TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 31
Skrif: Handelinge 28
Tema: Die ongebonde Woord
‘n Mens frons darem behoorlik wanneer jy die laaste vers van die boek Handelinge lees, nie waar nie? Hoe kan só ‘n dinamiese boek só stomp eindig? Waarom voltooi Lukas nie die verhaal nie? Waarom word die uiteinde van die Apostel Paulus se bediening nie beskryf nie? Waarom hoor ons nie van sy verskyning voor Keiser Nero nie? Nou word daar net gesê dat hy vir 2 jaar in ‘n huurhuis in Rome gewoon het en sonder enige verhindering lering aangaande die Here Jesus Christus & God se koninkryk gegee het. Dis al. Net dit. Dis amper asof Lukas met opset sy verhaal laat eindig met ‘n oop einde. Dit eindig glad nie. Dit gaan aan en aan. Die prediking aangaande die Here Jesus gaan aan en aan.
En dit is presies die bedoeling van die Heilige Gees. Onthou u hoe het Handelinge begin en wat die as is waarom die hele Handelinge-wiel draai? Ja, 1:8 – waar die Here voor Sy hemelvaart sê: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees hier in Jerusalem asook verder in Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Die boek Handelinge beskryf hoe daardie woorde van die Heiland stelselmatig waar geword het. Die boek eindig waar die Evangelieboodskap in Rome (die wêreldsentrum van daardie tyd) weerklink. Daar eindig die Handelinge-verhaal, maar nie die verhaal van die uitbreiding van die Here se kerk oor die wêreld nie. Dit gaan steeds voort. Paulus sit steeds in boeie, maar die Woord is nie geboei nie. Die Woord neem sy snelle loop. Let op die laaste 3 woordjies: “sonder enige verhindering.” Dit lyk of Paulus vás is: Hy sit twee lange jare lank en wag tot die Keiser eendag besluit om hom te woord te staan. Hy is steeds onder arres. Maar, in daardie twee jaar, skryf hy die briewe aan die Kolossense, die Efesiërs en Filippense! En hy leer & onderrig die vele mense wat hom kom besoek. Dit mag lyk of Paulus geboeid sy dood sit en afwag. Maar moenie glo nie! Die Woord gaan uit! Dáárom die onvoltooide einde van hoofstuk 28 al lýk dit of dit stomp eindig. Die laaste versie van Handelinge loop as’t ware oor in die res van die NT – die briewe aan die gemeentes. En tot by óns vandag. Daarom is ons enigste roeping & taak om hierdie Woord te laat uitkring verder en verder. Dit is die rede waarom ons kerk van Christus is. Ons is nie eerstens kerk van Christus om boodskappies elke week te hoor nie, maar om die Evangelieboodskap by ander mense se ore en harte te kry – veral diegene wat nog steeds onbereik is. En namate onbereiktes bereik word, kring die Hand 1:8-sirkel weier en weier uit. O, mag die Here die visie & passie hiervoor kom lewendig maak in Tafelberg Gemeente! Handelinge 28 het ‘n oop einde. Nie ‘n stomp einde nie, maar ‘n oop einde. Dis die boodskap! Oral & te alle tye wanneer gewone kinders vd Here getrou is om die Evangelieboodskap te laat voortgaan, gaan Handelinge ook voort! En ons het so baie geleenthede. Soos iemand van ons gemeente nou die dag ‘n Telkomtegnikus laat luister het na ‘n stuk Woordverkondiging van ons gemeente se internet webblad. Die man het by hulle huis aan die telefoonlyn gaan werk en op die ou end na die Evangelie geluister. Of wat het verlede week gebeur toe dieselfde persoon op straat met ‘n klompie veiligheidswagte begin gesels en dit lei tot ‘n wonderlike geestelike gesprek en die uitdeel van Bybels aan sommige.
Dit is ook opvallend hoe die Woord die inherente krag besit om sélf ‘n pad oop te veg deur alle weerstand heen. Die weerstand omring die heeltyd die voortbewegende Woord, maar die Woord oorwin telkens en veg vir homself ‘n pad oop en behaal resultate. Kyk maar na die onbeskryflike weerstand wat die heeltyd vir Paulus omring. Die Here het vir Paulus gesê: “Jy móét in Rome gaan preek.” Maar omstandigheid na omstandigheid probeer dit verhoed. Eers word hy in Jerusalem gearresteer. Dan volg eindelose sinnelose hofsake. Dan word hy in Seserea toegesluit. Verder word hy byna deur die Jode vermoor. Toe verdrink hy byna in die Middelandse See toe die skip vergaan, ná die mislukte plan van die soldate aanboord om almal dood te maak. Toe hulle uiteindelik op die eiland Malta op droë grond kom, byt ‘n giftige slang hom aan die hand. En in Rome, hou die Keiser hom 2 jaar lank aan ‘n draadjie en hou hom gevange. En hoor wat sê die Joodse leiers van Rome vir Paulus: “So ver ons weet is daar oral teenstand teen hierdie rigting” (bedoelende die Christelike Geloof). Agter dit alles sit demoniese magte wat die vervulling van 1:8 wil verhinder. Eintlik is dit ‘n weerstand wat dwarsdeur die hele Bybel loop. Dink maar hoe die Egiptiese Farao die seuntjies laat doodmaak het om Moses te dood. Dink hoe Hamman die hele Joodse nasies wou uitwis in die tyd van Ester. Dink hoe Herodes die baba seuntjies laat doodmaak het om die pas gebore Christus uit te wis. Dink hoe die Joodse Sanhedrin (ná die uitstorting van die Gees) so byna die eerste prediking van die Apostels vernietig het. En nou: die finale aanslag om te verhoed dat Paulus in Rome uitkom.
