (in die eerste boodskap behandel) die hele Johannes-evangelie: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. En ons het Sy heerlikheid gesien, vol van genade & waarheid”. In alles wat Johannes verder skryf, wil hy vir ons die Here Jesus se heerlikheid (wat ten diepste Sy ewige Godheid en majesteit is!) laat sien. Veral ook deur die tekens wat Hy gedoen het, het Jesus ons laat sien wie/wat Gód regtig is! Dis Sy heerlikheid. En deur dít te sien, ontvang ons genade & waarheid. Dit is waaroor alles gaan.

Neem nou byvoorbeeld 2: 1-12. Kyk na vers 11: “Die eerste wonderteken wat Jesus gedoen het (water tot wyn) het Hy in Kana gedoen. Hy het daardeur Sy heerlikheid laat blyk. En die gevolg? Sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.” Die sien van Sy heerlikheid, skep geloof/vertroue/bekering.

By die lees van Joh 2: 1-12 en die luister na die prediking, behoort ons te bid: “Here Jesus, wys vir my U grootheid, U heerlikheid, U majesteit en laat dit ‘n vaste geloofsvertroue in my hart skep. Laat dit my vir ewig verander.”

Dit is belangrik om raak te sien dat – wat in Joh 2: 1-12 beskryf word – die EERSTE teken is wat ons Here Jesus gedoen het. Die wonderteken van verandering. Water tot wyn. Want dit is die eerste wonderteken wat Hy ook in ons lewens doen ten einde ons oor te bring van die staat van nie-Christen tot Christen, naamlik die wonder van verandering. Heel eerste, nog voordat ons Hom wil begin volg, verander Hy ons innerlik. Dis ‘n magtige wonderwerk, wat God alleen kan doen. Nie water tot wyn (dis ‘n kleinigheid), maar verlore sondaar tot ‘n nuwe skepsel.

Dit is hoe dit alles gebeur het:

Drie dae nadat Natanael by die Here Jesus uitgekom het (vorige boodskap) was daar ‘n bruilof in Kana. Kana was omtrent 30km vanwaar Johannes die Doper besig was om te preek. Dit het hulle 2 dae geneem om die 30km na Kana te reis. Baie naby aan Kana (omtrent 11 km) was Nasaret waar die Here Jesus vir 30jr gewoon het. Daarom is dit nie vreemd dat Jesus se ma, Maria, by die bruilof was nie. Sy was waarskynlik ‘n goeie kennis van die betrokke families. Dit lyk ook asof sy ‘n soort assistent vir die gasheer was. Josef was toe reeds oorlede.

Een ding, wat ons goed moet verstaan, is dat ‘n bruilofsfees in die destydse Palestina, ‘n groot okkasie was. Daar was eers ‘n fees gehou, wat gewoonlik op ‘n Woensdag begin het en tussen 2 en 7 dae kon duur. Ná die fees was daar ‘n plegtige seremonie waar die huwelik voltrek is. Eers daarná het die bruidspaar fisies/liggaamlik saamgekom. Iets soos saamwonery vóórdat hierdie seremonie plaasgevind het, was ongekend & ongehoord. Tewens, dit was ‘n baie ernstige saak vir die Here se volk. Dit is terloops die rede waarom Josef stilletjies van Maria wou skei toe hy verneem dat sy swanger is (Mat 1:9), want hulle was nog net verloof en die skande van só iets was geweldig. Dit was ‘n groot skande vir ‘n man & vrou om liggaamlik saam te kom, voordat die huwelikseremonie voltrek was. Dink aan al die lyding wat Jesus as kind moes verduur, omdat almal geweet het “watse tipe kind” Hy was. Die spot en hoon en veragting moes geweldig gewees het. Dit net tussen hakies.

In ieder geval, in Kana was daar so ‘n bruilofsfees. Jesus en Sy dissipels was ook genooi. Die vraag is hoe die dissipels genooi kon wees indien hulle net 3 dae tevore dissipels geword het? Heel waarskynlik is hulle saamgenooi tydens hulle reis na Kana, toe hulle eers by Nasaret aangedoen het, waar Jesus se ouerhuis was. Toe Jesus by Nasaret kom, en sy volgelinge is saam met Hom, is hulle waarskynlik saam genooi. Omdat die Bybel nie sê nie, weet ons nie. Maar dit is die mees logiese verklaring.

