TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 29 Skrif: Handelinge 25:13 – 26:32
Tema: Drie prentebeelde van die mensdom

Verlede Sondag het ons gesien dat Paulus – tydens sy verskyning voor die nuutaangestelde goewerneur Festus – hom op die Keiser beroep om sy saak finaal te besleg. Die Joodse godsdienstige leiers het Paulus van ‘n klomp dinge aangekla waarvan hulle niks kon bewys nie. Ten diepste kon hulle nie die verandering wat Jesus in Paulus se lewe bewerk het, kleinkry nie. Nou was Festus verplíg om vir Paulus na die Keiser in Rome te stuur.

Intussen daag Koning Herodes Agrippa 2 in Seserea op om vir Festus te verwelkom as nuwe goewerneur. Die Herodesse was Joodse konings wat ónder die Romeinse regering oor Palestina (die Jode) regeer het. Agrippa se groot-oupa was die Herodes wat die babatjies laat doodmaak het in die tyd van Jesus se geboorte. “Herodus” was die titel wat al daardie Joodse konings gedra het. Bernice was Agrippa se suster, maar hulle het in bloedskande as man & vrou saamgeleef. Festus was half bly dat Agrippa daar aankom, want hy wat Festus is, het nie kop of stert verstaan van die Jode se klagtes teen Paulus nie, omdat hy ‘n heiden was en niks verstaan het van die Joodse godsdiens nie. Agrippa het egter alles verstaan, want hy was ‘n Jood. Festus reken toe dat Agrippa hom kan help om ‘n sinvolle brief aan die Keiser te skryf om die Jode se klagtes te verduidelik. Dit is op dié manier wat Agrippa daartoe kom om sélf na Paulus te luister. Paulus verdedig nie regtig sy saak voor Agrippa nie, want hy het hom alreeds op die Keiser beroep. Agrippa was net nuuskierig om hom te hoor. Paulus gryp egter die geleentheid aan om die Goeie Nuus van Jesus te verkondig en dalk vir Agrippa na die Here te lei.

Wat Paulus vir koning Agrippa sê is eintlik net dít: “U is ‘n Jood en ken die Skrifte en weet dat die 12 stamme van Israel vir 1000e jare hulle hoop gevestig het op één enkele belofte van God en dit is dat die gesalfde Verlosser sou kom. Dat Hy sou ly, sterf en uit die dood opstaan en dáármee Sy mense red. Dit is alles vervul in Jesus van Nasaret. Dit glo ek en daarop vertrou ek. Is dit dan só ongelooflik dat God dooies kan opwek, o koning? Wel, ekself het dit voorheen ook nie geglo en verstaan nie. Ek het ook gedink Jesus was ‘n bedrieër en ek het probeer om Sy volgelinge uit te roei. Maar toe keer Hyself my voor op die pad na Damaskus! Ek sê vir u koning Agrippa: Jesus leef en Hy het aan my verskyn. Hy het duidelik vir my gesê: ‘Ek stuur jou om mense se geestelike oë te gaan oopmaak en hulle te laat omdraai van duisternis na die lig en van die mag van satan tot God.’ Dis presies wat ek gedoen het. Ek het begin preek dat mense tot inkeer moet kom en hulle tot die Here bekeer en dat hulle bekering vrugte moet dra. Want verlore mense se geestelike oë ís geslote en hulle leef in duisternis en onder die mag van satan. Maar Jesus het uit die dood opgestaan en dít maak mense vry.”

“Jy is totaal mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou stapelgek!” skreeu Festus vir Paulus. “Ek is nie mal nie, u edele Festus. Wat ek sê is 100% waar en dit is intellektueel verstaanbaar. Koning Agrippa, wat daar sit, weet alles van Jesus, want wat in Jerusalem gebeur het was voorbladnuus. Dit het nie iewers in ‘n hoekie gebeur nie! En dis presies wat al die profete voorspel het! Koning Agrippa, u glo mos die profete?” Agrippa besef hy is in ‘n hoek, want sê hy hy glo nie die profete nie, is die Jode kwaad. Sê hy hy glo die profete, sal Paulus vra waarom hy dan nie die knie voor Christus buig nie. Daarom kap hy terug: “Dink jy jy kan my in so ‘n kort tydjie oorreed om ‘n Christen te word?” Paulus antwoord: “Ek bid dat álmal kan ‘n Christen wees soos wat ek is – net sonder hierdie boeie.”

