TAFELBERG GEMEENTE
7 PROFETE IN 7 WEKE – NO 5
Skrif: Habakuk 1-3
Tema: Die boodskap van Habakuk
Hoe voel/reageer ‘n mens wanneer dinge nie gaan soos jy wil hê dit moet gaan nie? Teleurstellings. Jy word in die steek gelaat. Is dit nie só dat jy begeer dat die Here iets moet doen nie – en jy ‘n klompie waarom-vrae het nie? Wel, dit is min of meer ook Habakuk se gevoel, want sy volk – die Here se volk Israel – is in chaotiese toestand. Ons praat van ongeveer 630vC. Die afgodery was só erg dat die Here se mense selfs hul kinders geoffer het aan die afgode. Afgryslike goed het gebeur a.g.v. die mense se ontrou aan die Here. Geen wonder dat Habakuk skree: “Here, waarom laat U dit alles toe en doen niks nie?” ‘n Mens voel eintlik bietjie senuweeagtig vir Habakuk se part wanneer jy hoor hoe onbeskof hy met die Here praat. Hy skree byna verwyte na die Here se kant toe. “U laat my lewe tussen hierdie goddelose mense en U doen niks daaraan nie! Dis asof U slaap en niks sien nie.”
Dan antwoord die Here vir Habakuk. “Moenie bekommerd wees nie, Habakuk. Ek is van plan om My volk te tugtig. Vir díé doel gaan Ek die wrede en bose Babiloniërs as My instrument gebruik om Israel te tug. Hulle het die internasionale titel van “boewe”. Hulle ken geen wette nie. Ek is van plan om hulle te gebruik om jou klagtes aan te spreek. Moenie dink ek slaap nie. (1: 5-11). Die oordeel kom. Jy sal verstom staan oor hoe erg dit sal wees. Ek is heilig. Maar, daar is hoop vir individue: hulle sal die oordeel kan deurstaan indien hulle in geloof op My vertrou en getrou bly.”
Habakuk is egter glad nie gelukkig met die Here se antwoord nie (1:12-17). “Nee Here, U kan nie dit op só ‘n manier doen nie! Ek kan glad nie met U metode saamstem nie. Op die ou end gaan die Babiloniërs U oordeel vryspring en lekker lag. Indien ‘n mens die Babiloniërs sou kon vergelyk met ‘n visserman, dan is dit soos ‘n visserman wat ‘n goeie vangs gemaak het en dan oral loop en spog. Dis wat die Babiloniërs gaan doen. Hulle gaan U volk verwoes en dan daarin roem dat hulle gode hulle die goeie vangs gegee het. Dit sal net hulle goddeloosheid en ongeloof versterk! Op die ou end gaan húlle die laaste sê hê!” Hoor u hoe argumenteer/redeneer/protesteer die Here se profeet!
Nou is die interessante ding dít: wanneer ‘n mens die laaste klompie verse lees (3: 17-19), hoor jy die stem van ‘n totaal ánder Habakuk. Iets geweldig moes gebeur het. In die laaste verse: Blydskap/ tevredenheid/ rustigheid/ vreugde in die Here. Geen klagtes. Geen vuisbal teen die hemel. Geen waarom-vrae.
Hoe kan dit wees? Die Here het immers glad nie ingegryp en die omstandighede & wêreld rondom Habakuk verander tot ‘n beter plek nie. Al die eksterne fisiese faktore wat sy lewe so misrabel gemaak het, was nog steeds daar (3:17). Wat wél verander het, was Habakuk se hart/ gesindheid/ begrip. Wat op aarde sou so ‘n innerlike verandering by Habakuk veroorsaak het? Wel, dit is waaroor die middel-gedeelte van die boek handel – wat bestaan uit 2 toesprake. Indien ons dáárin insig kan kry, sal ons verstaan wat die verandering in Habakuk se binneste veroorsaak het. Die 2 toesprake is a) Die lewende God wat praat (hfst 2) en b) Habakuk se gebed (hfst 3).
1) Die Here se toespraak: Lees 2:2 ev. “Habakuk, jou vrees/beswaar is dat – indien die Babiloniërs My volk omverwerp – hulle net versterk sal word in hul afgodery & goddeloosheid & arrogansie en hulle die laaste gaan lag. Wel, dít moet jy besef: op die lange duur, is dit nie die meerderheid arrogante mense wat sal lééf nie, maar die minderheid wat aan My getrou was. Die arrogante mense sal veroordeel word. Die Babiloniërs sal nie die laaste sê hê nie. Hulle wat ander vernietig het, sal self vernietig word en beskaamd daarvan afkom. Daarteenoor sal die kennis van My regoor die wêreld versprei net soos die water die bodem van die see bedek. Die hele aarde is Myne. Jy is verniet bang. Die Here sit in Sy heilige tempel. Laat die aarde voor Hom swyg! Sien jy die groter/breër prentjie, Habakuk? Mý heerlikheid gaan op die ou end die aarde vul, nie die Babiloniërs nie! Jou probleem is dat jy net die hier en nou raaksien. Indien jy die groter prentjie sou sien, sou jy besef dat dít wat uiteindelik die deurslag gee, is geloofsvertroue wat op My gebou is, al is jy ook vérre minderheid.”