Wat egter baie belangrik is, is dat die Here Jesus se teenwoordigheid en die wonderteken wat Hy doen, die huwelikseremonie as sulks “red”, want die seremonie sou eers ná die fees plaasvind. En daardeur heilig Jesus die huwelik en die seremonie as sulks! En dit sê ‘n mondvol, ook vir ons in 2012. Die huwelik is ‘n instelling van God self en is ‘n geheiligde eenheid tussen een man en een vrou. Die fees is seker nie so belangrik nie, maar die seremonie wél. Maar, deur die fees te laat slaag deur die wyn te maak, laat Jesus die seremonie plaasvind! En sodoende heilig Hy die seremonie! Tewens, as ons na Openb 19 kyk, sien ons dat, by die voleinding wanneer Christus en Sy bruid (sy verloste kerk) finaal bymekaar kom, daar ook ‘n bruilof plaasvind. Die bruilofsfees van die Lam!

Uit alle oorde hoor ‘n mens deesdae stemme wat sê: “Ag, wat is die huwelikseremonie tog? Wat is die ou papiertjie tog? Wat is die ou seremonietjie tog? As twee mense mekaar liefhet, laat hulle gaan saamleef! Hulle kan mos sommer op Blouberg se strand gaan saambid en trou aan mekaar sweer – sommer so privaat. Wat het dit met enigiemand te doen? U sien, mense wil goedkoop inklim sodat hulle netso goedkoop kan uitklim as die skoen te erg druk. Hulle wil nie in die publiek voor die Here trou sweer en in ‘n permanente wettige staat toetree nie. Mense dink prinsipieël aan hulleself, nie aan die hart van die Here God – wat die huwelik ontwerp en ingestel het nie! Hulle gee nie om of hulle verkeerde voorbeeld ‘n struikelblok vir baie ander mense is nie. Dwarsdeur OT en NT sien ons hoe belangrik die seremonie was. En hier heilig Jesus dit. Volgens 1 Tim 4:3 is dit die válse profete wat mense motiveer om nie te trou nie.

Nou, by híérdie fees was daar ‘n groot probleem. Verse 3-5. Die wyn was op! En die éíntlike seremonie moes nog plaasvind! In daardie tyd was wyn ‘n algemene tipe stapeldrank, want a.g.v. gebrekkige suiweringsmetodes was dit byna onmoontlik en selfs gevaarlik om slegs water te drink. Hierdie “wyn” was ook nie ongegiste druiwesap nie. Dit was gegiste alkoholiese drank, want die klimaat was baie warm & daar was nie yskaste & preserveermiddels nie. ‘n Mens hoor altyd mense wat sê dat dit ongegiste druiwesap moes wees, maar navorsing het genoegsaam aangetoon dat die mense van die Ou Nabye Ooste gegiste sap (wyn dus) van ‘n verskeidenheid van vrugtesoorte gedrink het, kwaai verdun met melk en water. Hulle het nie doelbewus verslawende alkoholiese wyn deur tientalle prosesse gemaak soos ons vandag nie. Die sappe het self gegis a.g.v gebrekkige verkoeling en preserveermiddels. Tog was dit al wat hulle gehad het om te drink. Dit was hulle water. Daarom was daar baie baie streng maatreëls, want mense het baie maklik (dikwels onbedoeld) onder die invloed van die alkohol gekom. In die tyd van Christus was hierdie tipe wyn verdun met tussen drie dele melk/water vir elke een deel wyn tot nege dele melk/water vir een deel wyn. As ‘n mens dit verstaan, verstaan jy die streng maatreëls wat beide OT en NT tref wat betref die drink van wyn. Die Skrif verbied nie die drink van wyn nie. Dit kón nie, want dit was die stapeldrank (die water) van die tyd. In verdunde vorm was dit die water/koeldrank van die tyd. Dit kón nie verbied word nie. Jesus het dit self gedrink (sien Mat 11:19). Daarom het Hy probleemloos wyn voorsien in Joh 2. Maar, aan die ander kant, is die Skrif baie uitgesproke daaroor dat geen volgeling van die Here ooit onder die invloed van alkohol mag kom (vgl Efes 5:18) nie en vind ons dus in die Skrif streng maatreëls vir die drink van hierdie tipe wyn. Die wyn kon nie verbied word nie, maar daar was besliste maatreëls.