Waarby ons vanoggend nie mag verbygaan nie, is om die 3 prentebeelde/portrette te sien wat die Heilige Gees voor ons oë teken. Die 3 karakters, Festus, Agrippa en Paulus, is prentebeelde van die 3 tipes mense waaruit die ganse mensdom bestaan. Niemand is neutraal of in ‘n 4de of 5de groep nie. Letterlik álle mense resorteer in een van 3 groepe, waarvan Festus, Agrippa en Paulus so tekenende is. Dit bring skielik hoofstuk 26 skielik tot hier by óns. Al het baie dinge deur die eeue verander, die innerlike hart van die mens is steeds dieselfde. Jy sien die hele mensdom in hierdie 3 prentebeelde, vandag nog. Kyk net daarna:

1) FESTUS > Die Romeinse goewerneur wat geskree het: “Jy is mal, Paulus.” Festus was ‘n heiden en totaal onkundig oor die ware godsdiens. Al wat hy geken het was die heidense afgodsdiens so algemeen in daardie tyd. Kyk hoe verwys hy in 25:19 na die Judaïsme & Christelike Geloof wanneer hy met Agrippa praat: “twisvrae oor hulle godsdiens en ‘n sekere Jesus wat dood is van wie Paulus beweer dat hy leef.” U sien? Festus, die man wat godsdiens oorbodig ag. Dis vir die voëls, nie vir verstandige mense nie. Wat hom betref kan alle godsdienste ewe vals óf ewe waar wees. Elke mens bepaal self wat waarheid is. Festus lewe van Januarie tot Desember soos ‘n mens sonder ‘n siel. Hy weet nie van ‘n toekomstige lewe nie. Dit speel geen rol in sy beplanning nie. Hy moet net aandag gee aan homself en wat sigbaar en fisies is. Wat saak maak is eet, drink, slaap, aantrek, geldmaak & geldspandeer. Al wêreld om voor te voorsien is die wêreld wat jy met jou oë kan sien. Op Sondae lees Festus koerant en kuier by vriende en gaan besoek ‘n teater. Dis al dag vir laatslaap en rustig wees. Hy is so dankbaar dat die ou dae verby is waar alles op Sondae gesluit was. Enige gedagte aan dinge soos die dood, die eindoordeel of die ewigheid, gee hom rillings van afsku. Hy glo jy bemoei jou met die kerk wanneer dit jou pas of met belangrike seremonies soos troues of begrafnisse. Van uitreik na ander mense met die Evangelie, verstaan Festus absoluut niks. Daarom is Paulus – in sy oë – stapelgek. Wat ‘n verkwisting van kosbare lewensasem om soos Paulus te kere te gaan! Die beste is om vir jouself te leef en liewer ander mense met rus te laat. Die Festusse is steeds oral rondom ons op elke vlak van die samelewing. Hulle loop oral op straat, reis saam in die vliegtuig. Ons ontmoet hulle daagliks. Hulle is dikwels die netjiese sakemanne. Hulle beklee prominente professies. Hulle is goeie mense. Morele mense. Hulle is gaaf en vriendelik. Jy kom maklik met hulle oor die weg – solank jy net oor die godsdiens-onderwerp swyg. Die intellek en reg tot persoonlike opinie & vryheid is hul god. Geestelik blind. Lewe onwetende in duisternis en in die mag van satan self. Sien u die duidelike portret van die eerste soort mens wat so ‘n groot % van Kaapstad se bevolking uitmaak: Die Festusse. Die onkundige a-godsdienstiges. Dit is die eerste portret vd eerste segment vd mensdom.