Waarmee die bose nie rekening gehou het nie, is WIE die woorde van 1:8 uitgespreek het en WIE vir Paulus beloof het dat hy in Rome sal preek. Dit was die Koning van die Konings en die Here van die heersers. Daarmee het die bose nie rekening gehou nie! Daarom oorleef 276 mense wonderbaarlik die skipbreuk. Daarom affekteer die slanggif nie vir Paulus nie. Daarom is die barre heidene op Malta die skipbreukelinge so goedgesind en gaaf. Daarom genees die Here Jesus (deur Paulus se hand) die heidense Publius se pa wat aan maagkoors sterwend was. Daarom arriveer Paulus heelhuids in Rome – al is hy steeds in boeie. Daarom preek hy vir Jode en heidene vanuit sy huisie waar hy in aanhouding is. Daarom word sommige deur sy prediking oortuig & kom tot bekering. Daarom sê Paulus dat die nie-joodse nasies die evangelie sal hoor en dat húlle sal luister. Daarom kry hy 2 jaar tyd om sy briewe aan die gemeentes te skryf – briewe wat vir 2000 jaar lank die Here se wêreldkerk as foutloos-geïnspireerde Woord van God sou begelei. Waarom dit alles? Omdat die Woord nie geboei kan word nie, ten spyte van wátse teenkanting. Die Woord het vlerke. Die stroom van die uitbreiding van die evangelieboodskap in die wêreld gaan voort & sal voortgaan omdat dit God se trou is wat dit stukrag gee. ‘n Intelligente Christen sal sorg dat hy/sy deel van hierdie stroom is. ‘n Intelligente gemeente sal deel wees van die stroom. Om stroom-op te wees, benadeel net jouself grensloos. Bedink net wat ‘n bydrae Tafelberg Gemeente kan maak om sorg te dra dat duisende in die Kom van Kaapstad die Woord ontvang! Onthou: Handelinge het ‘n oop einde. Die Handelinge-verhaal gaan nog voort in 2008 in die stadskom van Kaapstad! Wat van ‘n groepie wat CD’s kan versprei? ‘n Ander groepie wat na die Bo-Kaap uitreik? ‘n Ander groepie wat naweke by Straatwerk inskakel? ‘n Ander groepie wat die massiewe onbereikte Woodstock-gebied as verantwoordelikheid neem? ‘n Ander groepie wat intersessie-gebed as taak neem? Iemand wat hier of daar leiding kan neem?
Tóg is daar – in samehang met wat reeds gesê is – ‘n dieper boodskap in Handelinge 28 verskuil. Ons moet dit vanoggend duidelik ontgin. Die Heilige Gees wys vir ons iets in Handelinge 28: die rede waarom ons op aarde bestaan – “ons” bedoelende: die ware Christene. Die rede vir ons bestaan – waarom ons hier is.
Ek wil vra dat elkeen nou baie mooi luister. Die diepste rede vir jou bestaan (waarom jy hier is) is nie die oorvloed van dinge waaruit jou daaglikse lewe aanmekaargesit is nie. Juis die rede waarom soveel welmenende volgelinge van Christus gespanne, depressief & siek is, is omdat hulle nie die werklike rede vir hul bestaan verstaan nie.
Kyk weer na Paulus: oppervlakkig gesien lýk dit of hy baie jare van sy kosbare lewe vermors. Pleks dat hy eerder ‘n vaste beroep beoefen, trou, ‘n gesinslewe geniet, geld maak, koers in die lewe kry! En tog, wanneer jy die briewe lees wat hy uit sy gevangenskap in Rome geskryf het, sien jy hoe ryk & vervuld sy lewe was. Lees byvoorbeeld Filippense, die blydskapsbrief. Dinge soos vreugde, vrede, geduld, tevredenheid, rus & vervulling maak sy lewe vol. Hoe kan dit dan wees? Dit is mos alles dinge wat jy eers ervaar wanneer jy uiteindelik alles het wat jy wil hê & wanneer alles uitwerk soos jy dit wil hê en jy die sport bereik het waarvoor jy mik?! Dan nie?? Allermins!
Paulus se geheim was dat hy die rede verstaan het waarom hy op aarde bestaan. En dit is: om ingeskakel te wees by die ratwerke van die groot wêreldplan wat die lewende God besig is om te voltrek. Pleks daarvan om selfgesentreerd te leef, het Paulus na buite gefokus. Sy lewensvervulling was dáárin geleë om die gewone lewe van elke dag net te gebruik as ‘n springplank om ‘n ánder doel te bereik, op ‘n hoër vlak van lewe te fokus. En dit is: ‘n Lewe wat ingeskakel is by God se wêreldplan. Die diepste sin van jou lewe op aarde is om onder die Here se wil/gesag te buig en om – deur ‘n lewe van selfverloëning – by Sý wêreldplan ingeskakel te wees.