U sien dus dat wat wyn in daardie tyd was en hoe dit toe gebruik was, totaal verskil van ons dag. Hulle móés dit drink – so erg verdun dat dit skadeloos was. Ons hoef dit egter glad nie te drink nie, want ons het talle ander dranke wat in beginsel skadeloos is. In ons dag is dit dus gewoon onnodig om wyn te drink. Gegiste drank funksioneer nie meer in ons dag soos in die Ou Nabye Ooste nie. Sou ons dit wel drink – want ons sou nie kon sê dat die Skrif dit verbied nie – geld daar egter presies dieselfde bybelse beginsels wat vir die mense van die ou tyd gegeld het, want a) dit word nie verdun nie, b) kan baie skade doen en c) kan ‘n groot struikelblok vir swakkere broers en susters wees.

Dit is belangrik om hierdie agtergrond te verstaan, want dit klaar baie misverstande op. En dit help ons om te verstaan dat Jesus nie moedswilliglik alkoholiese drank gemaak het wat mense skade kon aandoen nie, maar dat dit in elk geval hulle daaglikse stapeldrank was wat onder baie streng voorskrifte gebruik was. Teen hierdie agtergrond, het Hy die wyn gemaak deur ‘n absolute skeppingswonder te verrig.

Terug na ons Skrifgedeelte. Hier is nou iets eienaardig. Verse 3-4. Maria kom sê vir Jesus dat die wyn op is, maar Hy gee haar ‘n antwoord wat baie nors klink. Grieks: “Vrou, wat is daar vir u en vir my?” Dit beteken letterlik: “Dame/vrou (“madam”) (dieselfde woord wat Hy op die kruis gebruik het toe Hy gesê het: “Vrou daar is u seun” – Joh 19:26), wat het ons met mekaar in gemeen? Hierdie is ‘n saak vir mý, nie vir u nie.”

Waarom so ‘n eienaardige antwoord? Klink baie onhoflik! ‘n Mens moet egter iets verstaan. Jesus het tot op hierdie punt vir 30 jaar in Nasaret by Sy mense gewoon en geen openbare bediening verrig nie. Nou begin Sy openbare bediening en nou verander Sy verhouding met Sy familie, wég van “ma-seun” na Maria-wat-Hom-as-Verlosser-benodig! Maria het vir Jesus as Verlosser en Here oor haar lewe benodig, net soos al die ander. Hy is eerstens die Seun van God, nie Maria se kind nie! Hy is God! In hoe Hy praat, wil Jesus nie op die menslike verhouding tussen Hom en Maria (ma-seun) fokus nie, maar op die Goddelike (Hy is God en sy het Hom as Verlosser nodig). Want Sy openbare bediening het nou begin. Die Nasaret-lewe is verby.

Wat Hy in effek hier sê is: “Waarom is ú (nie “mamma” nie, want die verhouding het verander) besorgd oor hierdie krisis? Die oomblik wanneer die Vader vir my sê dit is tyd, dan gaan ek die wetmatighede van die skepping ombuig om in hierdie mense se behoefte te voorsien. Los dit vir my. Dis nie u & my saak nie. Dis nét myne.” Sien u? Nou was die vorige 30 jaar lange Nasaret-verhouding tussen ma en seun verby. Nou begin Jesus se openbare bediening as die Messias, die langverwagte Verlosser!

Het Maria verstaan wat Hy sê? Of het sy aanstoot geneem? Sy het presies verstaan, want wat sê sy vir die kelners? “Wat Hy ookal vir julle sê, doen dit.” Is dit nie wonderlik hoe Maria ‘n JA in Jesus se oënskynlike NEE lees nie?! Jesus sê Hy sal optree wanneer die tyd vd Vader daar is. Sy sê vir die kelners: “doen wat Hy sê.” Dit klink of Hy NEE sê, maar Maria lees ‘n JA in Sy woorde. Wanneer ons bid en die Here sê NEE, kan ons maar die latente JA soek. Iewers sal daar ‘n JA na vore kom. Maria het ‘n latente JA in Jesus se NEE gehoor.

En hoe wonderlik was die JA nie! Die Here Jesus se wondertekens was nooit op sensasie gemik nie. Dit was altyd in alle eenvoud en krag om in mensies se diepe behoeftes te voorsien. Hy sal selfs die wetmatighede van die skepping ombuig om dit te doen! Verse 6-10. Kyk watter gewéldige teken verrig die Heiland, maar kyk met watter eenvoud, sonder sensasie, sonder ‘n skare nuuskieriges. Byna 600 liter water word wyn net met die ingooi en die uitskep uit die kanne. Geen druiwe of vrugte word gebruik nie. Geen prosesse nie. Geen lang landbouprosesse nie. En dit smaak beter as enige ander. Ons het eenvoudig hier met die Skepper self te make. Hý wat uit absoluut NIKS, absoluut ALLES skep – en dit met super intelligente ontwerp!