2) AGRIPPA > Die man wat vir Paulus sê: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ‘n Christen maak.” Of soos in sommige ander vertalings: “Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word.” Ja, Agrippa het in vele opsigte van Festus verskil. Agrippa was ‘n Jood en hy was welbekend met die Here se Woord. Hy het die Woord geken & geglo. Hy het geweet van Jesus se kruisdood. Hy was geensins so onkundig soos Festus nie. Hy was ook aangegryp deur Paulus se woorde. Hy was tot ‘n mate innerlik oortuig. Maar, hy kon nie verder kom as dit nie. Hy kon nie tot aksie kom nie. Hy steek vas net buite die deur van die koninkryk. Hy is geensins negatief & afbrekend teenoor die Christelike Geloof of teenoor Paulus soos Festus is nie. Maar hy is verlam. Hy sien nie kans om vir Paulus te vra om hom te help om tot volle geloof in Christus te kom en tot volle oorgawe aan Sy beheer nie. Hy gryp nie die evangeliese uitnodiging aan nie. Hy sien nie kans vir bekering nie. Dalk vanweë sy vername posisie. Dalk vanweë sy liefde vir mense se lofprysing. Dalk vanweë sy skandelike verhouding met sy eie suster Bernice. Waarskynlik het daardie sonde hom vasgebind. Dis vir hom ondenkbaar dat hy met sy lieflingsonde sal moet breek. Hy sien nie kans om sy hand wat hom laat struikel af te kap óf sy oog wat hom laat struikel uit te pluk nie. Hy wou liewer met twéé hande verlore gaan as met een hand die koninkryk in. Intussen was hy dalk dankbaar dat hy darem nie so sleg soos Festus is nie. Hy is ook ‘n beter mens as vele ander wat hy ken. Hy gaan immers nog elke tweede Sondag kerk toe. En hy bewonder iemand soos Paulus. Hy betwyfel nie die Bybel nie. Hy hoop & beplan en streef daarna om ook eendag ‘n Christen te word. Hy hoop om eendag anders te word. Maar dis asof die regte tyd nooit aanbreek nie. Sien u die Agrippas van ons wêreld? Die mense wat positief is oor kerk, Bybel, Evangelie – maar besluiteloos bly! Godsdienstig-verlore. Daarom nie vredevol & gelukkig nie. Hulle weet te veel van die Evangelieboodskap om voluit gelukkig te wees in die wêreld en hulle is té verknog aan die wêreld om regtig seën te put uit die Evangelie. Nog vis, nog vlees. Die Agrippas in Kaapstad!

3) PAULUS > “Ek bid dat almal wat na my luister sal word wat ek is.” WORD WAT EK IS. Die taal van ‘n man wat 100% oortuig is en ontslae is van alle twyfel. ‘n Man wat die Waarheid ontdek het en daarop vertrou. ‘n Man wat die lewende Christus ontmoet het. ‘n Man van één saak. Hy het nie meer ‘n verdeelde hart nie. Dis die man wat elders geskryf het: “ek weet in Wie ek glo en dat Hy by magte is om my te behou tot die einde” (2 Tim 1:12) EN “ek is oortuig dat geen dood of lewe of engele of gevangenskap of magte of teenwoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige skepsel my sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus nie.” (Rom 8:38). Hy was ten volle oortuig van die feite van die Christelike Geloof. Dat die Here Jesus waarlik God in die vlees is, dat Hy ten volle die sondeskuld van die uitverkorenes betaal het, dat Hy uit die dood opgestaan het, dat Hy opgevaar het en dat Hy weer gaan verskyn. Die kernwaarhede van die Christelike Geloof het Paulus se hart beheers: dat alle mense totaal verdorwe sondaars is wat op pad is na ‘n gewisse ewige dood, dat Christus aarde toe gekom het om sondaars te red met Sy offerdood, dat almal wat hul bekeer en op Christus vertrou volkome vergewe word en vrede met God verkry. Paulus het ook geweet dat hyself totaal verander is deur die krag van die Heilige Gees en dat hy nou ‘n heilige/afgesonderde lewe leef, vol krag en blydskap en vrede. Hy was ook seker van die nuwe wêreld wat kom en dat dat hyself veilig was. En hoe het hy begeer dat alle mense dít sou kon bekom. Hy was voluit sendeling gewees! Begerig dat die Festusse & Agrippas tot redding sal kom. Dis die 3de portret: die prentebeeld van die verloste mens in Christus Jesus. Die 3de segment van ons samelewing. Ongelukkig by verre die kleinste segment. Die Festusse & Agrippas is orals, maar die Paulusse is min. Daar is MIN wat deur die smal poort gaan, sê die Heiland in Matt 7:14. En tog moet dit ons nie moedeloos maak nie, want die hele Bybel is vol voorbeelde van Festusse & Agrippas wat Paulusse geword het. Onthou: Paulus sélf was die mees onwaarskynlikste kandidaat om ‘n Paulus te word! Maar die genade van die Here is sterker as die mens se onmag. En, al is Paulus vandag by die Here in heerlikheid, leef sy verlosser hier by ons deur die krag van die Heilige Gees. Ons plaas nie ons hoop op Paulus nie, maar op Paulus se Here wat leef en deur Sy krag oral werk waar Sy Woord gehoor word – hier & nou. Só verander Hy met Sy opstandingskrag die Festusse & Agrippas en versterk Hy die Paulusse. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00