2) En dan Habakuk se gebedsreaksie in hfst 3 waaruit dit blyk dat hy iets omtrent God besef het wat hy nooit voorheen besef het nie. Eintlik is dit ‘n lied wat hy sing en hy begeer dat alle gelowiges dit saam met hom moet sing. Daarom die musikale aanwysers in die teks. Habakuk wil hê alle gelowiges van alle eeue moet ontdek wat die regte manier is waarop ‘n mens die oordeel van God tegemoet moet gaan. Want groot verdrukking gaan mos nog oor die hele aarde kom voor die wederkoms, het Jesus gewaarsku (Matt 24:21). Wat tot Habakuk deurdring, is dat die krag/mag van God ver bó/ baie groter is as enige ander krag in die wêreld. Die hele gebed van Habakuk is deurdrenk met ‘n besef van die mag/krag van God. Habakuk sien dit veral in die skepping, maar Hy wend Sy krag verál aan tot die voordeel van Sy mense se verlossing. Kyk byvoorbeeld na die geweldige openbaring van Sy mag in die 10 plae. Maar daardie plae het die verlossing van Sy mense uit Egipte ten doel gehad. Die Here is magtig én ingestel op die verlossing van Sy mense.
Maar waarom sou die besef van die Here se magtige krag Habakuk se bene laat bewe? Omdat – hy besef dat hy met sy besware & waarom-vrae voor hierdie ontsagwekkende God staan. En, in die lig van Sy grootheid, verdwyn die besware en klagtes. Want die Here beskik oor die groter prentjie. Daarom is dit die moeite werd om geduldig te wees en te wág op die aksieplan van Bo. U sien, die nuwe begrip van wie God is en wat Hy doen in die groter prentjie, dryf vir Habakuk om te reageer in die bekende woorde van 3: 17-18. Verse wat op baie yskasmagnete geskryf staan. “Ek sal geduldig wag totdat die dag van die oordeel kom oor die volk deur wie ons aangeval is. Intussen sal ek jubel in die HERE en juig in God my Redder TERWYL die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde is nie. En die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie. En daar geen kleinvee in die kampe meer oor is nie en die beeskrale leeg is. Terwyl al hierdie dinge so is, gee die Here vir my krag. Hy maak my voete soos díé van ‘n ribbok. Op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
‘n Mens moenie hierdie wonderlike geloofsbelydenis oppervlakkig kyk nie. Dit het niks te doen met ontkenning en die opsit van ‘n nagemaakte glimlaggie nie. Niks van: Ignoreer jou probleme & omstandighede en glimlag, nie. Probleem is: ‘n Mens se omstandighede is werklikhede! God se komende wêreldoordeel is óók ‘n werklikheid. Dit is baie dwaas om dit te onderdruk of onder die mat in te vee! Ons hoef nie al die dinge te ignoreer nie, maar dit in die regte perspektief sien en op die regte skaal plaas. Habakuk het sy ongemaklikhede begin sien teen die agtergrond van groter perspektiewe. Die rede waarom dit moontlik is om jou in die Here te verbly TERWYL die lewe hard is, is die groter prentjie van die magtige ewige verlossing van die almagtige Here.
Kernboodskap: Die Here sit nie en slaap terwyl biljoene mense goddeloos & onbekeerd leef en terwyl onreg botvier nie. Presies op die regte tyd sál die oordeel kom. Dán is dit net een soort mens wat behoue bly: die mens wat met die Here in die regte verhouding geleef het deur gelowig op Hom te vertrou. En wat beteken hierdie gelowige vertroue prakties? Om op Hom te hoop al gebeur wátter onverstaanbare dinge rondom jou. Prakties beteken dit om te jubel in die Here TERWYL die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde is nie. En die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie. En daar geen kleinvee in die kampe meer oor is nie en die beeskrale leeg is. Terwyl al hierdie dinge so is, gee die Here vir jou krag en maak Hy jou voete soos díé van ‘n ribbok. Dít is wat dit prakties beteken.
Vriende, ‘n mens moet in ‘n gekkeparadys lewe om nie te voel hóé relevant Habakuk se boodskap is nie! Jy moet in ‘n gekkeparadys lewe om nie soms te wonder wát dit is wat vir jou lewe i.p.v. dood sal bring in die eindoordeel. Jy moet in ‘n gekkeparadys lewe om nie soms doodsbenoud te wonder óf jy – indien jy vandag sou sterwe – vir ewig sal LEWE indien jy ‘n heilige God moet ontmoet. Ek het al mense gesien wat vol bravade is terwyl hulle gesond en aan die gang is, maar op hul sterfbed sweet & bewe wanneer hulle besef hulle moet binne ‘n baie kort tydjie met ‘n leeftyd se sondes voor ‘n heilige God gaan staan! Hoe kan ‘n mens in die Here jubel & juig wanneer jy besef jy staan op die drumpel van die dood? Regtig letterlik géén vye aan die boom nie! Hoe kan jy dán juig in die Here? Net een enkele manier: om die Nuwe Testamentiese volheid van Habakuk se boodskap persoonlik te ken. Die NT werp volle lig op Habakuk se boodskap van wat hierdie “geloof” behels: dit beteken om volledig op die Here Jesus Christus se kruisofferdood te vertrou en jou 100% om te keer na Hom. Dít het Habakuk nie gesien nie. Maar ons sien dit. Dis wanneer jy as sondaar toegevou is in Jesus se offerbloed, wat jy dwarsdeur God se eindoordeel sal gaan en bly lewe vir ewig. Want Hy het in jou plek gesterf. Bou bly nét die LEWE oor. Dis ook wanneer jy in Jesus se offerbloed toegevou is, wat jy kan aanhou juig al is daar geen oeste op die lande nie en die beeskrale leegstaan. Want jy weet jy is absoluut deel van die Here se groter prentjie, wat verder gaan as die hier-en-die-nou.
Luister na Romeine 8:1 : Daar is geen veroordeling vir dié wat IN Christus is nie.