Kan u begryp dat wanneer ‘n mens met die Here Jesus Christus te make het, jy met die meester-skepper van die heelal te make het! Hý is die Woord deur wie die Vader geskep het in Genesis 1! En hier skep Hy wyn uit niks. Hy elimineer eenvoudig alle landbou prosesse. Daar is nie eens druiwe naby die kanne nie. Baie mense sê deesdae: “God kon onmoontlik nie net in 6 dae geskep het nie. Die 6 dae is seker simbolies bedoel. Dis was seker 6000 jaar.” Kyk ons egter na Johannes 2, dan moet ons vra: “Waarom het Hy so lánk as 6 dae geneem? Was dit nie dalk 6 sekondes nie? Dit sou baie beter pas by Sy majesteit!” Wat daardie dag in Kana by die bruilof gebeur het, was die Genesis 1-skepping in die kleine! Sien u? Ons moet besef met wie ons te doen het. Toe die stormwind onmiddelik bedaar op Jesus se bevel, het Petrus en die ander op die bodem van die boot neergeval en gesê: “O wêreld, met wie’t ons in werklikheid te make?”

Maar u sien, hierdie wonderteken van verandering was die éérste teken, omdat dit die éérste wonder is wat die Here Jesus in ons lewens verrig. Verandering. Ook ‘n skeppingswonder. 2 Kor 5:21 > Wie in Christus is, is nuwe skepsels. Oorgeskep. Bonatuurlike verandering gekom. En die verandering word meegebring deur die reiniging met Sy bloed. Sy bloed is eintlik die wáre wyn/drank (Joh 6:55). Onthou: die kanne waaruit die wyn gekom het, was die kanne wat die Jode vir hulle rituele reiniging gebruik het. Met hierdie wonderteken vervang die Meester dus eintlik die OT reiniging met die wáre reiniging/ wáre wyn wat Sy eie bloed bewerk. Dit is waarop die wyn ten diepste dui (sien Joh 6:53).

Ten slotte wil ek u op die groot misterie in hierdie Skrifgedeelte wys. ‘n Mens moet mooi kyk om dit raak te sien. Eintlik is dit iets verskriklik. Niemand het geweet waar die wyn vandaan kom nie. Maar vers 9 sê die kelners wat dit geskep het, het geweet. En tog sê vers 12 dat, toe alles verby was en die Here Jesus vandaar na Kapernaum vertrek, het NIEMAND Hom gevolg nie. Slegs Sy dissipels wat Hy ‘n klompie dae tevore geroep het, Sy moeder Maria en Sy bloedbroers.

Die kelners het geweet wat gebeur het. Hulle het geweet Jesus het die teken verrig. Hulle het dit met hulle eie oë gesien. Maar niemand volg Hom nie. Is dit nie verbysterend nie? Hoe op aarde kon hulle Hom nie herken as die Messias nie? Dit is die misterie van alle eeue: hóé kan mense die Here Jesus Christus SIEN deur Skrifgetroue prediking…. en wegdraai van Hom af en maar net soos voorheen voortgaan?

Aan die ander kant sê vers 11 dat Jesus Sy heerlikheid laat blyk het deur hierdie wonderteken en dat daar by Sy handjievol dissipels geloof & vertroue ontspring het. U sien? Selfs wonderwerke bring mense nie by Christus indien hulle nie deur die Vader getrek word nie (Joh 6:44). Later sê Jesus dit vir hulle in soveel woorde in Joh 15:16.

Sommige bly onaangeraak – a.g.v hul eie skuld. Ander ondervind geloofsgroei – a.g.v vrye genade alleen. Terwyl almal presies dieselfde Godswonder aanskou!

Óns – wat in 2012 leef – sien dit alles deur die lens van die Skrif. Wie die heerlikheid van Christus sien in Sy skeppingskrag, kan met sekerheid wéét dat Hy wat water in wyn verander het, ook dood in lewe kan verander. En hartseer in vreugde. En pyn in vrede. En sonde in geregtigheid. En oordeel in vryspraak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00